Om so ʼn broer vir iemand anders te wees

Ek kan nie anders nie, ek moet hierdie storie deel, wow!

'n Sakeman in Kaapstad kom by sy nuwe motor aan terwyl 'n seuntjie dit staan en bewonder.

Hy vertel die storie self so:

Toe ek die sleutel in die motordeur steek, vra die seuntjie: “Is dit Meneer se motor?”

“Dis myne, ja.”

“Hoeveel het hy gekos, Meneer?”

“Ou seun, ek weet nie.”

Hy kyk ondersoekend na my: “Meneer lyk nie na die soort wat 'n motor sal steel nie, maar waar het Meneer dan die motor gekry?”

“My broer het dit vir my gegee.”

'n Verlangende uitdrukking kom in die seun se oë en hy sê : “Ek wens...”

Ek verwag dat hy gaan sê: “Ek wens ek het so 'n broer gehad,” maar hy eindig sy sin anders as wat ek verwag het, en dit raak diep in my hart: “Ek wens ek kon so 'n broer wees.” sê hy.

My hart ruk wild in my borskas. Sy woorde raak my so dat ek hom dadelik wil plesier. “Kom, klim in, dan voel jy hoe ry hy.”

“Ek sal Meneer se kar net vuil smeer,” keer hy.

Ek dink by myself: “Jou klere mag vuil wees, maar jou hart is spierwit.”

Ek dring by hom aan en hy klim gretig voor by my in. “Sal Meneer voor my huis stilhou, asseblief,” vra hy dringend.

Ek hou voor 'n trapgang in 'n agterstraatjie stil. Soos 'n klipspringer is hy uit die motor en kom na 'n rukkie stadig terug met 'n kleiner seuntjie in sy arms. Die seuntjie is inmekaar getrek as gevolg van polio

Saggies sit hy die seuntjie op die onderste trap op die sypaadjie neer. “Daar is hy, Boetie. Sy broer het dit vir hom gekoop. As ek eendag groot is, gaan ek vir jou net so 'n kar koop, dan kan jyself na al die winkelvensters gaan kyk.”

Trane swem in my oë en met 'n knop in my keel, sê ek: “Kom julle twee. Jou boetie gaan sommer vandag die winkelvensters sien.”

Ek help om die kreupel seuntjie voor by my en die ander een in te tel. Ek ry na die grootste winkelsentrum toe in die stad.

Toe ons stilhou sê ek: “Kom ons gaan kyk,” terwyl ek die kreupel outjie in my arms dra.

“Soek uit wat julle wil hê.”

Hulle het mildelik van my aanbod gebruik gemaak en gevat wat hulle wou hê. Die volgende paar uur in hulle geselskap was die gelukkigste tyd wat ek nog ooit in my lewe ervaar het.

Ek het besef dat die loon van om aan ander te gee, nie altyd materiële loon is nie.

“Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het as ander wat suinig is. Wie 'n ander voorspoed gun, sal self 'n oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self nooit dors word nie.”

En ek het besef: Ek wil so 'n broer wees.

“Abba, Vader, verander my en maak my so ʼn broer vir mense om my!”


Is jou oor op God se mond om mooi te hoor wat Hy vir jou sê?

Dit is 'n ernstige tyd dié waarin ons lewe!

Kyk en luister maar net wat rondom jou aangaan maar ook in die res van die wêreld.

Ek weet nie van jou nie, maar as ek te lank sit en kyk na die KYKNET se NUUS of na FOX NEWS of CNN, dan word die intensiteit van dit alles net vir my te veel.

Dan het ek nodig om alles af te sit en vir myself 'n stil plek te kry om voor God te gaan lê en net met Hom tyd te spandeer.

My verse in die tyd is daardie gedeelte daar in Mrk 9 waar ons lees hoe Jesus in Sy heerlikheid, as God die Seun, Homself aan drie van Sy dissipels vertoon het.

Ek het elke nodig om Jesus, die Here en Koning, in Sy heerlikheid te sien! Want daar ontwikkel ek weer perspektief en krimp my uitdagings voor Sy grootheid!

Dan kom hulle af van die berg af en kry 'n man daaronder wat sy seun gebring het om gesond gemaak te word, maar die nege ander dissipels kon nie. In die gesprekke wat daarna volg, hoor ons Jesus hierdie uiters belangrike dinge sê:

"Vir die een wat glo, kan alles."

En "Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie."

Ek en jy het tyd in die teenwoordigheid van Koning Jesus nodig om te sien en te hoor wie Hy is en wat in Sy hart is, sodat ons hart kan verstaan en glo wat Sy spesifieke opdrag en woord aan jou vir jou is.

Sodat jy kan opstaan om te gaan doen wat jy moet doen.

Miskien moet jy vir kanker in iemand se lyf gaan sê: Sterf! Immunestelsel, in Jesus se Naam, maak elke vyandige organisme wat nie in hierdie liggaam hoort nie, dood! Maak hulle onskadelik! Werk hulle uit,

Miskien moet jy vir Orkaan Irma vandag gaan sê: Raak stil. Bedaar!

En glo dit gaan gebeur!

Daar is mense wat profeties hoor dat 'n tsunami op pad is na die Kaap, en ander weer wat glo dat die Wegraping die 23 September 2017 gaan gebeur!

Ek is besorg oor die gees van vrees wat hier agter sit en oor hoe hierdie leer oor die sogenaamde wegrapings-leer in die een WHATSUP van goedgelowige volgelinge van Jesus na ander gestuur word.

Miskien moet ons weer mooi gaan luister na 1 Kor. 14:3 na wat God se Gees se bedoeling met profetiese bediening is:

"Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos."

© Christo Nel 2017