Is jy een van die meer as 80 persent van Jesus se volgelinge?

Gee Gee

 

Is jy een van die meer as 80 persent van Jesus se volgelinge wat glad nie meer “God se deel” in die vorm van geld gereeld gee nie?

Wat maak jy dan met “God se deel” van wat die Here vir jou en jou gesin gee om julle mee te versorg?

Miskien gee jy nie meer nie, want jy het agterkom dat daar waar jy gewoonlik dit gegee het, word die waarheid van God se Woord nie meer verkondig nie. Daarom gaan jy ook nie meer daarheen nie.

Ja, ek ken feitelik al die redes waarom volgelinge van Jesus nie meer gereeld gee soos ons Koning in Sy Woord ons leer nie.

Vandag wil ek nie met jou oor daardie redes praat nie, want vandag maak dit wat jy as ʼn rede aanvoer waarom jy nie gereeld “God se deel” in die vorm van geld nie gee nie, glad nie saak nie!

Vandag gaan ek net weer vir jou wys wat sê die Koning hieroor.

God se deel

Vandag gaan ek bv. vir jou wys dat jou Koning nêrens vir jou gesê het jy moet “vir die kerk of vir ʼn sekere betrokke kerk” gee nie.

Jou Koning het eerder vir jou as deel van Sy sentrale boodskap, aangesê om Sy Koninkryk, ook met jou geld en met jou gee van God se deel, te soek!

Hoef ek vir jou te sê dat “God se deel” in die Ou Testament (en ook in Mat. 23:23) ook as “jou tiende” of “tiendes” genoem word? Op ander plekke word dit “offergawe of offergawes” genoem”.

Hoekom gee jy?

Hoekom en hoe gee jy God se deel as volgeling van Jesus in die Koninkryk?

Ja, ek weet daar is baie predikers wat gelowiges met allerhande tekste die son en maan belowe as hulle maar net “hulle tiende gereeld elke maand sal gee”.
Dit is nie wat ek in hierdie gedeelte wil doen nie.

Daarmee sê ek nie dat die Here nie Sy mense wat gehoorsaam gee waar Hy hulle aansê om te gee, uit hulle skoene gaan seën nie! Inteendeel, uit my eie lewe en ervaring weet ek dat die Here ons oorvloediglik seën as ons gehoorsaam is aan Sy stem in die verband!

Wat ek wel wil beklemtoon vandag is die ander soort “seën” wat ons kan verwag as ons God se deel gee soos ons Koning ons leer.

As jy daar “saai en gee”, gaan jy sien en ervaar wat gebeur as iemand in ʼn hemelse bankrekening saai waar inflasie en ʼn korrupte, selfgesentreerde bank en ekonomiese stelsel geen rol speel nie.

Dit is waar jy voor jou oë bonatuurlike vermenigvuldiging in terme van die koms van die Koninkryk gaan sien en ervaar in mense se lewens.

Dit is wanneer jy sien hoe die bietjie brood en vis wat jy daar gee, deur Koning Jesus vermenigvuldig word!

Dit is ook waar jy beleef hoe God self jou begin beskerm, jou begin vergesel en begelei in waarmee jy besig is. Skielik gaan jy beleef hoe die Here jou “gebruik” om wonders te laat gebeur en om mense te seën soos jy nooit gedink moontlik kan wees nie.

Waar moet ons eerstens God se deel gee?

Veral as ons gee in die lewens en bediening van mense wat in jou en ander mense se lewens voltyds besig is omdat die Here hulle gesalf en opdrag gegee het om “die Ekklesia” te bedien en toe te rus vir hulle dienswerk in diens van die Koninkryk.

Kom ons noem dit sommer ons gee in die lewens van die persone in die vyfvoudige bediening van Ef. 4:11-16.

Dit is die rede waarom ek vandag met jou hieroor wil praat, want ek wil hê jy moet dit meer en meer in jou eie lewe en in jou besigheid beleef.

Hierdie “saai” en “gee” waaroor dit hier gaan, word op verskillende maniere beskryf in God se Woord:

Ja, jy ken die Ou Testamentiese beskrywing daarvan! Soos om jou “tiende” te gee, of om “die eerste deel” van jou oes te gee.

Of, soos Maleagi dit beskryf: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”

(En nee, jou pastoor of dominee is verkeerd as hy dit interpreteer dat “skathuis” julle betrokke “kerk” of “gemeente” is! “Skathuis” in die lig van die hele Bybelboodskap, is om te gee waar die Here vir jou in Sy Woord gewys het om te gee waar dit wat jy gee werklik die koms, deurbreek en sigbaar word van die Koninkryk van God en Sy genade en liefde laat gebeur!

Of soos Lukas 16:9 en 10 dit beskryf: "En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.

As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?”

Hoor jy, die manier of en hoe jy gee en saai as volgeling van Jesus, wys hoe belangrik geld werklik in jou lewe is! (Wat in hierdie gedeelte “oneerlik” en in diens van Mammon aangewend is).

Jesus wys ons, daarteenoor, hoe jy met jou gee en saai van geld in jou persoonlike lewe en vanuit jou besigheid, in diens van die koms van die Koninkryk kan gee en saai, sodat wanneer jy die tydelike met die ewige gaan verwissel, dit ook daar getuienis sal lewer van jou liefde vir die Koning.

Het jy geweet dat God se Woord aan die Nuwe Testamentiese volgelinge van Jesus duidelike leiding gee van hoe en waar hulle ook in hulle plaaslike geloofsfamilies kan gee sodat die koms van die Koninkryk ook daar kan gebeur?

Jy kan dus, eerstens, in daardie mense se lewens en bediening gee waarvan ʼn vers soos Gal. 6:6 praat. Luister wat hier staan: “Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.” Dit gaan dus om “die Here se deel” te gee in die persone se lewens wat die Here gebruik om jou geestelik te voed en jou geestelik te bedien.

Jy weet wie daardie mense is en waar hulle is. Dit is waar “die Here se deel” heel eerste heen moet gaan. ʼn Deel hiervan kan ook dan gaan na ander persone se lewens wat deel is van God se Ef. 4-span, daardie apostels, profete, herders, leraars en evangeliste, wat ook jou bedien en met wie jy hande gevat het in hulle bediening, omdat jy die vrug en die oes op hulle bediening sien.

Waar moet ons daarna gee as ons nog oor het?

Die volgende plek waar ek en jy as volgelinge van Jesus moet saai en gee in diens van die Koninkryk se koms, is om in die lewens van gelowiges te gee en te saai wat finansiële nood of behoefte het.

Dit is daardie mense waarvan Jakobus en 1 Johannes praat, waar ons duidelik kan sien daar is finansiële behoeftes. Onthou, dit gaan hier oor mense wat elke dag doen wat hulle moet doen en wat werk en hulle finansiële verantwoordelikhede nakom, maar iets het gebeur wat maak dat hulle net nie genoeg het nie. Miskien het een van die broodwinners hulle werk verloor, of was daar ʼn ongeluk of ʼn groot breek. Dan kan ons nie net sê ons bid vir hulle nie, veral nie as ek het om te kan help nie.

Derdens, as ek in hierdie twee groepe in diens van die koms van die Koninkryk gegee en gesaai het, kan ek ook kyk na die volgende groep mense waar God ons wil gebruik as Sy arms en bene, as Sy ambassadeurs.

Hier gaan dit daaroor om in mense se lewens wat nie gelowiges is nie se nood en behoefte te saai in diens van die Koning en Here wat ons dien. Miskien wil Hy jou daar gebruik om hierdie mense bewus te maak van ʼn God wat hulle so liefhet en ook vir hulle omgee.

Asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie. As ons praat oor hierdie groep ongelowige mense, dan gaan nie hier eerstens oor daardie bedelaar wat vir jou gereeld kom geld vra nie. As dit oor so iemand gaan, moet jy baie mooi luister na God se stem of jy vir ʼn bedelaar wat daardie lewe gekies het al vir jare, spesifiek geld moet gee! Miskien moet jy net vir so iemand kos gee om te eet.

Ons praat eerder hier oor daardie ongelowige man of vrou, of gesin, waar “die lewe gebeur het”, en waar jy voel die Here wil hê jy moet dit saai of gee wat oor is nadat jy reeds in die eerste twee groepe gegee het.

Luister baie mooi wat God se Gees vir jou in die verband aansê om te doen.

Onthou, jy is geroep om heeltyd ʼn verantwoordelike bankbestuurder van God se goed en seën te wees en wat nou uit dankbaarheid kan gee omdat die Here vir jou meer as genoeg gegee het.

Gaan lees maar net weer wat alles hieroor staan in 2 Kor. 8 en 9.

Mag dit jou aanspoor om nog meer van jou geld en goed aan die Koning beskikbaar te stel om so te gebruik in die koms van Sy Koninkryk.