Hoe kan ons nog so baklei oor hoeveel ons moet gee?

Ouens, as ons iets van die Koninkryk van God verstaan, as ons verstaan wie God is en wat vir ons belowe het...

As ons verstaan wat God vir ons gedoen het in Christus Jesus, hoe kan ons dan met mekaar nog stry en baklei oor hoeveel ons moet gee?

Hoe kan gelowiges wat besluit het om ten minste ’n tiende van alles wat hulle ontvang het te gee, nog wonder of dit dan nou uit die netto- of bruto-bedrag van wat ons inkry, bereken moet word?

Lyk vir my, dan moet ons eerder met mekaar gesels oor hoe ons kan beplan dat ons Bybelse gee stelselmatig sal groei van 10 persent af na meer en meer.

Ja, oor tot waar ons God kan vertrou om altyd vir ons meer as genoeg te gee, al gee ons later 20%, of 50%, of 80%, weg vir die Koninkryk.

Vir God gaan dit nie eers oor hoeveel jy gee nie. Hy kyk na die gesindheid en motief waarmee jy gee en wat in jou hart aangaan en wat jy dink as jy gee.

Dit is ook wat daardie gelykenis daar in Luk. 20:9-18 hieroor sê. Kom ek haal dele daarvan vir jou aan:

“Daar was ‘n man wat ‘n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy ‘n hele ruk weg van die huis af.

(So het Jesus ons hier op aarde “agtergelaat” met Sy Gees in ons, om te doen wat ons moet doen om Sy Koninkryk daar te laat kom waar Hy vir ons “grondgebied” of ʼn “wingerd” gegee het.)

Maar dan, op ʼn dag, kom Hy terug en vra vir ʼn deel van die opbrengs.

Wat en hoeveel gaan jy teruggee? Is jy bereid om enigiets terug te gee?

Het jy ook gesien dat Hy weer en weer en weer “mense” gaan stuur om “te kom haal wat Syne is”?

Hoeveel van hierdie mense het jy nie al in die verlede met leë hande, of met ʼn kleingeldjie of afskeepgoed, weggestuur nie?

Die goeie nuus van die Evangelie was dat God bereid was om Sy Alles, Sy kosbaarste, Sy Seun, te stuur.

Oor die afgelope tyd het ons vir mekaar in hierdie stukkies Woord gehelp om te ontdek wat Jesus Christus werklik hier op aarde kom doen het.

Ons het mekaar gehelp om iets te verstaan van die Koninkryk van God wat hier op aarde in Jesus gekom het, en dat dit nou deel van ons opdrag is om daar waar Hy aan ons ʼn “wingerd verhuur het”, te doen wat ons daar moet doen.

Maar, tog, ten spyte van alles wat ons weet, werk en lewe so baie van ons asof dit net gaan oor die hier en nou, en om genoeg te kan hê vir my en my gesin, en om tussendeur genot te kan hê.

Dit is waarom dit weer vir ons nodig is om 2 Kor. 9:6 tot 9 vir mekaar te herhaal in die verband: “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”

As jy begin om vir God te gee, moet jy gee soos 1 Kor. 16:2 vir jou sê om te maak.

Daar staan: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”

Om dus los te kom van hierdie gees van armoede, begin beplan om ten minste een dag in die week dit gereed te hê wat jy gekies het om daardie betrokke week vir God en vir die diens en koms van Sy Koninkryk te gee.

Volgende week het jy weer ʼn geleentheid om meer of minder te gee, in die lig van hoe God jou geseën het.

Want dink daaraan, die lewende God sê vir jou, belowe aan jou, dat wat jy saai, sal jy begin maai.

© Christo Nel 2017