Waarom het Jesus en God se Gees die woord “ekklesia” gebruik

Ekklesia Ekklesia

 

Het jy geweet dat die Griekse woord “ekklesia” nie deur Jesus of die skrywers van die Bybel sommer net “toevallig” gebruik is nie?

Die Griekse woord “ekklesia” was ʼn baie bekende, maar uiters belangrike konsep in die hele Roomse Ryk vanouds.

Hierdie term “ekklesia” was ʼn term wat ʼn bestuursliggaam beskryf, wat letterlik “die uitgestuurdes” of “uitverkore geroepenes” beteken. Binne die Romeinse Ryk is dit gebruik om die senaat of politieke groep te beskryf wat deur die Romeinse Ryk gekies is om namens die Romeinse Ryk of Romeinse Keiser in ʼn bepaalde gebied te regeer in die naam van die Keiser.

Hierdie “ekklesia” was dus met die hand uitgekies deur die Romeinse Ryk of Keiser, om dit wat die Keiser se hart was, in ʼn bepaalde area in die Romeinse Ryk, te gaan oordra en verteenwoordig.

Is dit nie merkwaardig dat Jesus in die tweekeer wat Hy van die “ekklesia” gepraat het, presies in hierdie selfde sin daarvan gepraat het nie!

Onthou jy hoe jy hoe Hy vir Petrus gesê het: Op hierdie “rots” van jou belydenis oor wie Ek werklik is, gaan Ek My Koninkryk bou. Hierdie belydenis gaan in die hart wees van elkeen wat deel is van My senaat, My kabinet, My ambassadeurs, wat Ek uitstuur om iets van My Koninkryk sigbaar en waar te maak daar waar hulle woon en werk!

Jesus het dus nie ʼn nuwe godsdiens hier op aarde kom begin nie!

Nee, Hy het ʼn nuwe politieke beweging hier op aarde begin, wat gebou is op die besef en openbaring oor wie Hy, Jesus, werklik is. Ja, dat Hy God self is wat self aarde toe gekom het in persoon, om weer Sy Koningskap en Sy Koninkryk hier te kom herstel.

Elkeen wie se oë, hart, gedagtes en gees oopgegaan het, en dit waaragtig glo en daarom bereid is om hulle lewens daarvoor af te lê, word God se “ekklesia” wat daar in die poorte van die hel Hom en Sy saak te gaan verteenwoordig.
Omdat Jesus, as die nuwe Koning, Satan en sy magte wat hier op aarde deur die mens toegelaat is om te heers, self volledig verslaan het aan die kruis, in die graf en deur Sy opstanding uit die dood, sal en kan die magte uit die hel nie die “ekklesia” stuit om hulle taak en roeping uiteindelik suksesvol af te handel nie.

Daarom hoor ons hoe Jesus aan Sy ekklesia, Sy afgevaardigdes, belowe in Mat. 16:19: “Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Hoor jy, lid van die Ekklesia, dit is jou outoriteit en gesag waarmee jy elke dag optree en uitgaan waar jy jou ook al bevind! Tree dan so op, praat dan so, as iemand wat die krag daarvan verstaan!