Print this page

Die leuen-vesting oor die “besprenkeling van babas” in die gereformeerde wêreld

Reformasie Reformasie

Waarom het die Rooms Katolieke Kerk babas begin besprinkel

Weet jy dat in die sowat 120 jaar nadat die laaste boek van die Nuwe Testament (die boek, Openbaring) geskryf en verskyn het in die Vroeg Christelike Kerk, is die Bybelse doop net aan gelowiges bedien!

Die Skrif is immers baie duidelik hieroor.

Neem byvoorbeeld die hele boek van Handelinge en lees dit asof jy dit vir die eerstekeer sou lees. Lees dit sommer in ʼn ander goeie Bybelvertaling wat jy nog nooit gelees het nie.

(Dit is mos maklik om met die Toep van YOUVERSION dit gratis te doen.)

Gaan lees dan ook gedeeltes soos Romeine 6; die hele boek, Galasiërs; Filippense; en die boek, Hebreërs.

Weet jy dat dit eers êrens in die jare 190 n.C., was wat ons vir die eerstekeer lees van ʼn baba wat besprenkel is (wat “doop” genoem is)!

Kom ek vertel jou hoe dit gebeur het.

Gelowige ouers, wie se klein baba ernstig siek geword het en besig was om te sterf, het angstig na die priester (wat die leier in die gemeente was) gekom en gevra maar wat gaan van hierdie kindjie word as hulle sou sterf voordat hulle kans sou hê om self Jesus as Verlosser en Here aan te neem! Gaan so ʼn kindjie dan verlore?

Weet jy watter tragiese ding doen daardie priesters toe?

Pleks van die wonderlike waarheid wat die Woord in die verband aan ons leer, aan daardie ouers te verkondig en die stemme van leuens en vrees so stil te maak, besluit hulle om daardie baba “te doop” deur hulle te besprenkel met water!

Kan jy dit glo!

Dan lees ons hoe dit so oor tweehonderd jaar se tyd “die kerklike praktyk” geword het om babas “te doop” met water, in die lig van alles wat die Bybel oor die ware Bybelse doop sê. Ja, want sê die Bybel dan nie dat “ons gered word” deur die doop nie?! (Op grond van wat in Titus 3:5 staan, as daar staan: “... nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees...)

Soos ek reeds aangedui het, het dit stadig maar seker tussen 200 n.C. en 315 n.C. “kerklike praktyk in die Roomse Kerk geword” om babas te besprenkel met water wat dan “die doop” te noem.

Wat sê die Bybel oor kinders "wat nog nie tot hulle verstand gekom het" om 'n eie geloofskeuse te maak nie

Wat moes daardie priesters, in 190 n.C. en daarna, eerder aan sulke ouers verkondig het?

Hulle moes hulle na die Woord van God geneem het en die wonderlike waarheid van God se genade aan daardie ouers verkondig het. Genade wat vir ons as gelowiges en ons kinders, genoeg sou wees.

Hoe sou dit dan nie genoeg wees vir hierdie kindjie nie?! Gaan lees immers Romeine 1 en 2. God se genade is selfs genoeg vir mense wat in hulle lewe en wêreld nooit die Goeie Nuus oor Jesus Christus gehoor het nie. Hoeveel te meer sal Sy genade nie genoeg wees vir die babas en jong kinders wat nog nie “tot hulle verstand gekom het” om self ʼn geloofskeuse vir Jesus te maak nie!

As ons dan nog verder alles in die Woord gaan lees oor hoe God oor kinders voel en dink, en hoe lief Hy hulle het (gaan lees maar gedeeltes soos Mat. 18:1 tot 14 byvoorbeeld), dan hoef ons nooit te twyfel oor God se liefde en genade vir klein babas en kinders wat nooit self kans gehad het om die Evangelie te hoor en of self ʼn geloofkeuse vir Jesus te maak nie.

Maar kom ek kom terug na ons toe en wat mense vandag nog in die verband glo.

Die boodskap van die Reformatore hieroor

Kom ek doen dit met ʼn vraag. Hoe het dit dan gebeur dat ons as gereformeerdes, na die Reformasie van 1517, nogsteeds soos in die Roomse Kerk, suigelinge of babas besprenkel met water en dit steeds “die Bybelse doop” noem?

Kom ek vertel vir jou hierdie tragiese verhaal.

Het jy geweet dat al die leiers van die Reformasie, Maartin Luther, Calvyn, Zwingli, Farel, ens., almal, voor die voet, geweet en geglo het dat die Bybel ons leer dat die Bybelse doop net aan gelowiges bedien kan word?

Nou maar waarom het hulle nie ook dit deel van die boodskap van die Reformasie van 1517 en daarna gemaak nie? Waarom het hulle besluit om wat die Rooms Katolieke Kerk eerder oor die doop aan mense geleer en geglo het, deel te maak van die boodskap van die Reformasie?

Onthou, Maartin Luther was ʼn professor in teologie in die Roomse Kerk. So ook was al die leiers in die Reformasie, voor die Reformasie, lidmate van die Roomse Kerk.

In die eerste plek was dit al klaar vir almal van hulle ʼn radikaal nuwe paradigma-skuif in alles wat hulle glo en dink, om die sleutelwaarhede wat so integraal deel was van die nuwe boodskap van die Reformasie, in woorde vas te gryp en nuut te verwoord aan janalleman daarbuite op straat. Daarom het 3 van die 5 leiers van die Reformasie (onder andere Luther, Zwingli en Calvyn) gevoel, maar om nou nog die leer oor die doop wat net aan gelowiges bedien mag word, ook deel te maak van hierdie nuwe boodskap van die Reformasie, vir janalleman op straat, net te veel en te radikaal sou wees.

Daarom het hulle saam besluit om daaroor te swyg en eerder te bly by die “verbond- en besprenkelingsdoop”, soos wat dit vir eeue al in die Roomse Kerk geleer en bedien is.

Twee van die leiers van die Reformasie het egter radikaal van die ander drie hieroor verskil en het weggebreek hieroor daar in die begin van die Reformasie. (Dit sou die begin wees van ʼn verskriklik tragiese stryd in die geledere van die “broers van die Reformasie”, waartydens honderde duisende gelowiges deur hulle geloofsbroers vervolg, gevange geneem, gemartel en doodgemaak is! Soveel so dat die bloed van hierdie geloofsmartelaars, hieroor, sê geskiedskrywers aan ons, tot by deur-hoogte in al die bestaande “gereformeerde kerkgeboue” van destyds sou gevloei het!)

Hoe het die Reformatore hierdie leuen geregverdig

Hoe het die Reformatore hierdie leuen geregverdig? Deur ʼn “vesting” van “teologiese regverdiging vir die besprenkelingsdoop” in lyn met die Roomse leer, hieroor vir mense as die waarheid voor te hou, met leuens soos: “Die Nuwe Testamentiese doop het in die plek van die besnydenis gekom.” En, “Soos wat seuntjies onder die Ou Verbond besny is as teken dat hulle deel van God se volk is, so word babas van gelowige ouers, onder die Nuwe Verbond, besprenkel met water, as teken dat hulle behoort en deel word van die Nuwe Testamentiese Kerk van die Here Jesus.”

Hoef ek verder hieroor te praat?

Mag God se Gees jou van hierdie “vesting van die vyand” oortuig in die leer van gereformeerdes, as jy nog oortuiging nodig het!