Deel 2 - Profetiese woord vir 2018

Hierdie is die 2de deel van wat ek beleef God se woord is vir Sy mense vir 2018.


2018 - Die jaar van die "familie van God"

Die Here praat die afgelope tyd aanhoudend met my oor “familie-wees”.

Ek hoor hoe die Here spesifiek oor 2018 en die jare daarna sê dit is die jaar van die familie.

Wat die Here in 2018 en daarna gaan doen, gaan God se mense en die wêreld stom laat en verwonder laat staan oor wie Hy is.

Mense gaan hulle op allerlei maniere vasloop in hierdie manjefieke, wonderlike, magtige God, wat ons asem wegslaan.

Dit gaan ons as Sy familie weer opnuut inlei in ʼn dieper vertroue en intimiteit met Hom. Dit gaan ons opnuut laat oorgee en laat sê: Here, U is en doen dinge wat so anders is as wat ons verwag en selfs voor gebid het, maar nogtans wil ons sê: Here, nie my wil nie, maar U wil; laat U wil geskied!

Maar terug by wat ek hoor oor “familie-wees”.

Sedert Rosh Hashannah, die Joodse Nuwejaar, hoor ek dat wat “familie-wees” betref, ons VUUR gaan beleef, soos nog nooit tevore nie, in hierdie deel van ons lewe.

Deel van hierdie vuur gaan die vyand wees wat op allerlei wyses in ons families gaan lostrek en verwoesting probeer saai. En dit geld beide van ons individuele families, huwelike en gesinne, maar ook in die familie van die Here. 

Ons het dag vir dag ʼn keuse om te maak vir òf lewe, òf dood!

Ons gaan heeltyd moet kies tussen wat werklik belangrik is vir lewe, of maar bloot aangaan om net te fokus op oorlewing en op wat vir ons en ons vlees gemaklik is om te doen.

ʼn Lewe van oorvloed wat God vir ons begeer, en die lewe wat Hy deur ons aan ander wil bedien, gaan ʼn prys kos.

Dit gaan moeite kos. Dit gaan beteken dat ons telkens voor die Here moet gaan sit en hoor wat wil Hy hê ons moet hier doen. En dan moet ons dit dadelik gaan doen.

Maar ek sien ook God se vuur aan die werk in families. En daardie vuur gaan skoon brand en groei en nuwe lewe bewerk, as ons dit toelaat. Daardie vuur van God en van Sy Gees, gaan ook lig bring, en dinge van die duisternis tot lig bring.

Die vyand het op allerlei maniere met baie van julle begin praat, sonder dat julle sy stem herken het. Daardie stem was dalk jou vriende of vriendinne, of die gemeenskap rondom jou, of selfs jou vlees en jou eie begeertes.

Luister weer na die Here se Woord daar in 2 Kor. 10:3-5, en gryp elke woord of gedagte aan die bors en maak seker wie se stem daar agter skuil.

Soveel van julle was in hierdie area van julle lewe, sy dit in julle eie bloedfamilie, gesin of huwelik, maar ook in julle familie-verhoudinge in die Liggaam van Jesus, onder demoniese aanvalle soos nog nooit tevore nie.

Soveel so, dat jy amper begin twyfel en begin opgee het.

Gevolglik het jy ook nie in daardie areas alles wat nodig was gedoen om God se wil en om iets van die Koninkryk van God hier te belewe nie.

Moenie opgee nie! Jer. 29:11-14 is ook God se plan in hierdie area van jou lewe.

As die vyand dit reg gekry het om dalk jou huwelik te vernietig, of chaos te bring in jou gesin – en dalk nie as gevolg van jou eie optrede of eie keuses nie – weet net dit: Die Here God het steeds ʼn buitengewoon wonderlike plan vir jou wat dit betref! Stap jy maar net in gehoorsaamheid, dag vir dag, agter Sy stem aan, wat dit betref.

Onthou ook, die Here het ons oorspronklik “bedraad” om te kan liefhê.

En nou, na ons bekering en wedergeboorte, is ons deel van ʼn nuwe skepping waarmee Hy besig is. Ons is deel van ʼn nuwe geslag wat ʼn verskil moet maak hier op aarde.

In Sy Naam moet ons as Sy kinders verteenwoordigers van die Koninkryk van die hemel wees daar waar Hy ons geplaas het.

Met die bonatuurlike krag en gawes wat Hy ons gegee het as Sy kinders, moet ons die wonderlike dade wat Hy gedoen het en kan doen, in Sy Naam doen en bedien, sodat ander ook Sy genade en liefde aan hulle eie lyf kan ervaar. (1 Pet. 2:9,10) En sodat ander ook Sy heerlikheid kan sien.

Onthou ons is as deel van Sy nuwe skepping op aarde, na Sy beeld en voorbeeld gemaak.

Onthou dan dat Hy die God is wat alles op aarde geskape het deur Woord te spreek (Gen. 1:3,6,9; Joh. 1; 1 Joh. 1:1).

Nou het ons Sy Gees, krag en Woord in ons.

Onthou dan wat Hy ons belowe het: “Hy wat in My glo, sal ook die werke doen wat Ek doen en hy sal groter werke as dit doen...”

As deel van Sy nuwe skepping, is ons nou herbedraad, soos Hy van die begin af dit bedoel het, om werklik lief te hê.

Enige vrees, enige negatiwiteit in enige vorm, gaan ons en ander om ons, stukkie vir stukkie, dood maak.

Waar Sy Gees egter ten volle in beheer is, gaan die vrug daarvan wees “... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”


Prakties: 

Gaan sit voor die Here en bedink hierdie profetiese woord en die implikasies daarvan vir jou lewe.

Bely wat bely moet word en kies om op te staan en te doen wat Hy al lankal vir jou in die verband gesê het om te doen.

© Christo Nel 2017