Ons vyand is so ʼn geslepe leuenaar!

Jesus weet hoe geslepe Satan is. Sy geslepenheid het ’n derde van die engele agter hom laat aanloop. (Gaan lees maar wat daar in Jes. 14 en Eseg. 28 hieroor staan).

Die oomblik toe die mensdom, in Adam en Eva, die heerskappy wat hulle van God ontvang het om hier op aarde in God se Naam te heers, aan die Satan oorgegee het, het alles hier verander.

Daardie oomblik het die mensdom in ’n toestand beland waarin dit vir Satan en sy magte, met hulle geslepenheid, kinderspeletjies was om ons te oortuig dat ons arm en siek was, en dat dit God se skuld was.

Satan het ons oortuig om te glo dat al die slegte dinge wat met ons gebeur het, God was wat dit aan ons gedoen het of dit ten minste toegelaat het.

Dit was dus God wat mense siek maak, of hulle arm maak, of dood maak.

Natuurlik is dit alles leuens en is dit bloot jy wat toelaat dat Satan en sy magte al hierdie twak aan jou verkoop.

Dit is ons wat kies om Satan en sy magte te glo as hy vir ons sê: Jy is nie mooi nie. Jy is dom. Jy is ’n mislukking. Jy gaan niks reg kry nie.

Satan en sy magte is boonop so slinks dat as hulle sien dat jy begin glo wat hulle vir jou sê, dan gebruik hulle ʼn belangrike mens daar in jou lewe om dit ook vir jou te sê. En ons glo dit alles, asof dit evangelie is.

Die meeste mense rondom ons besef nie dat ons elke dag van ons lewe in ’n oorlog is nie!

In hierdie oorlog, soos in enige ander oorlog, het die vyand ʼn demoniese bemarkingspan wat met hulle wêreldklas bemarking elke moontlike kommunikasiemiddel gaan gebruik om ons te belieg en te bedrieg oor alles en nog wat.

Die vyand gaan dit so geslepe doen dat jy nie eers gaan besef hoe jy elke dag gebombardeer word van alle kante hierdeur nie.

Daarom het Jesus Sy Gees aan jou gegee om in jou lyf te kom woon as Sy volgeling.

Soos 2 Kor. 10:3-5 sê, wil hierdie Gees ons attend maak daarop dat ons bedag en gereed moet wees om aktief elke ding waarmee ons gebombardeer word, te sif en te toets of dit waarheid is of leuen.

“Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.

Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word.

Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

Begin om elke gedagte wat by jou opkom, aan die bors te gryp en te vra: Vanwaar kom jy, Gehasi? Kom jy van God af of kom jy direk uit die hel?

© Christo Nel 2017