Verdra mekaar

verdra verdra

Kom ek begin hierdie gedeelte met ʼn paar persoonlike vrae:

Wie/wat maak jou die kwaadste in die lewe?

Met watter tipe mense is dit vir jou die moeilikste om saam te lewe?

Beskeie, vriendelik, geduldig, verdraagsaam: Watter een van hierdie vier is jy die beste mee? En met watter een sukkel jy die meeste? Wil jy nie sommer net daar waar jy sit, jou oë toemaak en dit wat jy hier bo erken het, bely nie?

Vra Hom sommer om jou te vergewe en deur Sy Gees oor te neem sodat jou lewe meer van die vrug van die Gees sal vertoon.

Ja, want vandag gaan dit oor God wat deur Sy Gees aan ons sê dat deel van leer om mekaar lief te hê, daar in ons naby-familie van families, is om te leer om mense te verdra.

Luister saam met my na die stem van ons Koning in Here daar uit Efesiërs 4:1 tot 5.

“Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.

Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.” Paulus praat hierdie gedeelte, onder die inspirasie van die Gees, van ’n manier van lewe wat in lyn is met die roeping wat daar op jou lewe is.

Wat is hierdie roeping (in algemene terme)? En wat dink jy is dit meer spesifiek in jou lewe in die lig van wat die Here vir jou al langs die pad hieroor geopenbaar het?

Het jy gesien hoe word daar in hierdie gedeeltes ʼn paar dinge aan mekaar gekoppel? Dinge soos beskeidenheid, vriendelikheid, verdraagsaamheid, om in vrede met mekaar te leef en om die eenheid te bewaar.

Wat dink jy is die rede hiervoor? Hoe pas verdraagsaamheid hierby in?

Wanneer moet mens bereid wees om ’n medegelowige se swakhede te verdra en wanneer moet jy met iemand hieroor praat en so ʼn persoon reghelp of selfs vermaan?

Ons sê dikwels “soort soek soort” en bedoel daarmee dat mense wat gemaklik by mekaar pas en aanklank vind, mekaar se geselskap opsoek. Dink jy nie dat hierdie idee juis die hele beginsel van 'n INKLUSIEWE geloofsgemeenskap ondermyn waar daar plek moet wees vir almal wat die Here aangeneem en dien nie?

Hoekom is dit belangrik dat daar staan, “verdra mekaar in liefde?”

Is verdraagsaamheid dan ʼn ding waarin ʼn mens kan groei?

Gesels met die Here verder oor wat Hy vandag vir jou gesê het.