Print this page

Gehoorsaamheid aan die Koning is ononderhandelbaar in die Koninkryk van God

Jesus is die Here Jesus is die Here

 

Die God van die Bybel is ʼn heilige God, wat sonde haat!

Hy haat sonde soveel dat, omdat Hy die mens wat Hy geskape het, so lief het en nie wil hê dat een verlore gaan nie, Hy hulle moes loskoop met die bloed van Sy Seun, Sy enigste, wie self God is!

Die enigste manier hoe Hy as ʼn Heilige, Regverdige God mense kan genadig wees, was as hulle Sy genadegeskenk, Sy oplossing, Sy weg na Redding en Verlossing uit die hel waarheen hulle almal op pad was, sou aanvaar in geloof en daaraan sou vashou.

Slegs hulle wat in geloof aan Jesus as Verlosser, maar ook Hom as die Here en Koning van hulle hele lewe sou vashou tot die einde van hulle lewe, word geregverdig of totaal vrygespreek van die skuld en straf wat hulle eintlik verdien as gevolg van hulle sonde.

Daarom het God die Tora, die Wet, gegee as die Tugmeester na die Christus toe, sê die Gees deur ʼn Paulus daar in Galasiërs. Om elkeen van ons, as ons onsself daaraan toets, te help ontdek ons is totaal verlore en op pad hel toe.

Dit is waarom Christus Jesus ook vir elkeen van ons gekom het; om my te kom red; om ook my Verlosser te wees en met Sy Bloed die skuldrekening as gevolg van my sonde te kom betaal.

Daarom was dit nodig, voor my redding en bekering, dat iemand die wet moes gebruik om my te oortuig dat ek ʼn sondaar en op pad hel toe is. Iemand moes my vra: Het jy al ooit die Naam van God gebruik as ʼn vloekwoord of ʼn stopwoord? Het jy al ooit êrens, die een of ander tyd, iemand gehaat of selfs dood gewens? Het jy al ooit na iemand van die teenoorgestelde geslag begeerlik gekyk? Het jy al ooit êrens, die een of ander tyd, iets gevat, iets gesteel, wat nie joune was nie?

As jy net een van hierdie vrae met ʼn ja beantwoord, sê die Heilige God vir jou, jy is ʼn sondaar, totaal verlore en verdien die hel met al sy smarte.

Daarom het ook jy Jesus as Verlosser nodig. Om gered te word. Om deur God begenadig te word. Om deur God vergewe te word. Om kind van God en deel van God se familie op aarde te word.

Miskien kan jy ook, soos ek, vandag in sekerheid sê, ja, ek het hierdie pad in my lewe gestap. Ek het op daardie dag besef ek is totaal verlore en op pad hel toe. Toe het ek die Evangelieboodskap oor Jesus gehoor en Hom aanvaar in die geloof as my Verlosser.

Dan moet ek vandag ook jou daaraan herinner dat Hy ook jou Here en die Koning is. Sy woord is en bly die wet in jou lewe. Reg bly reg en verkeerd bly verkeerd. Sonde bly dit wat Hy sê sonde is.

Daarom leer Hy jou en my om as ons mense dissipel en leer om Hom te volg as hulle Verlosser en Koning, dat ons hulle sal leer om alles te onderhou, met ander woorde, alles gehoorsaam te doen, wat Hy ons geleer het om te doen!

Daarom kan jy, nou dat jy Sy kind is, na jou bekering, nie doen soos en wat jy wil nie. Daarom kan jy nie met sonde speel en dink jy gaan daarmee wegkom nie. Reg bly steeds reg, en sonde bly sonde!

Toe Jesus my en jou gered en wederbaar het, het Hy ons uit die mag van sonde gered. Hy het die mag van sonde in ons lewens gebreek en ons vry gemaak om te kan nee sê vir sonde, vir ons vlees en al sy begeertes.

Daarom is ons nie meer sondaars en magtelose gevangenes van sonde en ons sondige natuur nie. Nee, ons kan nou nee sê vir sonde. As ons nou sondig, dan is dit nou ons keuse. Dan het ons nou self gekies om, teen ons beterwete in, teen God en teen die Heilige Gees hier binne in ons, se leiding en se pleit in, tog te doen wat God duidelik in Sy Woord sê sonde is!

Dit is dan wanneer God se Gees by ons kom pleit en ons kom waarsku dat ons, as ons dit doen, as ons teen ons eie beterwete, as verloste mense, steeds sondig en aanhou daarmee, ons op die mees gevaarlike plek is waar ʼn mens kan wees!

Gaan lees asseblief maar self wat staan hieroor daar in Hebreërs 6:4 tot 8, en Hebreërs 10:26 tot 31, en Hebreërs 12:15 tot 29!

Sien, jou lewe, jou ewige bestemming, is hier op die spel! Ek pleit by jou!
Gehoorsaamheid in die lewens van die kinders van God se lewe is ononderhandelbaar!

As jy, soos ek, nadat jy dit gelees het, net weer deur God se Gees herinner word aan dinge in jou lewe wat jy weet nie reg is nie, of waar jy ongehoorsaam was aan die stem en die leiding van die Heilige Gees, bely dit onmiddellik en vra God se vergifnis daarvoor. Aanvaar dan Sy vergifnis, soos Hy immers belowe daar in 1 Joh. 1:9.

Staan dan op en gaan doen wat jy moet doen. Gaan maak reg waar jy moet reg maak.

Related items