Hand. 9:1-19

Om bloot te sê jy glo, maak nie die verskil nie. Die bepalende vraag is: wat, of eerder, in wie glo jy?

Daar is biljoene mense wat glo in hierdie wêreld. Moslems, Boeddhiste en selfs agnostici glo almal. Tog moet ons op grond van wat in die Bybel staan, sê: Diegene wat nie in Jesus as Verlosser en Here glo nie, se geloof is tevergeefs!

Ek sou my kon voorstel dat dit een van die dinge is wat Paulus sou sê as hy sy geloof-storie oor sy bekering daar in Handelinge 9, aan ons moes vertel.

Daarin vertel hy hoe 1) sy lewe was voordat hy ʼn ontmoeting gehad het met ʼn Opgestane, Lewende Jesus; 2) dan vertel hy van sy ontmoeting met Jesus; en dan van 3) hoe die ontmoeting sy hele lewe verander het.

Dit is mos die drie dele waaruit ʼn effektiewe Christelike getuienis behoort te bestaan:

1. My lewe voor Christus (of BC-lewe, “Before Christ”)

2. Die ontmoeting met Jesus Christus en

3. Watter impak dit op my lewe, nou, in alledaagse situasies, het.

Ons moet onthou wie Paulus was. Hier was iemand wat as Jood opgegroei het met die dinge van God. Verder was hy ook ʼn briljante “teologiese student” wat aan die voete van een van die mees geliefde Joodse leermeesters van sy tyd gestudeer het.

Soos hy self daar in Hand. 22:3 dit stel: "Ek is ʼn Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so ʼn kampvegter vir God soos julle almal vandag is.”

In Hand. 23:6 beskryf hy homself as “… ek is ʼn Fariseër en ek kom uit ʼn familie van Fariseërs…”

In Filippense 3:5 en verder vertel hy sy storie so: “… ek is op die agste dag besny, van geboorte ʼn Israeliet, uit die stam Benjamin, ʼn egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ʼn Fariseër, in my ywer ʼn vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.”

Dan, na sy ontmoeting met ʼn lewende, opgestane Jesus Christus, wat ook Sy lewe vir hom aan ʼn kruis gegee het, vertel hy verder: “Maar wat eers vir my ʼn bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ʼn mens in Hom glo.”

Daarom bely hy: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

As Lukas ons in Handelinge 9 voorstel aan Paulus, stel hy ons eers voor aan hierdie fanaties godsdienstige, Joodse leier en Fariseër, wat met volle oortuiging dat hy die ware God dien, Jesus en diegene wat Hom volg, vervolg het en goedgekeur het dat hulle selfs doodgemaak word.

Tog, omdat hy nie Jesus Christus as Verlosser en Here geken het nie, was hy, met al sy godsdiens en sy kennis van die Skrif, en al sy ywer om die Tora met sy 613 wette in detail te gehoorsaam, totaal verlore.

Ja, Paulus was voor sy bekering, as ʼn verbondsmens, besny en al, met sy goeie lewe en sy gehoorsaamheid aan God se wette in die Ou Testament, totaal verlore. Dood. Blind. Op pad hel toe.

Goddank, soos baie van ons ook kan getuig, was daar ook in sy lewe daardie dag… Daardie dag toe hy van Jerusalem op pad Damaskus toe, Jesus ontmoet het!

Daarvan vertel ek jou volgende keer.

© Christo Nel 2017