DEEL 4 - PROFETIESE WOORD VIR 2022 EN VOLGENDE JARE

Bekeer julle Bekeer julle

 

Bekeer julle want die Koninkryk van die hemel het gekom…

As jy werklik glo dat My Koninkryk met die koms van My Seun as mens hier op aarde gekom het, sal alles wat jy dink, voel, sê en doen, radikaal verander het!

Ja, dit sal jou radikaal tot bekering gebring het en 180 grade laat omdraai en maak dat jy anders lewe elke dag.

Ten minste vier fundamentele waarhede sou jou hart en gees vasgegryp het as jy dit werklik begin glo het, sê die Here.

1. Ek, die Here jou God en Vader, is 'n Goeie God en Vader!

Jy sou onder alle omstandighede en in alle situasies geglo het dit wat Ek jou en elke mens op aarde meer as 20 keer in My Woord van verseker, naamlik: Ek, die Here, is goed! Ek is ʼn goeie God wat elke ding in jou lewe kan laat meewerk tot jou beswil. (bv. Ps. 25:8; 100:5; 135:3; Jer. 33:11; Nahum 1:7)

As ʼn pa in julle wêreld vandag aangekla word van die dinge wat jy en ander aan My soms toedig en My voor verantwoordelik hou, sou julle hom opgesluit het en die sleutel weggegooi het.

As julle werklik My hart wil verstaan en wil raaksien vir hoe dit regtig lyk en wat My werklike bedoeling is, kyk na die lewe van My Seun terwyl Hy hier op aarde tussen julle was.

Hy is perfekte teologie. Hy illustreer My in elke sin van die woord. Hy het nooit iemand weggewys nie ongeag hoe diep hulle vasgevang was in sonde en of hulle baie of min geloof gehad het. My Seun het altyd hulle situasie verander tot hulle beswil en sodat iets van My Koninkryk ook daar kon deurbreek.

Jesus het storms stil gemaak en siektes genees. Ja, Hy het selfs mense wat dood was, lewendig gemaak. Dink net vir ʼn oomblik hieroor na: As Ek werklik daardie storm of siekte veroorsaak het, of mense dood gemaak het, dan was Ek as Vader, en dit wat Jesus daar gedoen het, mos in stryd met mekaar.

Verstaan jy nou dat Jesus het gedoen wat Hy gedoen het omdat Hy geweet het dat satan en sy bose magte hier agter was.

Het My Seun dan nie self gesê dat Hy niks doen nie wat Hy nie Sy Vader sien doen nie?!

Daarom het My Seun, Jesus, nooit siekte toegelaat om te bly nie. In elke geval van waar iemand na Hom toe gekom het met hulle nood of siekte, was daar by Hom ʼn gewilligheid om te help en om dit te verander. Daarom het almal wat na Hom toe gekom het met hulle nood, genees weggestap. Daarom is Jesus en wat Hy gedoen het, vir julle die perfekte prentjie van wat gebeur as Ek as ʼn goeie God, werklik totaal beheer oorneem en heers as Koning in ʼn situasie. Waar My Koninkryk kom, moet siekte en demone, ja, selfs die dood, pad gee.

2. Julle sou elke dag en elke minuut van die dag julleself en ander herinner het, dat niks onmoontlik is nie.

Luister maar net na die volgende verse waar Ek hierdie waarheid aan julle harte vasgemaak het, sê die Vader:

Mat. 17:20 – En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Mrk. 10:27 – Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Luk. 1:37 – Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Luk. 18:27 – Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.

Job 42:2 – Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.

Fil. 4:13 – Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Mense sê so maklik dat hulle glo dat Ek hulle kan genees of hulle situasie kan verander.Dit is natuurlik die waarheid en ʼn goeie plek om te begin. Hulle besef egter nie dat die vyand en elke demoon dit ook weet en glo nie.

Geloof is maar een van die sleutels wat die deure en die vensters oopmaak sodat My Koninkryk met My genesende genade kan deurbreek.

Begin ten minste daar. Bou, versterk en beoefen ten minste julle geloof tot die mate wat dit aan julle gegee is.

3. My Seun, Jesus, se Bloed het reeds vir alles betaal

Toe Jesus 9 April 32 n.C. daar aan die kruis gehang het, het Hy 15h00 daardie middag, in Grieks, net een woord gesê: Tetelestai! Dit is gedoen! Dit is afgehandel! (Joh. 19:30)

Alles wat nodig was, wat Ek as God, daar aan die begin, voor tyd en voor die skepping reeds beplan het, is daardie moment alles afgehandel en voltooi.

Niks was meer nodig nie. Enigiets wat julle as mens ooit mag nodig hê, selfs in ʼn honderd miljoen jaar van nou af, is reeds daar aan die kruis afgehandel.

Luister hoe sê Ek dit deur My Gees self daar in Ef. 2:7 vir julle: “… sodat Hy in die tye wat voorlê bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus.”

Die allesoortreffende rykdom van God se genade, deur Sy goedheid aan ons, het alles daar aan die kruis gebeur en alles is daar afgehandel en voltooi. Alles het daar deur die lyding en dood van Christus Jesus, God die Seun, wat mens geword het, gebeur.

Daar is niks wat ooit êrens in die toekoms op enige stadium kan gebeur wat dit vir My nodig sal maak om enigiets verder te doen as dit wat Jesus reeds daar aan die kruis gedoen en afgehandel het nie.

4. Elke mens is van waarde en pas uniek êrens in My plan in, sê die Here

Ja, ek weet dit is maklik om dit te glo oor mense oor wie jy positief voel en wat al iets in hierdie lewe bereik het. Maar die volle waarheid is dat Ek as God so oor elke mens voel.

Daarom is dit belangrik om daardie dag en daardie presiese oomblik te onthou wat elke mens gebore is. Daardie dag was daar iemand daar wat na daardie baba gekyk in totale verwondering en met ʼn dankbaarheid, al was dit dan net dat daardie kindjie lewendig gebore is.

Weet jy wat verander die manier hoe ʼn mens na jouself en ander kyk?
Wanneer jy uit My mond as God hoor wie Ek bedoel het jy moet wees en waar jy inpas in My prentjie en hoe Ek na jou kyk. Daardie oomblik verander ʼn mens se lewe en daarna wil jy nooit weer iemand anders wees nie.

Een van die belangrikste dinge vir julle om in die verband om te onthou is dat Ek mense lank voordat hulle enigiets iets gedoen het om My guns en genade te verdien, gekies het.

Ek sê dit immers vir julle daar in Jes. 61.

Onthou jy, dit is die gedeelte wat Jesus daar in Lukas 4, aan die begin van Sy bediening aangehaal het.

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (Luk. 4:18-19)

Maar dan volg ʼn merkwaardige slotsom daar in daardie profetiese gedeelte in Jesaja.

Dit is juis hierdie mense wat Ek in My genade eers moes bedien, wat treur en hartseer is; wat stukkend en siek is; wat bevryding eers nodig het; wie se lewens en verhoudinge eers gerestoureer moet word... dit is hulle van wie daar in Jes. 61:3 en 4 verder staan:

“Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.”

Dink ʼn bietjie hieroor na.

Juis daardie mense in die samelewing wat die stukkendste is, op wie goeie “kerkmense” neerkyk en wat vermy word deur die meeste mense… Dit is daardie mense wat Ek as God gekies het en wil salf en toerus om die bouers te word en herstellers van ʼn klomp nuwe stede; ʼn klomp “cities of light”!