Dit is tyd vir ʼn behoorlike geestelike “huis-skoon-maak”

skoonmaak skoonmaak

Ek het agtergekom dat dit waarvan Rom. 12:2 en 2 Kor. 10:3-5 praat, daardie geestelike “huis-skoon-maak”, nie iets is wat jy sommer as ʼn “Lone Ranger” op jou eentjie kan doen nie. Op jou eie, sê die Neuro-prosessering vir ons, kan dit tot 60 jaar neem. Nee, ons het ʼn mede-gelowige of twee nodig, ten minste, in wie se teenwoordigheid ons veilig, geliefd en geborge voel, om oop te maak en eerlik te wees, in die teenwoordigheid van God se Gees en met God se Woord op ons skoot, om hier iets van waarde te laat gebeur.

"Vestings"

Dit is dan wat ons hierdie “vestings” van die vyand, wat maar niks anders is nie as leuens en onwaarhede waarvan die vyand ons oor die jare oortuig het, kan begin hanteer. Dit is daar, in die veiligheid van hierdie saam-wees met iemand wat ek vertrou, wat ons kans kry om hierdie “vestings” van naderby te bekyk en dit dan te begin hanteer.

Dit is dan wat ons ontdek dat hierdie vestings iets is wat soms in ʼn breukdeel van ʼn sekonde tydens ʼn traumatiese gebeure, of wanneer iemand iets vir jou gesê wat ʼn leuen was, of iets onregverdig, of skadelik aan jou gedoen het (sonder dat hulle meestal besef het wat die implikasies of gevolge daarvan sou wees in jou lewe), na wie jy opgekyk en hoog geag het in jou lewe as kind.

So het die vyand ʼn oop deur gekry in jou gedagtes of gevoelens, en stadig maar seker jou begin oortuig het van iets, tot jy dit later eenvoudig geglo en aanvaar het as die waarheid. Ja, dat jy “vet” is, of “onnosel”, of “net nie goed genoeg is nie”!

Ja, so begin ʼn mens dan ook “glo” dat iemand jou net nie lief het nie, of nie genoeg vir jou omgee nie.

So word dit hierdie “vesting” of ondeurdringbare gedagte-huis “gebou”, daar waar jy dink, voel, glo (ja, ook dit wat jy glo), besluite neem oor hoe jy moet optreë of oor wat jy moet sê.

En so, stelselmatig, begin die vyand jou, sonder dat jy dit eers besef, jou beheer, manipuleer en beïnvloed!

Daarom glo jy wat jy glo, en skryf en sê jy wat jy sê op Facebook, of Whatsapp, of in geselskap met ander!

So begin die vyand jou beheer en manipuleer met vrees, bitterheid, en selfs haat!

Ja, so steel hy by jou, elke dag!

So steel hy by jou en jou kinders, al is julle kinders van die lewende God!

So veroorsaak hy dat jy begin kompromie sluit en die knie buig voor ongeloof, apatie, vrees, lus, verslawing, en depressiewe gedagtes!

Daarom wil ek vir jou vandag uitdaag om te sê: Nee, genoeg is genoeg! Hier stop dit!

'n Gebed op met hierdie "vestings" werk te maak

Bid dan: Kom Gees van God, kom en vernuwe my gedagtes! Kom, openbaar waar is daar in my vestings van die vyand, wat die vyand ʼn houvas in my lewe gegee het! Openbaar aan my waar U nie werklik die enigste Koning en Here in my lewe is nie!

God se hart vir jou as Sy kind is dat jy lewe sal ken, en dit in oorvloed, in elke deeltjie van jou lewe!

God se hart is dat jy Hom sal toelaat om jou gedagtes (brein, in al drie dele) sal vernuwe en verander, sodat jy tot jou volle potensiaal kan ontwikkel en ʼn verskil kan maak in hierdie wêreld.

Ja, sodat Hy jou ten volle kan oortuig van wat waarheid en wat leuens is. Oor dit wat jy oor jouself, oor God, oor ander mense, en oor die kerk of ekklesia glo en dink!