Print this page

Hoe bestuur ons mense en dinge in diens van die Koning?

Ekklesia2 Ekklesia2

Weet jy wanneer gaan ander mense bewus raak van hierdie “ander”, “vreemde”, “nuwe mens-spesie” wat hier op aarde tussen hulle rondloop?

Nee, dit gaan nie plaasvind as jy hulle “kerk toe” vat nie!

Kom ek “skok” jou met ʼn paar interessante statistieke. Minder as tien persent mense leer ken Jesus as Verlosser en Here “in die kerk” en in “kerklike byeenkomste”!

Tussen tagtig en negentig persent van mense ontdek die God van die Bybel, en Jesus as Opgestane Verlosser en Here, daar waar hulle in die gewone lewe, by die werk, op universiteit, of op skool, op die sportveld en in die openbare lewe, te make kry met iemand wat in sy wandel en handel duidelik “anders” is! En die rede waarom hy of sy so “anders is”, is omdat hulle deel is van hierdie nuwe “mens-spesie”, God se familie hier op aarde, die ekklesia.

Ja, in ons huise en by-mekaar-komste as ekklesia, oefen ons en leer en ervaar ons wat dit werklik behels en kos om “familie van God” te wees.

Dan moet ons uitgaan, buite toe, daar op die voorstoep van die hel, in die gewone lewe en markplein, om daar God se hande en voete te wees. Daar gaan ons sien en beleef hoe ander mense deur God se Gees “weer gebore word” en deel word van die Ekklesia, en ons hulle doop met water en hande oplê sodat Jesus as die Doper met die Gees, hulle kan doop met Sy Gees.

Die lewe van die Ekklesia, waar hulle in die Naam van die Koning en in diens van die Koninkryk van die hemel, alles en almal rondom hulle met hulle totaal anderse lewenswyse en gesindheid behandel en bestuur (“regeer”), daar op die voorstoep van die hel, gaan daar mense “aansteek” met lewe uit die Hemel.

Een van die beste Bybelse begrippe in die Grieks wat ek ontdek het wat dit beskryf, is die begrip “oikonomos”.

Ons sien dit in Skrifgedeeltes soos in Luk. 12:42, Luk. 16:1 e.v. en Tit. 1:7.

Daar word die Griekse woord “oikonomos” gebruik wat die Strongs woordelys as “steward, governor, manager of a household or householdaffairs” beskryf, “to whom the head or proprietor has instructed the management of his affairs, the care of receipts and expenditures, and the duty of dealing out the proper portion to every servant and even to the children not yet of age.”

Ek en jy moet dus namens God, verantwoordelike uitdelers en besteders word van God se genade aan mense. Daarvoor het Hy aan ons die Evangelieboodskap gegee, maar ook sy Gees in ons, wat aan ons bonatuurlike gawes gee om mense op die regte tyd met die regte porsies van hierdie genade te bedien.

As Sy aangenome kinders, wil God hê ons moet Sy oikonomosse word. Maar dit is ‘n geloofskeuse wat ons as aangenome kinders van God moet neem.

Ons moet besluit of ons gaan glo dat ons Sy aangenome kinders is, en of dit sin en betekenis aan ons lewe gaan gee. Of ons kan as Sy aangenome kinders, maar steeds probeer om op die ou manier, soos tipiese “bergie”-nasate van Adam, te leef. Wat lewensin soek in wat jy elke dag suksesvol regkry.

Elke ouer wat ten minste twee kinders het, kan jou vertel hoe verskillend hulle die gesin beleef.

Vir die een is dit ‘n vreugde om saam met die gesin dinge te doen. Terwyl die ander een net botweg weier. Beide geniet die voorreg om kinders te wees in hierdie ouerhuis, maar hulle houding teenoor hulle ouers is verskillend.

Verstaan mooi, alhoewel hulle houdings verskil, kanselleer dit nie hulle “reg” om kinders van daardie ouers te wees nie. Hulle gesindhede beïnvloed wel die wyse waarop hulle lewe in daardie huis, en hulle verhouding met hulle ouers.

Weet jy waar wil die Here ons manier van dink oor ons “kindskap” en “oikonomos-wees” verander?

Daar tussen mense wat soos ons familie van Jesus is.

Volgende keer gesels ons verder hieroor.