DEEL 5 - PROFETIESE WOORD VIR 2022 EN VOLGENDE JARE

Show me the gooddies Show me the gooddies

 

“Show Me the goodies!”

Dit is so maklik vir julle om te sê dat julle hierdie vier kardinale waarhede glo: Dat Ek, julle God, werklik ʼn goeie God is; dat niks onmoontlik is nie; dat die Bloed van My Seun, Jesus, werklik reeds vir alles betaal het; en dat elke mens en hulle lewe betekenisvol is.

Maar dit is eers as hierdie lewensveranderde waarhede so deel geword het van wat jy dink en wat vir jou waardevol is, dat dit jou gedrag begin bepaal. Dit is nou nie net deel van jou aksies en wat uit jou mond kom nie; dit is ook nou deel van jou reaksies; van daardie aksies, optrede en sê-goed wanneer jy nie dink nie, maar net reageer!

1. As God werklik goed is; droom groot!

Ja, ek weet julle is al so gewoond om, as iemand sê: “God is good”, dan antwoord almal: “All the time!”

Maar as julle werklik glo dat Ek as julle God goed is, dan sal dit vir almal duidelik word in julle vermoë om groot te droom.

As ambassadeur van die hemel hier op aarde, is dit immers julle uitdaging en roeping in diens van die Koning om daar waar jy lewe en werk, God-grootte drome te droom wat net Ek as ʼn lewende God kan waar maak.

Daardie soort drome word daar in jou intieme tye met My as jou Vader en Vriend gebore, sê Johannes in vier gedeeltes (14:12-14; 15:7,16; 16:23-24).

As ʼn mens met ʼn vrye wil en keuse, nooi Ek as jou Vader, jou in in ʼn daaglikse liefdesverhouding met My, waarin Ek My hart en drome aan jou bekend kan maak sodat dit ook jou drome en hart word.

As jy daar My daar leer ken en ontdek dat Ek werklik net so goed is soos wat jy My ken as ʼn heilige God, dan het jy geen verskoning meer om God-grootte drome te droom nie.

Dan word jy ʼn gewillige tuinslang waardeur My goedheid as ʼn Vader deur jou kan stroom na mense rondom jou.

2. Niks is onmoontlik nie – begin waag!

Wanneer jy werklik glo wat Ek vir jou gesê en belowe het in My Woord en dat niks vir My ontmoontlik is om te doen nie vir die wat glo, sal julle begin verstaan wat Ek bedoel het met die woorde van My Seun, Jesus, daar in Johannes 14:12-14, naamlik: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Besef julle dat dit beteken dat julle My oplossing is vir dood, verlies en vernietiging wat die mensdom so teister! Verstaan julle dat dit ook beteken dat Ek julle wil gebruik as antwoorde vir COVID en soortgelyke ander situasies!

As julle dit begin glo, sal julle begin waag om in My Naam op te staan en te doen wat nodig is sodat daardie situasies begin verander en sodat mense voor hulle oë iets van die realiteit van My Koninkryk sien sigbaar word.

Dit is immers waarvoor My Seun Sy lewe gegee het, in jou lewe en in ander se lewens rondom jou.

Geloof is om vir My plek en ruimte te maak om die Buitengewone en die Onmoontlike te doen.

Maak vir My plek om in te kom en om te kom doen wat Ek wil doen waar mense My Woord glo en vertrou en dit begin gehoorsaam, en julle sal sien hoe My wil en My Koninkryk kom “soos in die hemel”!

3. Jesus se Bloed het reeds vir alles betaal – Jy moet dit net werklik begin glo en vertrou

Julle hele lewe, hoe julle oor dinge dink en voel, daaroor praat en wat julle doen, sal radikaal verander as julle werklik glo en vertrou dat My Seun Sy lewe aan die kruis vir julle gegee het en so alles gedoen het wat nodig was.

As julle My toelaat om deur My Gees julle oë vir die diepte en implikasies hiervan oop te maak, sal dit julle neem na ʼn nuwe dimensie van liefde en geloofsvertroue wat julle tot nou toe nie geken het nie.

Julle sal begin verstaan wat Ek werklik daar in 1 Kor. 13:13 bedoel het met:
“Die grootste hiervan is die liefde!”

Maar ook met Heb. 11:6 se woorde: “Sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag!”

Onthou julle wat Ek vir julle daar in Rom. 8:32 gesê het? “ Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het - sal Hy nie alles aan ons skenk nie?”

Hierdie woord kan julle vrymaak en julle lewens verander!

4. Julle lewens het unieke betekenis – Maak dat dit tel elke dag!

Daarom is dit so nodig vir My kinders om hulle ware identiteit in Christus te ontdek! Niks verander ʼn mens se lewe soveel as wanneer jy werklik ontdek het wie jy in Jesus Christus is en dat jy werklik kind is van die Hemelse Vader en Almagtige God nie.

Ja, dat Ek jou aangestel het en wil toerus om ʼn ambassadeur en verteenwoordiger van die Koninkryk van die hemel hier op aarde te wees, daar waar jy woon, leef, werk en beweeg.

Dit is wie julle is. Van die oomblik wat julle jul oë in die oggend oopmaak, tot julle vannag gaan slaap, maar ook wanneer julle niks doen nie, of net sit en ontspan of slaap.

Dit is wie julle is.

Die dag wat julle dit werklik ontdek het, verander alles. Dan kan julle verstaan wat daar in Joh. 13 gebeur het toe My Seun, Jesus, Sy volgelinge se voete gewas het. Onthou jy hoe dit beskryf word?

“Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.

Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak.

Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

Besef jy dat My Seun dit kon doen omdat Hy presies geweet het wie Hy in My oë was en dat Ek alles, alle mag, in Sy hande oorgegee het?

Hy, as God die Seun, was bereid om alles prys te gee om ʼn mens te word om Ons Plan tot vervulling te laat kom. Maar, hier aan die einde van Sy aardse lewe, in hierdie laaste week net voor Sy kruisiging, het Hy ook geweet dat Ek as die Vader, alles in Sy hande teruggegee het. Ja, sodat Hy dit, ʼn ewige erfenis, weer kon gee vir elkeen wat Hom volg en in Hom glo.

Wanneer een van julle werklik verstaan wie julle is in My oë, kind van die Koning, ambassadeur van die hemel hier op aarde, maar ook besef dat julle erfgename is van hierdie oorvloedige hemelse erfenis, is niks te onbelangrik of te gering om te doen nie.

Wanneer hierdie vier Bybelse waarhede die fondasie geword het van julle geloofslewe en wie julle is, kan Ek julle gebruik om daar waar julle is en lewe, iets van My hart aan mense te openbaar.

Dan kan Ek julle gebruik om daar tussen julle ʼn atmosfeer en ʼn kultuur te skep waarin mense bewus kan raak van My teenwoordigheid, My hand en My heerlikheid.

Daar sien mense met gewone oë raak wie Ek is. Daar hoor mense met gewone ore My stem met hulle praat.