Print this page

Hoe om vestings van die vyand in jou lewe te herken

vestings vestings

As Paulus daar in Efesiërs 6 onder die inspirasie van God se Gees skryf dat ons worstelstryd hier op aarde nie ʼn stryd is teen vlees en bloed nie, maar eerder ʼn stryd is teen magte en owerhede in die lug, wat bedoel hy presies daarmee?

Efesiërs 6:12 maak eintlik ʼn baie merkwaardige stelling in die verband. Paulus openbaar hier aan ons dat geen geveg van belang in ʼn gelowige volgeling van Jesus se lewe ooit ʼn geveg of oorlog teen mense, of politieke instansies, of selfs bloot omstandighede is nie.

Nee, die gevegte wat werklik saak maak in ons lewens, is altyd ʼn intense, persoonlike, geestelike stoeigeveg teen demoniese magte van Satan self!
Hoe weet jy wanneer jy so aangeval word?

Uit my eie lewe en ervaring het ek agtergekom dat ek in daardie tyd onmiddellik aanvoel dat ek nie myself is nie en dat hierdie nie sommer die gewone worsteling in my lewe is nie. Hier is iets anders aan die gang.

Het jy al ooit dit ervaar? Ek glo jy het. Dit is daardie tye wat jy voel asof iets anders hier in jou en jou gedagtes met jou besig is. Ja, asof iets probeer om beheer oor te neem oor wat jy dink en voel en doen.

Sien, die gevegsfront waar hierdie geveg aan die gang is, is dit wat ons gewoonlik “jou siel” noem.

Ons as mens is mos gees, met ʼn siel, wat woon in hierdie fisies-chemiese liggaam. Hierdie geveg waarvan ons hier praat, vind daar plaas waar jou gedagtes, gevoelens en keuses gebore word. Daar waar jou verstand in jou brein besig is.

In die neuro-linguistiek praat ons hiervan as ons brein, wat uit drie dele bestaan. Net twintig persent van jou brein praat en verstaan Afrikaans of Engels of een van die bestaande tale in die wêreld. Die ander twee dele van jou brein, wat tagtig persent van jou brein is, kan glad nie een van die bestaande tale in die wêreld praat of verstaan nie. Tog is dit waar meer as tagtig persent van alle breinprosesse (met ander woorde, dit wat jy dink, voel, en kies om te sê of doen) juis plaasvind.

Dit is hieroor waaroor Paulus daar in Romeine 12:2 praat as hy sê dat ons God moet toelaat om “ons gedagtes” te vernuwe (die Griekse woord verwys na daardie tagtig persent, plus die ander twintig persent).

Ook daar in 2 Kor. 10:3 tot 5 word hierna verwys as daar die volgende staan: “Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodra julle eie gehoorsaamheid volkome is.” (Die NAV)

Luister hoe vertaal THE VOICE hierdie gedeelte:

“For though we walk in the world, we do not fight according to this world’s rules of warfare. The weapons of the war we’re fighting are not of this world but are powered by God and effective at tearing down the strongholds erected against His truth.

We are demolishing arguments and ideas, every high-and-mighty philosophy that pits itself against the knowledge of the one true God. We are taking prisoners of every thought, every emotion, and subduing them into obedience to the Anointed One.

As soon as you choose obedience, we stand ready to punish every act of disobedience.” (The Voice-vertaling)

Paulus sê dus vir ons dat een van ons belangrikste wapens in hierdie geveg teen die onsigbare magte ons vermoë is om hierdie gedagtes, gevoelens en wilsprosesse letterlik een vir een aan die bors te gryp as hulle by ons opkom en om dit dan noukeurig te ondersoek en te ondervra om agter te kom: Vanwaar kom jy? Is jy van God, in lyn met die Woord, of kom jy uit die hel en een van die vyand se leuens wat hy oor baie jare aan jou bedien het?

Volgende keer gesels ons verder hieroor.

Kom ek sluit vandag af met ʼn persoonlike uitdaging aan jou.

Wees vandag en môre baie bedag oor wat jy dink, sê en watter emosies by jou opkom.

Is dit positief en bedien dit lewe, of is dit negatief en giftig?

Het dit nie tyd geword dat jy jou sosiale media moet afskakel en baie kieskeurig moet wees oor na wat jy kyk of luister, of wie jy toelaat in jou lewe nie?

Vra God om deur Sy Gees jou te detoks van wat nie werklik lewe en oorvloed aan jou bedien nie.

Related items