DEEL 2 - PROFETIESE WOORD VIR 2022 EN VOLGENDE JARE

Elisa Elisa

 

As julle dit regtig wil hê, hier is dit! Kom en vat dit!

Onlangs, terwyl ek tyd in die Here se teenwoordigheid spandeer het, het ek gehoor hoe die Here sê: As julle dit regtig wil hê, hier is dit! Kom en vat dit!

Die Here het my geneem na daardie gedeelte in 2 Konings 2 waar die jong profeet, Elisa, die mantel van sy voorganger, Elia, ontvang het.

Kom ek haal dit hier vir jou aan. Luister wat die Here hierdeur self vir jou wil sê.

2 Kon. 2:1-15

_“Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem. Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, en Elia het vir Elisa gesê: "Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe." Elisa se antwoord was: "So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie." Hulle is toe na Bet-El toe. _

_Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: "Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?" Hy het geantwoord: "Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie." _

_Elia sê toe vir Elisa: "Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe." Maar Elisa het geantwoord: "So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie." Hulle het saam in Jerigo aangekom. _

_Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: "Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?" Hy het geantwoord: "Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie." _

_Elia sê toe vir hom: "Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe." _

_Maar Elisa het geantwoord: "So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie." Hulle twee is toe saam verder. _

_'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het. _

Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. _
Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: "Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?" Elisa het geantwoord: "Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!" _

_Toe sê Elia: "Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie." _

_Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in. _

_Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: "My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!" Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. _

_Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. _

_Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: "Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?" Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan. _

Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: "Die gees van Elia rus nou op Elisa."

Vriende, ek beleef dat die Here sê dat ʼn nuwe seisoen voor ons lê waarin die Here elkeen van ons wil gebruik soos ons nooit kon dink moontlik kan wees nie.

Die Here het êrens langs die pad jou ontmoet en begin om jou lewe aan te raak en te verander. Hy het baie tyd en geld gebruik om jou toe te rus juis met die oog op ʼn seisoen soos dié.

Miskien het jy die afgelope tyd gevoel asof jy in die woestyn was of in ʼn wagkamer van die een of ander aard. Maar vandag kom die Here en sê vir jou: Die wagtyd is verby! Dit is tyd dat jy, soos Elisa, dit moet optel waarvoor jy geroep is. Dit is tyd om op te staan en te sê: Genoeg is genoeg! Dinge gaan van hier af verander. Soos God lankal reeds gesê het: Iets van die hemel gaan van nou af hier op aarde, daar rondom jou, gebeur!

Kan ek jou baie persoonlik ʼn vraag vra: Wat het die Here jou gevra om op te tel en om te doen?

Ja, ek weet dat as die Here ons opdrag gegee het om iets te doen, is dit altyd iets wat totaal onmoontlik lyk en waarvoor ons nie kans sien nie.

Daarom wil die Here, soos destyds vir Elisa, jou herinner dat soos wat Hy die God was wat vir ʼn Elia kon gebruik om 12 bonatuurlike wonders te doen, en soos wat Hy vir ʼn Elisa in 24 situasies (twee keer meer as vir Elia) kon gebruik om 24 buitengewone, bonatuurlike wonderwerke te doen (omdat hy gewaag het om daarvoor te vra), so kan Jesus, die Doper met die Gees, ook jou toerus en gebruik om bonatuurlike dinge as ambassadeur van die hemel hier op aarde te doen.

Baie van ons het oral langs die pad tot hier, soveel van die Here gehoor en soveel profetiese beloftes ontvang. Miskien het baie hiervan nog nie in vervulling gegaan nie.

Daarom sê die Here vandag vir jou: Dit is die seisoen hierdie waarin jy My kan vertrou om daardie deurbrake te laat gebeur en om My te vertrou om daardie dinge deur jou te begin doen.

Kom, vat dit, en slaan op daardie water voor jou! Kom en sien hoe Ek voor jou die waters sal laat oopgaan sodat jy droogvoet kan deurgaan!

Ek hoor hoe God se Gees jou uitdaag: Droom groot! Vra daardie groot dinge van My wat al vir soveel jare in jou gees lê en sien hoe Ek dit vir jou gaan gee!

As julle dit regtig wil hê, hier is dit! Kom en vat dit!