Getuig oor die dinge waarvan God se Gees jou oortuig het

familie in Jesus familie in Jesus

 

Ek glo dit is wat ek en Hetta deur ons bediening tans moet doen in die lewens van derduisende gelowiges oor Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en Zambië, wat gekies het om hulleself los te maak van besluite en belydenisse van die Algemene Sinode waaraan hulle oor jare vasgehou het terwyl hulle “belydende lidmate” was in die NG Kerk.

Vir die eerste keer is hierdie gelowiges “los” en “vry” om as’t ware vir hulleself, met net die Bybel op hulle skoot, aan die voete van hulle Here en Koning, Jesus, self met Hom te gaan gesels oor wat presies Hy sê oor dinge soos: wie behoort werklik aan Sy Ekklesia; hoe word ʼn mens deel van Sy Ekklesia; wat sê Hy oor die doop met water; wat sê Hy oor die doop met die Gees; en wat sê Hy oor die gawes van die Gees, ens.

Ja, ons voel dat die Here wil hê ons moet van dorp tot dorp ry, en met gelowiges, sê vir tien weke, ʼn pad stap, waartydens ons hulle kan begelei in hierdie soeke en hulle nuut kan wys in die lig van die Skrif alleen, wat beteken dit om Ekklesia te wees daar waar hulle woon en werk.

Ja, ons vertrou dat ons toegelaat sal word om as instrumente in die hand van God, deur die werking van die Gees, gelowiges bloot te stel aan ʼn nuwe ervaring van “ekklesia-wees”, soos destyds in die boek, Handelinge!

Daar in Handelinge, was die ervaring van ekklesia-wees in huise of allerlei ander soort geboue, die sleutelelement wat die vinnige en spontane groei van die Ekklesia daardie eerste 300 jaar verseker het.

Daarom glo ek, is dit ook God se belangrikste instrument vir nou, ter voorbereiding op die groot oes in hierdie laaste dae.

Kom ek sê net ter verduideliking in die verband:

Die term “huis gemeente” is ’n baie gelaaide woord deesdae wat ek sover as moontlik probeer vermy a.g.v. al die misverstande daarrondom. Maar omdat daar nie regtig ’n alternatiewe begrip is wat ’n mens kan gebruik om hierdie sleutelelement te beskryf nie, gebruik ek ook hier die term.

“Huis gemeente” soos ek dit hiervandaan verder gaan gebruik, verteenwoordig waardes soos: organiese groei; is verhouding-gebaseerd; is Bybels gefundeer; waar almal betrokke unieke gawes het, maar in God se oë gelyk is; waar almal deur die bloed van Jesus “ge-netwerk is” met gelowige volgelinge van Jesus oral in hulle omgewing, streek, land, en selfs wêreldwyd; waar radikale dissipelskap 24/7 ’n werklikheid is; saam is hulle God se oplossing vir ’n vaderlose gemeenskap; waar God se Gees ’n veilige, sagte ruimte van Bybelse liefde en ‘familie-wees” skep vir mense wat uitgehonger is na die “goeie nuus” oor die Koninkryk van die hemel wat aarde toe gekom het.

Dit beteken ook dat “huis gemeentes” nie bloot net “in huise of woonhuise” gebeur nie, of self noodwendig spesiaal-gehuurde gemeente-geboue nodig het nie.

Dit dui eerder ʼn bepaalde geestelike gebeure of werklikheid of verhouding aan wat in enige ruimte kan plaasvind.

Dit dui op mense wat gekies het om werklik “ʼn familie van families” te word wat naby-familie of geloof-familie van ander volgelinge van Jesus wil wees, waar ons saam kan leer om mekaar soos Jesus lief te hê en waar ons elkeen self hierdie soort liefde kan begin ervaar.

Dit kan dus op enige fisiese plek gebeur, soos in hotelle, kroeë, restourante, skole, kantore, besighede, onder bome, en ja, selfs in gewone woonhuise, woonstelle, ouetehuise, of plakkershutte.

Daar waar mense hulle lewe en die meeste van hulle tyd saam spandeer, daar wil God tussen hulle ’n beleefde werklikheid word. Daar wil Hy hulle lewens verander en hulle deel maak van Sy groter plan; en dan ook hulle uitstuur om dissipels te wees onder die nasies.

Alles wat ek verder in die verband met jou gaan deel, moet dus teen hierdie agtergrond verstaan word.