Blog

Ons is begenadig en vrygemaak


Lees asb., Gal 1:1-24 om te verstaan wat ek in hierdie gedeelte met jou oor wil gesels.

Het jy geweet dat die eerste boek/brief van die Nuwe Testament, soos ek en jy dit vandag ken, destyds deur Paulus om en by 49 n.C. juis hierdie brief aan die gelowiges in Galasië was?

Die rede waarom Paulus hierdie brief geskryf het, was omdat Paulus en van die ander Christenleiers die heeltyd moes keer vir hulle paaltjies oor die sake wat Paulus in hierdie brief aanspreek.

Die moeilikheid het begin toe ʼn klompie erg patriotiese Joodse Christene uit Jerusalem die Christene in die nuwe gemeentes in die suide van Galasië besoek en met allerlei leringe verwar het.

Hulle het onder andere gesê Paulus verkondig ʼn halwe Evangelie, want hy leer nie die nuwe Christene uit die heidendom om steeds die Ou Testamentiese wetgewing te gehoorsaam nie.

Ja, sê hulle verder, kan jy glo dat hy selfs vir hulle leer dat die pasgebore babaseuntjies nie meer besny hoef te word nie!

Dit terwyl hy nie eers werklik een van “die oorspronklike twaalf apostels” was nie!

Al hierdie dinge hoor Paulus so met ʼn ompad terwyl hy besig was om ʼn bietjie te rus in die gemeente in Antiogië in Sirië, na al sy reise.

As Christenleier kan ek my so identifiseer met hoe Paulus gevoel het toe hy van al hierdie verwarring en ongelukkigheid gehoor het wat onder van sy “geloof-babas” geheers het!

As dit vandag met van my “geloof-babas” vandag sou gebeur, spring ek op die telefoon en sorteer dinge uit, of spring in die kar of op die vliegtuig, om binne ʼn dag of twee persoonlik daar by hulle te wees om die vure dood te slaan (wat ek al so ʼn paar keer moes doen!).

Arme Paulus kon net gaan sit en ʼn brief skryf aan die betrokkenes, wat hy daarna so vinnig moontlik na die betrokke gemeentes laat stuur het, met die opdrag dat dit daar in die byeenkomste van gelowiges gelees sal word.

Goddank, daarvoor!

So ontstaan daar onder die inspirasie van God se Gees, die eerste stuk Christelike literatuur uit die vroeg-Christelike kerk.

En so gebeur dit dat ek en jy vandag tussen die 27 Nuwe Testamentiese boeke, ook Paulus se brief aan die Christene in Galasië kan hê, wat seker een van die mees monumentale stukke Woord is teen enige vorm van wettisisme en godsdienstigheid.

In hierdie brief lei God se Gees Paulus om elke argument te beantwoord wat hierdie Joodse opstokers, of Judaïseers soos hulle meestal genoem word, destyds gebruik het om die gelowiges in Galasië mee te oortuig om weer die wet van Moses in detail te gehoorsaam.

Tussen hierdie antwoorde deur, formuleer Paulus dan ook die troos van die Evangelieboodskap teenoor elke vorm van wettisisme.

Omdat so baie van die Christene in die suide van Galasië destyds arm was en baie van hulle of hulle familielede slawe was, gebruik Paulus beelde wat hiermee verband hou as hy vir hulle uitspel dat ons nou in Christus “vrygemaak is van die wet”.

Hy herinner hulle weer daaraan hoe ons God se kinders geword het.

Soos wat ʼn uitgehongerde bedelaar met leë hande dit wat vir hom in genade aangebied word, sal vasgryp, so het ons in geloof die volkome verlossings- en heiligingswerk van Christus Jesus aan die kruis en deur die opstanding heen, vasgegryp.

Dit is mos wat geloof is. Ons het immers niks om aan te bied in ruil vir hierdie genade nie.

Wanneer ons dit dan doen, hoor ons hoe die lewende God vir ons sê: Jy is Myne! Jy is My kind, en daarom ook mede-erfgenaam van die keur van My seëninge! (Gal 3)

Watter genade! Watter Godswonder!

Volgende keer gesels ons verder oor Galasiërs se inhoud.

Dit is volbring!


Hand. 15:1-35

Lees weer ʼn keer die gebeure daar in Hand. 15:1-35.

Die worsteling waaroor dit hier gaan in hierdie gedeelte, handel oor vrae soos: Wat is die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament in die lig van die volbragte werk van Christus Jesus aan die kruis en deur die oop graf? Moet Christene hulleself nog hou aan bepaalde wetgewing en reëlings wat God destyds van Sy Ou Testamentiese volk gevra het?

Dink maar net byvoorbeeld aan hoeveel kere in die Ou Testament het God Sy Ou Testamentiese volk verbied om intieme vriendskapsverhoudings te hê met lede van ander volke en nasies. Daarom was dit in die vroeg-Christelike gemeente ʼn vraag: Geld dit nog vir God se mense wat Christus Jesus as Verlosser en Here aanvaar het?

En wat van die besnydenis?

Dit was die soort vrae waarmee die jong Christendom, wat in Handelinge 15 beskryf word, geworstel het.

Soos ek laas aangedui het, was dit nie maklike vrae vir die jong Christendom in 49 n.C. om te beantwoord nie.

In Galasiërs lees ons hoe hierdie worsteling selfs onder die leiers in die vroeë Christendom telkens “skermutselings” veroorsaak het.

Kom ek laat Paulus self vir jou vertel wat tussen hom, Petrus en Barnabas gebeur het in die gemeente in Antiogië net voordat hulle saam Jerusalem toe is vir die vergadering waarvan Hand. 15 ons vertel.

Gal. 2:18-3:5

In Gal 2:18 tot 3:5 vertel hy dit so:

“Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep.

Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: ‘Jy is ʼn Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ʼn Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?’

Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. En tog weet ons dat ʼn mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo.

Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie…

... Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Ek verwerp nie die genade van God nie. As ʼn mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang!

Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie!

Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo?”

Gal. 3:23-29

Dan vervolg hy in Gal 3:23 tot 29: “Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek.

Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word.

Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Ek is so bang jy het sommer net alles wat hierbo staan, oorgeslaan, want dit is ʼn mondvol!

Maar ek wil jou met groot erns vra om dit tog stadig en behoorlik deur te lees, want dit is nou werklik Bybelse “nuwe wyn” wat elkeen van ons mondjie-vir-mondjie moet proe-drink.

Rol dit om en om in jou hart en gees sodat nie een deeltjie van die lewensgeur wat hierin opgesluit is, verlore sal gaan nie.

Daarom wil ek nou terugstaan en God se Gees vertrou om hierdie Woord-openbaring self vir jou oop te breek.

'N SPESIALE UITGAWE - LAAT DIE KONINKRYK VAN DIE HEMEL IN HUWELIKE DEURBREEK!

Skrifgedeeltes: 

Jou Koning se mening oor die Huwelik kry jy in Mat. 19:4 tot 6 en Ef. 5:21 tot 32

Onthou, die huwelik is ʼn langtermyn belegging. M. a. w. as die “mark” op en af gaan en deur turbulensie gaan, en ek die “aandele” vertrou wat ek gekies het, spring ek nie sommer uit nie.

Nee, ek byt vas en bly belê in daardie aandele. Veral as hulle afgaan, want dan “koop ek goeie aandele teen ʼn goedkoper prys”.


Hier is 5 maniere om goeie aandele te koop in die huwelik.

Die 5 bene van die huwelik is: Emosioneel, Geestelik, Fisies, Finansieel, Denke.


1. Emosioneel – Spandeer 10 minute om net op mekaar te fokus. Al moet julle binne ʼn klerekas gaan wegkruip vir die kinders en vir die selfoon, moet julle 10 minute net op mekaar fokus as man en vrou. Sê vir mekaar hallo, hoe was jou dag, hoe gaan dit met jou, wat was ʼn hoogtepunt en wat was ʼn laagtepunt. Kom net by mekaar uit aan die einde van elke dag. 10 minute. Net vir julle. Sonder onderbrekings. Dit is jou emosionele belegging elke dag in julle huwelik.

2. Fisies – Hier gaan dit oor die fisiese belegging in julle huwelik. Verminder die sentimeters tussen julle. As julle TV, sit ʼn bietjie nader aan mekaar. As julle stap, stap nader aan mekaar, of vat selfs hande. Ja, ek weet party mense het meer spasie nodig as ander. Respekteer jou maat se spasie. Maar dit is altyd belangrik om as huweliksmaats naby mekaar te beweeg en fisies kontak te hê. Hier is jou kans om elke dag jou maat vir 6 tellings saggies te soen! Of sommer net vir 30 sekondes vas te hou in ʼn liefdevolle omhelsing.

3. Finansieel – Jy moet ook finansieel begin belê in jou huwelik. In julle begroting moet daar ʼn item wees: “Date night”, of Vir Ons huwelik. Ons regverdig mos alle uitgawes as dit op die Begroting staan, maar ons begroot nie spesifiek vir Ons Huwelik nie. Van nou af gaan ons dit doen. Gun julle self daardie uitgaan-aand, of ʼn pizza saam, of ʼn nuwe boek oor die huwelik.

4. Die volgende een is ʼn belegging in julle Denke – Hier gaan dit oor wat jy dink oor jou huwelik. Ons sê mos altyd: As jy dink jy kan, dan kan jy. Maar as jy dink jy kan nie, dan kan jy nie! Begin lewe bedink oor jou huwelik. En begin dit ook uitspreek en bely met wat jy sê met jou mond. Begin ʼn bietjie vir jouself positiewe dinge in jou gedagtes sê oor julle huwelik en oor jou man/vrou, soos: Ons huwelik is wonderlik! My man/vrou is “cool”! (Ja, selfs al is dit nog nie heeltemal waar nie!. Ek waarborg jou, as jy dit vir 21/42/63 dae aanmekaar begin dink en sê, gaan jy verstom staan hoe jou huwelik en huweliksmaat ʼn totale positiewe metamorfose gaan ondergaan!) Begin vir jouself sê: Wow, ek is geseënd met ʼn wonderlike huwelik en huweliksmaat! Ek is werklik gelukkig getroud!

5. Geestelik – Begin vandag bid vir jou huwelik, elke dag! En bid elke dag van die week oor ʼn ander aspek van julle huwelik. Maandag kan jy dalk begin bid vir beter kommunikasie; Dinsdag kan jy bid vir beter en meer bevredigende seksuele kommunikasie; Woensdag kan jy dankie sê vir die hoogtepunte in julle huwelik, en bid vir die laagtepunte; Donderdag kan jy sommer vir alles dankie sê waaroor jy so dankbaar is in julle huwelik; Vrydag kan jy bid vir opwinding en daardie iets nuuts en sprankelend wat nodig is in julle huwelik; Saterdag kan jy bid vir daardie lank, gelukkige lewe saam met jou maat; En Sondag kan jy bid vir daardie noodsaaklike geestelike groei in albei van julle se lewens. Begin bid vir die detail van julle huwelik.

Miskien kyk en lees jy dit alles en sê vir jouself: Ag nee, vir ons gaan dit nie help nie. So gemaak en so laat staan! Vir ons gaan dit nie meer help nie. Ons is al lank in hierdie ding en het al baie dinge oor die jare geprobeer, maar niks het regtig gehelp nie. Nie een van ons is regtig bereid om te verander nie!

Of miskien voel jy dat daar nie regtig soveel fout is met julle huwelik dat julle nou “ al hierdie moeite” moet doen nie!

Ai, ek ken albei hierdie argumente. Maar ek wil jou aanmoedig en hoop gee, want daar is regtig ʼn manier hoe dinge anders, beter, lekkerder, in julle huwelik kan wees!


En hierdie webblad en die video’s op hierdie webblad gaan jou help om dinge te verander en beter te laat word!

S A - Huweliksweek se skakel - http://sahuweliksweek.co.za

En die YOUTUBE-kanaal: YOUTUBE-video hieroor - https://www.youtube.com/channel/UCSe4DBnB7UR0vuI1NZVAOFw

Hier gaan jy byvoorbeeld leer om met ʼn eenvoudige 3-stap-metode in 30 minute enige krisis of probleem sinvol te kan hanteer en oor te gesels.

Hier is die skakel na hierdie video toe: Hoe om enige probleem op te los in 30 minute

Kom, vat ʼn kans! Begin by die 5 praktiese dinge hierbo en kyk en beleef vir jouself dat jou huwelik die mees bevredigende, gelukkigste verhouding kan wees wat jy met enige ander mens op hierdie aarde kan hê.

Niks nuut onder die son nie

Lees ʼn bietjie Hand. 15:1-35 vooraf self, want dit is te lank vir my om hier aan te haal.

Daar is niks nuuts onder die son nie, het die Spreuke skrywer gesê. So verstom ek my daaraan hoe dieselfde moeilikheid telkens met verskillende baadjies aan, vandag nog onder gelowiges in die Liggaam van Jesus voorkom. Dit is asof ons net nie uit die Skrif uit ander gelowiges se moeilikhede kan leer nie. Telkens kry die vyand dit maar net weer reg om goedgelowige gelowiges met leuens of halwe waarhede te verwar.

Die uiteinde is elke keer ellende, seerkry, frustrasie en onmin.

So stuit die vyand maar net weer die geloofsgroei van die betrokke gelowiges in daardie areas van hulle geloofslewe vir ʼn periode.

Maar prys die Here vir Sy getrouheid en vir Sy belofte dat Hy die werk wat Hy in ons begin het, sal voleindig! (Fil. 1:6)


Handelinge 15

Handelinge 15 vertel vir ons van een van die groot worstelinge wat in die vroeg-Christelike gemeentes voorgekom het om en by 49 n.C.

Ons lees daarvan in Hand. 15:1 en 2 as daar staan: “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.’ Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in ʼn heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog ʼn paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk.”

As jy vinnig jou somme maak, sal jy sien dat sowat 17 jaar reeds verbygegaan het sedert die kruisiging en opstanding van Christus Jesus, gevolg deur, vyftig dae later, die geboorte van die eerste Christelike gemeente daar in Jerusalem op Pinksterdag 32 n.C.

Die Christendom was dus nog jonk en onervare. Daarom sien ons veral onder die Jode wat Christene geword het, hoe hulle sukkel om die volle implikasies te snap van wat Jesus Christus as die Verlosser en Here kom doen het.

Dit was asof hulle nie presies vir hulleself kon uitmaak wat die volle impak daarvan was dat die voorhangsel van bo na onder geskeur het in die tempel nie.


Tetelesthai = Dit is volbring!

Hulle het ook nie verstaan wat Jesus presies bedoel het toe Hy daar aan die kruis gesê het “dit is volbring”, “tetelesthai” in die Grieks, nie!

Het Hy werklik die Ou Testamentiese wetgewing en die eise daarvan in totaliteit kom vervul sodat ʼn splinternuwe era kon aanbreek?!

Vir die meeste nuwe Joodse Christene was dit werklik ʼn geloofskrisis om uit te maak in watter mate die koms en volkome verlossingswerk van Jesus Christus die Ou Testamentiese wetgewing “volkome vervul” het.

Die toppunt van hierdie worsteling was die vraag: moet ons nog ons seuntjies besny?

Ander verwante, maar minder belangrike vrae, was vrae soos:

Moet ons nog die eet- en ander kulturele gebruike hou wat God in die Tora van Israel vereis het?

Moet ons nog die Sabbatte en ander godsdienstige feeste hou soos Oud-Israel?

Moet ons ook van nie-Jode wat tot bekering kom, vereis om dit nog na te kom?

Of kan ons daarna terugkyk as padwysers langs die pad, waarmee God vir Sy mense telkens na die Messias wat beloof is, gewys het en herinner het aan wat Hy gaan doen?


Wat behels dit alles as ons sê dat Christus Jesus alles in totaliteit “vervul” het?

Vir die meeste van ons, met die volle Bybel tot ons beskikking, en bykans 2000 jaar tussen ons en daardie gebeure, is dit maklik om terug te kyk en te sê:

• Elkeen van die Joodse feeste het vir ons iets oor Christus Jesus en Sy volkome verlossing wat Hy vir elkeen van ons bewerk het, geleer, maar ook dat Jesus Christus elkeen van hierdie feeste, soos elke ander deel van die Tora-wetgewing hulle “volle betekenis” laat kry het, en volkome vervul het. 

• Vandag weet ons ook hoe God Sy mense met die eet of die nie-eet nie van sekere kossoorte, destyds met dit wat tot hulle beskikking was, beskerm en geleer het 

• Ons weet ook waarom God nie Sy Ou Testamentiese volk vrylik toegelaat het om destyds met heidene alledaags kontak te hê nie 

• En, ja, ons weet ook presies wat God vir Sy volk destyds wou leer deur die fisiese besnydenis van destyds.

Die meeste van ons begryp dat ʼn nuwe era aangebreek het, want ʼn lig het vir ons deurgebreek.

Deur die verligtingswerk van God se Gees is dit asof ʼn doek van ons kop afgehaal is wat maak dat ons nou mooi kan sien en verstaan, want ons verstaan die geheim, die boodskap en die redes agter al hierdie wette.

Met die goeie nuus van die evangelieboodskap het alles in plek geval.

Met hierdie wonderlike bril op, verstaan ons dinge soveel beter.


Dit is nie so maklik vir alle mense om die verandering te verstaan tussen ʼn ou testamentiese tydvak en ʼn nuwe testamentiese tydvak nie

Vir hierdie perspektief om deur te breek, vat baie keer tyd.

ʼn Proses van verandering is soms nodig. Destyds was dit so, maar ook vandag in baie gelowiges se lewens.

Ons weet immers hoe moeilik verandering vir almal van ons is.

As daardie verandering boonop op ʼn terrein plaasvind waar jy totaal daarvan oortuig was dat dit wat jy doen en glo presies is wat God sê dit moet wees, dan word daardie verandering nog soveel moeiliker.

As die vyand boonop in hierdie proses ook sy hand speel en met ʼn leuen of twee, gelowiges verwar of laat twyfel oor wat waar is en wat nie, en oor wat die Bybel werklik hieroor sê en wat nie, dan blokkeer dit die geloofsgroeiproses hier rondom nog verder.

Dit is wat gebeur het daar in Antiogië toe Petrus deur ʼn klomp wetties-vasgevangde Joodse gelowiges oortuig is om nie saam met gelowiges uit die heidendom te eet nie.

Dit is wat aan die fondament gelê het van die hele worsteling rondom wat volgelinge van Jesus mag eet en wat hulle nie mag eet nie.

Dit was dan ook die rede waarom die besnydenis so ʼn krisis geword het in die vroeg-Christelike kerk.

Maar volgende keer meer hieroor.


'n Paar persoonlike vrae

Ek wil hierdie deel afsluit met ʼn paar persoonlike vrae:

Het jy al mooi gaan sit en dink oor die volle implikasies van Jesus se woorde daar aan die kruis toe Hy gesê het: “dit is volbring”?

Het jy al mooi vir jouself uitgemaak presies wat God die Vader vir ons wou sê toe Hy persoonlik, met die dood van Sy Seun as mens, met Sy eie hande die voorhangsel in die tempel van bo na onder middeldeur geskeur het?

Gaan dink weer mooi hieroor, want ʼn korrekte perspektief hieroor kan jou baie ellende en geloofworstelinge in die toekoms spaar.

Dit kan jou beskerm teen soveel “moderne” variasies van hierdie geloofworstelinge van destyds wat maar weer in ons dag onder gelowiges voorkom

© Christo Nel 2017