Aan die tafel van die Koning

Vandag wil ek jou neem na ʼn baie aangrypende gedeelte, daar in 2 Sam. 9 waar Koning Dawid die volgende vraag vra: Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek wil hom graag onder my sorg neem ter wille van Jonatan.”

Dawid verwys natuurlik hier na die verbond en ooreenkoms wat hy met sy goeie vriend, Jonatan, gesluit het.

Dan hoor hy by Siba, ʼn amptenaar wat in Saul se diens was, van die kreupel seun van Jonatan, met die naam, Mefiboset.

Koning Dawid laat hom dan haal en dan lees ons in vers 6 van daardie hoofstuk die veelseggende beskrywing:

Toe Mefiboset seun van Saul se seun Jonatan by Dawid kom, het hy op sy knieë geval voor Dawid en gebuig. "Mefiboset?" vra Dawid. "Ek is u onderdaan," antwoord hy.

Vers 7: Dawid sê vir hom: "Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou teruggee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet."

Wow, watter prentjie is dit nie!

Hier het ons Mefiboset wat geweet het hoe sy oupa, Saul, hierdie nuwe koning Dawid, gehaat en vervolg het.

En hier word hy nou gehaal en gebring na die paleis van hierdie nuwe koning!

Ek sien in my geestesoog hoe Mefiboset, heelwaarskynlik die ene vrees met sy horrelvoete in die paleis van Dawid ingestrompel het. Net om te hoor: Van nou af sit jy aan die tafel van die koning!

Ek is oortuig dat ons hier een van die mees treffende prentjies in die Bybel het wat presies die hart van die Evangelie oor Jesus Christus, en wat Hy in die lewe van elkeen van Sy nuwe volgelinge kom doen het, raak teken.

Gewoonlik vertel ons dit vir mekaar in woorde soos: Jesus kom en red ons.

Maar miskien het dit tyd geword om dit ʼn slag in hierdie taal van 2 Sam. 9 uit te spel.

Veral aan mense wat vasgevang sit in ʼn gees van armoede en minderwaardigheid. Of aan mense wat vir jare vasgevang gesit het in godsdiens en tradisie.

Wat godsdiens en tradisie doen is dat dit jou nooit toelaat om aan die Koning se tafel te sit nie, want jy hoor heeltyd daar dat jy net nie goed genoeg is nie.

Hier lees ons van iemand wat twee horrelvoete gehad het, maar nie net dit nie. Want as jy net ʼn bietjie verder lees, dan lees jy ook van ’n horrel-gees wat hierdie ou in homself gehad het.

Hy het selfs nadat die koning hom uitgenooi het na die paleis toe, na hoeveel dae wat hy daar aan die tafel gesit het, nog steeds nie gevoel hy is goed genoeg nie.

Ek sê altyd: Hy sou werklik in die Amakroka-kroka-span gespeel het as hulle destyds Olimpiese spele toe gegaan het!

Maar God gee koning Dawid opdrag om hom paleis toe te bring sodat hy aan sy tafel kan kom sit en van die oorvloed daarop elke dag kan eet.

Nie net dit nie, hy kry ook sy oupa, koning Saul, se grond terug en boonop gaan daardie grond voortaan namens Mefiboset, deur die dienaars van Saul wat nog oor is, bewerk word.

Soos ek gesê het, watter prentjie van die boodskap van die Evangelie is dit nie! Jesus kom aarde toe. Ons is verlore en sondig - met horrelvoete, horrelhande en met ʼn horrel-gees in ons.

Ons het van gees-mense in vlees-mense verval. En dan kom Jesus en rig ons op en verander ons lot, sê Ps. 126.

Maar tog, net soos Mefiboset, tenspyte van alles wat die Evangelie ons vertel wat Jesus klaar vir ons gedoen het, probeer sommige nog steeds volgens die reëls van godsdiens lewe. Hulle probeer steeds self goed genoeg wees, reg lewe, goeie mense wees, genoeg bid en Bybel lees, groot genoeg tiendes gee en al die wette gehoorsaam. Deur die week sloof hulle hulself af en werk soos slawe, want hulle glo steeds wat die wêreld om hulle vir hulle sê, naamlik dat hulle net hulleself het om die ding vir hulle en hulle kinders te doen. Alles hang van hulleself en hulle eie “effort” af.

En hulle glo nie wat die Skrif sê dat ons in Christus Jesus toegang het tot die heerlikheid van God nie. Hulle glo nie dat ons as volgelinge van Jesus kinders van die Koning van alle konings is, wat toegang het tot die tafel van die Allerhoogste nie.

© Christo Nel 2017