Weet jy hoekom wil God iemand soos jy gebruik?


Onthou jy wat Paulus vir ons vertel het daar in 1 Tim. 1:15 tot 17?

Ja, dat God juis die slegste van slegte mense, daardie een wat almal afgeskryf het, kies om ander mense aan te raak in Sy genade.

Weet jy wat het ek in die verband nog ontdek? Ek het ontdek dat dit juis die rede is waarom Hy my ook kan en wil gebruik.

Ja, eintlik val ons almal eintlik in hierdie kategorie. Ons is in die lig van God se heiligheid, almal een van die ergstes van die ergstes. By God is daar nie ʼn onderskeid nie. As jy skuldig is aan een sonde, is jy skuldig aan almal.

Ons kan dus na daardie boemelaar, of alkoholis, of bedrieër, kyk en sê: As dit nie vir die genade van God was in Christus Jesus, wat my lewe kom verander het nie, was dit ek daardie!

Ons is maar net wie ons nou is deur die onverstaanbare genade van God!

Dit is dié dat ek myself elke oggend in die spieël kyk en vir myself hardop sê: Jy is geseënd en uiters begenadig in Christus Jesus!

Dit het tyd geword dat baie van ons ontslae moet raak van hierdie selfregverdigende houding van ons, en moet ontdek hoe papvrot en totaal verlore ons was voordat God se genade in Christus Jesus ons uit genade en as gevolg van die goedheid en liefde van God gered het.

Dan sal ons begin liefhê soos Jesus. Want dit is hoe lief Jesus ons gehad het.

Gaan lees maar weer daardie verhaal oor daardie prostituut wat daar by Jesus se voete kom kniel het in Lukas 7.


Onthou jy daardie dag?

ʼn Fariseër het Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Maar omdat die man nie Jesus en die ander dissipels se stowwerige voete gewas het soos wat die wet hom beveel het nie, het Jesus daar langs die tafel met Sy stowwerige voete aangelê en begin eet.

Toe kom hierdie prostituut daar in en gaan al-huilende sit by daardie Sy stowwerige voete. En dan begin sy dit was met haar trane, en salf met ʼn kosbare reukolie wat sy saamgebring het. En dan begin sy dit afdroog met haar hare.

Jy ken die gesprek wat daarna gevolg het tussen Jesus en die Fariseër baie goed. (En indien jy dit nie ken nie, gaan lees dit weer ʼn slag daar in Luk. 7.)

As ons werklik besef wie ons was voordat God ons met ons bekering en wedergeboorte aangeraak en vergewe het, sal ons verstaan waarom die boodskap oor Jesus “Evangelie” en “goeie nuus” genoem word!

“By the gace of God you are who you are now in Christ Jesus!”

© Christo Nel 2017