Wat was Jesus se sentrale boodskap?

Jesus se boodskap Jesus se boodskap

 

Vandag wil ek ʼn bietjie halt roep en net seker maak of elkeen wat week na week so lekker “ja-ja sê” op alles wat ek vir julle in hierdie nuusbrief van die afgelope weke geskryf het, werklik verstaan waarop hulle “ja-ja” sê.

Ai, daarom wens ek dat ek elkeen van julle in die oë kon kyk en uit jou eie mond kon hoor wat jy iemand sou antwoord wat vir jou sou vra: Wat was Jesus se sentrale boodskap in die sowat 33 jaar wat Hy mens was hier op aarde?

Toe iemand hierdie vraag die afgelope tyd gevra het op Facebook, het ek half opgewonde gewag op die respons.

Die antwoorde wat oor en oor deurgekom het, was die volgende: O, dit is maklik, Jesus se sentrale boodskap was dat ons mekaar moet liefhê.

Ja, sê ʼn volgende skrywer, liefde is Sy sentrale boodskap.

Oor en oor het ʼn mens dit gehoor. Niemand het eers gewaag om hiermee te verskil nie.

Wat sou jou antwoord wees?

Sal jy verbaas wees as ek vir jou sê dat om mekaar lief te hê” NIE DIE SENTRALE BOODSKAP VAN JESUS was nie?

Die idee dat Jesus na hierdie aarde toe gekom het om ons as mens te kom leer hoe om meer liefdevol, vriendeliker, en aangenamer teenoor ons naaste te wees, klink miskien goed vir die twee-en-twintigste-eeuse mens, maar dit is ʼn totale verdraaiing van Jesus se ware boodskap en wie Hy in werklikheid was!

Die sentrale boodskap van Jesus Christus was eerder hierdie radikale, rewolusionêre, aardskuddende boodskap dat Hy, en net Hy, die nuwe Koning hier op aarde is.

Al verskil sowat twee-derdes van die mensdom tans baie hewig hiervan op die oomblik, gaan elke knie uiteindelik voor Hom buig en gaan elke tong uiteindelik dit moet bely!

Hierdie boodskap oor die Koninkryk van die hemel wat hier op aarde in en met Jesus se koms gekom het, sluit in werklikheid ʼn radikale oproep in wat dit wat so algemeen, demokraties aanvaar word oral oor die wêreld, oor wat werklik belangrik en van waarde is, of wat werklik die moeite werd is om jou lewe voor te gee of alles voor op te offer, in werklikheid snert is!

Die boodskap oor die Koninkryk is nie diplomaties of alles akkommoderend nie! Soos ons die afgelope weke vir mekaar oor en oor gesê het: As Jesus Christus werklik die nuwe Koning hier op aarde is, dan is Sy Woord wet en dan is daar nie ruimte om daaroor te redekawel of meer akkommoderend te probeer wees nie!

As ons werklik glo dat die Bybel God se Woord is, en dat Jesus Christus God is wat mens geword het om nou die nuwe Koning te wees, dan is en bly die Bybel, as God se geïnspireerde Woord, ons enigste, finale toets vir wat waarheid is en wat leuen en vir wat reg is en wat verkeerd is.

Die Bybel bevat immers, deur die inspirasie van die Gees, dit wat Jesus self vir ons gesê het terwyl Hy hier op aarde tussen ons was, en wat God die Vader, deur die Heilige Gees, meer as 40 skrywers wat op twee kontinente gewoon het, geïnspireer het om oor plus minus twee eeue neer te skryf om Homself en dit wat in Sy hart is aan ons as mense te openbaar.

Vandag is dit vir elkeen van ons toeganklik en geredelik beskikbaar in vele Bybelvertalings in allerhande tale, sodat elke mens in 2022, dit kan lees en met hulle eie ore ook so “die stem van God” vir hulle self kan hoor en self kan seker maak wat werklik die wil van die Koning is.

Ja, die werklike volgelinge van die Koning gaan herken word aan die manier hoe hulle, in gehoorsaamheid aan die stem van die Koning, mekaar en ander mense rondom hulle gaan liefhê.

Hierdie manier van liefhê, in gehoorsaamheid aan wat hulle Koning hulle hieroor geleer het, is egter so rewolusionêr dat dit in werklikheid teen alles indruis wat die wêreld onder “liefde” en “liefhê” verstaan.

“Om lief te hê” soos die Koning ons leer, kos alles wat ons het en vra alles wat ons het.

Ja, dit beteken in werklikheid om “dood te gaan” aan alles wat vir jou belangrik is.

Hierdie soort “liefhê” en “liefde” wat Koning Jesus, deur Sy Gees, ons leer en vra, beteken altyd om jou eie lewe, jou eie regte, jou eie belange en jou eie menings neer te lê.

Daarom word elke nuut- en weer-gebore volgeling van Koning Jesus, op daardie eerste dag van hulle “nuwe lewe” as Sy volgelinge, “dood verklaar en begrawe” in die water-graf van die doop, want dit wat ons was voor ons bekering, ons ou mens, ons ou vlees, is nie in staat en geredelik bereid om lief te hê soos die nuwe Koning dit van ons vra nie.

Hierdie nuwe wedergebore lewe wat nou deur die werking van die Heilige Gees van God in elke nuwe volgeling van Koning Jesus aanwesig is, is ʼn bonatuurlike nuwe lewe, geskenk uit die hemel en is Christus se lewe deur die werking van die Heilige Gees in ons.

Net hierdie nuwe wedergebore gees-mens kan liefhê soos Koning Jesus te wil.
Verstaan jy nou waarom ek gesê het die liefde en soort “liefhê” waarvan Koning Jesus praat, radikaal verskil van wat die wêreld bedoel as hulle praat van “liefhê” en “liefde”.

In die volgende nuusbriefie of twee gaan ek jou prakties iets van die radikaliteit van die boodskap oor die Koninkryk vir jou illustreer as ons oor “kerk” en oor “geld” praat.