Blog

Wat erf ons presies?

Dit is wonderlik om te sien watter beelde of metafore die Bybel gebruik om ons te help om presies te verstaan wat ons erf in terme van die bepalings van die nuwe testament of nuwe verbond.

Een van hierdie beelde is dié van “verlossing”, of “bevryding”, of “genesing”.

(In die Grieks kan die Griekse woord wat die mees algemeenste in hierdie verband gebruik word met al hierdie woorde vertaal word, afhangende van die konteks.)

Ons was gevangenes, in ʼn tronk en totaal magteloos teenoor die een wat in beheer was, maar nou erf ons as gelowige volgelinge van Jesus die merkwaardige wete dat ons verlos, bevry en genees is.

Ons was bankrot, maar nou is ons skuld te volle betaal.

Ons was dodelik siek, eintlik reeds dood, maar nou is ons genees.

Christus Jesus het immers gesterf en opgestaan. Nou erf ons LEWE.

Kom ek probeer dit op nog ‘n paar ander maniere sê.

Die magte wat die mensegeslag deur die eeue na die sondeval gebind het, se mag is gebreek in ons lewens as gelowiges. Sonde, die duiwel en die dood se houvas oor ons is gebreek.

Ons is bevry, los, om vir die eerste keer in hoofletters te kan leef.

Hoor hoe sê Paulus dit daar in Ef. 1:6: ”Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God”.

Watter goeie nuus is dit nie!

Hoe goed ken ons nie die mag van sonde nie!

• Die verwoestende gevolge daarvan besmet immers elke dag elkeen van ons se lewe, elke verhouding waarin ons is, elke gemeenskap waarin ons woon, en die totale skepping rondom ons. Sonde het alles tot in die DNA daarvan siek gemaak en ‘n karikatuur van gemaak in vergelyking met wat God eens daarmee bedoel het. 

• Dan ken ons ook die krag van satan en sy demoniese magte, maar ook sy verleiding en die houvas wat hy op mense en dinge het.

• Ons ken almal die bitter finaliteit van die dood. Die meeste van ons worstel die een of ander tyd in ons lewe met vrees vir sy donkerte. En almal van ons het gerou en trane gestort wanneer sy spore deur ons familie en vriendekring se lewens geloop het.

Al hierdie gesigte en gestaltes van sonde, en die mag en krag van sonde, ken ons maar te goed. Maar nou kan ons as Christelike gelowiges wat hulle erfenis in die lig van die nuwe testament verstaan, bely:

“Hoe julle ons ook al wil bind en skade berokken, julle houvas is verbreek!

Ons skuld is betaal.

Vir die sonde-siekte in ons are is ‘n teëmiddel ontdek.

Die tronkdeure is oopgesluit en selfs die dood het nou vir ons net ‘n deur geword na ‘n ander stuk van die ewige lewe wat ons deel geword het in Jesus.

Ons is nou in Jesus Christus vry.

Om selfs nog meer vry te word.

Ons is genees, om selfs nog verder gesond te word.

Ons skuld is betaal, sodat ons nou kan leer om nie weer skuld te maak nie.

Daarvoor het God Sy Gees gegee om in ons te woon.

Om ons hierin verder te begelei en te leer.”

Volgende keer gesels ons verder oor die rol van die Heilige Gees in ons verstaan van die inhoud van die nuwe testament.

Jy word ʼn erfgenaam deur te glo in Jesus Christus


Dwarsdeur Handelinge en briewe van Paulus, lees ons van hoe Jesus se dood, die oop graf, en Sy opstanding uit die dood, die hart word van die goeie nuus wat gelowige volgelinge van Jesus aan almal wou oorvertel.

Almal van hulle vertel jou van hulle geloof dat hulle die gekruisigde Jesus as ʼn lewende en opgestane Jesus persoonlik ontmoet het.

Hulle het dit nie net geglo nie. Hulle was selfs bereid om vir hierdie geloof van hulle te sterf as dit moet.

Dit was wat hulle hele lewe verander het.


Die inhoud van die nuwe testament

Dit is ook wat my en jou lewe verander het, en wat maak dat ons nou hier kan sit en gesels oor die inhoud van die nuwe testament/verbond waarvan ons as gelowige volgelinge van Jesus nou erfgename geword het.

Luister net hoe spel Paulus iets van die inhoud van ons erfenis daar in Ef. 1:3 tot 14 uit. Kom ek haal dit vir jou uit die Amplified Bible aan, wat dit vir ons sommer makliker maak om so met die eerste lees daarvan te verstaan wat hier staan.

Tog wil ek vir jou vra om dit stadig en selfs twéé keer ten minste te lees (al dink jy jy weet wat daar staan).

Onthou, dit is God die Gees, wat hier as prokureur, vir jou uit die testament voorlees wat jy in Christus Jesus GE-ERF HET!


Ef. 1:3-14 (Amplified Bible)

“Blessed and worthy of praise be the God and Father of our Lord Jesus Christ, who has blessed us with every spiritual blessing in the heavenly realms in Christ,

4 just as [in His love] He chose us in Christ [actually selected us for Himself as His own] before the foundation of the world, so that we would be holy [that is, consecrated, set apart for Him, purpose-driven] and blameless in His sight. In love

5 He predestined and lovingly planned for us to be adopted to Himself as [His own] children through Jesus Christ, in accordance with the kind intention and good pleasure of His will—

6 to the praise of His glorious grace and favor, which He so freely bestowed on us in the Beloved [His Son, Jesus Christ].

7 In Him we have redemption [that is, our deliverance and salvation] through His blood, [which paid the penalty for our sin and resulted in] the forgiveness and complete pardon of our sin, in accordance with the riches of His grace

8 which He lavished on us. In all wisdom and understanding [with practical insight]

9 He made known to us the mystery of His will according to His good pleasure, which He purposed in Christ,

10 with regard to the fulfillment of the times [that is, the end of history, the climax of the ages]—to bring all things together in Christ, [both] things in the heavens and things on the earth.

11 In Him also we have received an inheritance [a destiny—we were claimed by God as His own], having been predestined (chosen, appointed beforehand) according to the purpose of Him who works everything in agreement with the counsel and design of His will,

12 so that we who were the first to hope in Christ [who first put our confidence in Him as our Lord and Savior] would exist to the praise of His glory.

13 In Him, you also, when you heard the word of truth, the good news of your salvation, and [as a result] believed in Him, were stamped with the seal of the promised Holy Spirit [the One promised by Christ] as owned and protected [by God].

14 The Spirit is the guarantee [the first installment, the pledge, a foretaste] of our inheritance until the redemption of God’s own [purchased] possession [His believers], to the praise of His glory.”

Kou ʼn bietjie hieraan daar aan die voete van Jesus.

Neem elkeen van hierdie “geskenke” en bekyk dit asof jy dit vir die eerste keer sien en hoor, en sê vir die Here dankie daarvoor.

Beloftes oor ʼn nuwe verbond

Die nuwe verbond of nuwe testament wat in werking gekom het na Jesus Christus se dood, was alles deel van God se groter verlossingsplan van die begin af, van voor die skepping af.

Onder die inspirasie van die Gees openbaar God die plek van die ou verbond of ou testament, wat al 613 wette van die Tora insluit, aan ons binne die geheel van die groter verlossingsplan as Hy Paulus inspireer om dit so te verwoord daar in Gal. 3:24:


Die Ou Wet as Tugmeester na Jesus toe

In die KJV word dit so vertaal: “Therefore the law was our schoolmaster to bring us unto Christ, that we might be justified by faith.”

Die Message-vertaling interpreteer die woorde in die Grieks so: “ The law was like those Greek tutors, with which you are familiar, who escort children to school and protect them from danger or distraction, making sure the children will really get to the place they set out for.”

Soos Paulus vele kere daar in die brief aan die Romeine skryf, gebruik God die Tora-wetgewing om prakties deur ervaring vir Sy mense te leer hoe totaal sondig en tot niks in staat hulle is nie.

Op geen manier kan hulle ooit honderd persent die Ou Wet gehoorsaam om God so tevrede te stel nie.

Die ou Tora-wetgewing, of ou testament, se doel is dus om die volk van God vanouds, te laat ontdek hulle het ʼn Verlosser nodig.

Dit was dus waarom ʼn Messias-Verlosser moes kom, wat in die woorde van Jes. 53, die finale offerlam sou word om ons sondes en die straf daarvan, weg te neem sodat ʼn Heilige God ons kan vergewe.


Profesieë vertel reeds van die nuwe testament/verbond

Weet jy dat die beloftes van ʼn nuwe testament of nuwe verbond reeds in die Ou Testament profeties belowe word? Dit was van die begin af dus deel van God se oorspronklike verlossingsplan vir die mens.

Kom blaai saam met my na twee van hierdie gedeeltes daar in Jer. 31:31-34 en Eseg. 36:24-28.

Ek haal so ʼn paar verse hier en daar vir jou hier aan:

• Jer. 31:31 e.v.: “Daar kom ʼn tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ʼn nuwe verbond sal sluit... Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. ʼn Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.” 

• Eseg. 36:24 e.v.: "Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”


Dit is waarom 'n wedergeboorte nodig is

Hier word die hart van die Evangelie reeds vir ons uitgespel, naamlik dat God elkeen wat Jesus as die Finale Offerlam gaan aanvaar in die geloof, nuut maak en wederbaar.

Ja, dit is nodig om hulle heeltemal, van vooraf, nuut en oor te maak (wat die woord “wederbaar” immers beteken).

Hulle was immers dood as gevolg van die sonde wat letterlik in hulle DNA van geslag tot geslag oorgedra word, maar ook as gevolg van die keuses wat elkeen van hulle self maak.

Daarom is dit nodig dat die Heilige Gees, God self, hulle gees nuut en lewend maak, wanneer hulle in geloof Jesus Christus aanvaar as Verlosser en Here. In Jesus gaan hulle dus letterlik ʼn nuwe lewe ontvang.


Dit is ook waarom die Gees self in ons kom woon

Maar, behalwe dit alles, gaan God en dus Jesus self (as die Seun), in elkeen van hulle se lyf kom woon deur Sy Gees, om voortaan hulle Nuwe Wet self te word.

God gaan dus self, deur Sy Gees, vir hulle in detail wys en sê wat Sy wil vir hulle lewens is.

Hulle wet gaan nie meer ʼn Tora op kliptafels wees nie.

Hierdie nuwe testamentiese era het aangebreek en deel van God se mense se erfenis geword, toe Jesus gesterf en opgestaan het uit die dood. Dit is alles deel van die Evangelie of goeie nuus rondom Jesus Christus.

Sonder hierdie deel van die Evangelie nie, is daar nie sprake van enige goeie nuus nie en het ons niks sinvols om vir mense te vertel as Christene nie.

Hiersonder was die Bybel en Christen-gelowige-wees maar net nog ʼn klomp wettiese reëls en was ons geloof maar net nog ʼn bygeloof soos al die ander gelowe.

ʼn Nuwe Verbond


Wat is die hart van die inhoud van die nuwe testament of nuwe verbond?

Om die Evangelieboodskap van die Nuwe Testament werklik te verstaan, moet ons verstaan wat die hart van die nuwe testament of nuwe verbond wat met die dood van Jesus Christus in werking gekom het, verstaan. Mis jy dit, sit jy maar weer met ʼn tipiese wettiese godsdienstige boodskap.

Die “testament” waarvan hier sprake is, is die tipiese testament wat ek en jy opstel vir wat na ons dood moet gebeur en hoe dit wat ons nalaat, verdeel moet word aan diegene wat genoem word in die testament.

In die Nuwe Testament is dit presies wat “testament” of “verbond” in die uitdrukking “nuwe testament” of “nuwe verbond” beteken.

Dit is waarom Heb. 9:16 en 17 sê: “Dit is soos met ʼn testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, want ʼn testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie.”

Dit is dus baie belangrik vir ʼn regte verstaan van die Nuwe Testament se inhoud om dus in die Bybelse historiese tydlyn te onderskei tussen die tyd wat Jesus op aarde was en die tyd na Sy dood.

Gedurende Sy lewe op aarde, het die ou testament of ou verbond, met die Wet/Tora en 613 bepalings dus nog voluit gegeld en moes Jesus dit in detail gedurende Sy lewe gehoorsaam en nakom.

Toe Jesus gesterf het, die 9de April 32 n.C., daardie dag het die nuwe testament of nuwe verbond met sy bepalings van krag geword.

Dit is waarom Heb. 9:15 sê: “Daarom is Hy ook die Middelaar van ʼn nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.”

Ons het dus logies hierdie twee periodes in die geskiedenis: die een voor die dood van Jesus Christus en die ander na die dood van Jesus Christus. En hierdie belangrike onderskeid help ons om werklik die boodskap van die kruis van Jesus werklik te verstaan.

Onder die ou verbond of ou testament, waar die Tora of wet van Moses voluit gegeld het, was daar nie sprake van vergifnis van sonde sonder die vergieting van bloed nie.

Heb. 9:22 spel hierdie beginsel so uit: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.”

Aangesien ons almal vandag na die kruisgebeure lewe, gesien vanuit God se historiese tydsperspektief, leef ons dus almal in die een van die nuwe testament se bepalings of nuwe verbond-era.

Hier geld die bepalings van die nuwe testament of nuwe verbond wat bepaal dat God nie meer die sondes onthou van diegene wat die kruis van Jesus en die betekenis daarvan vasgegryp het in geloof nie.

Luister wat Heb. 10:16 tot 18 hieroor sê: “’Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit’, sê die Here. ‘Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.’

Dan sê Hy verder: ‘Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.’

Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.”

Omdat God ons sondes as gelowiges vergewe op grond van die dood van Christus Jesus vir en namens ons, is daar geen offer meer vir sonde nodig nie.

Daarom sê 1 Joh. 1:9 vir ons: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons van die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Jesus hoef dus nie weer te sterf vir ons sondes vir God om ons te kan vergewe nie. Hy het eens en vir altyd klaar daarvoor gesterf.

Dit is die goeie nuus van die Evangelie!

En moenie vergeet wat God ons, en Sy Joodse volk, geleer het onder die ou verbond nie! Daar het Hy ons geleer deur ervaring dat ons op geen manier die hele wet kan gehoorsaam en Hom dus op die manier kan tevrede stel nie.

Daarom is God se vereiste vir ʼn lewe onder die bepalings van die nuwe verbond of nuwe testament, dat ek en jy die “nuwe lewe en dit in oorvloed” ontvang en kan beleef, solank ons in geloof God se Woord in die verband aanvaar, naamlik dat Jesus dit alles reeds vir en namens ons bewerk en moontlik gemaak het.

Onthou dus hierdie onderskeid tussen die tyd voor en na die kruis van Christus Jesus. En wees dus baie versigtig om na allerlei leringe te luister wat nie hiermee rekening hou nie.

© Christo Nel 2017