Print this page

Dag 14 – Die gebeure daardie Donderdag, die 10de April 32 n.C.

Die brood en die beker Die brood en die beker

 

Die betekenis van die Bloed van Jesus

Onthou, die Joodse dag, 14 Nissan, het 18h00, ons Woensdagaand (met ander woorde gisteraand 18h00) reeds begin.

En daardie dag het die tipies Joodse gesin saam die Pesach-maaltyd saam gevier.

En daardie fees-maal, net soos al die ander Joodse feeste, is volkome vervul in alles wat Jesus Christus, as die Lam van God, vir my en vir jou kom doen het.

As die Lam van God, was Hy die Finale en Laaste Lam wat ooit geslag hoef te word. Deur Sy Bloed wat vir ons gevloei het, is ons gered van die dood, soos wat elke oudste seun van die Israeliete daar in Egipte gered is. Deur Sy Bloed en alles wat in die lewe, kruisiging, dood, drie dae in die graf en opstanding gebeur het, is ek en jy eens en vir altyd uit die kloue van Satan, die dood, sonde, en die finale dood, die hel, gered.

En dit alles kan ek en jy, so gereeld moontlik, en nie net eenkeer ʼn jaar nie, herdenk en vier deur saam die tekens van die brood en die wyn te gebruik (soos ʼn gedeelte soos 1 Kor. 11:23-34 vir ons teken en verduidelik).

Kom, kry jou Bybelvertaling of twee byderhand en lees hardop hierdie gedeelte in 1 Kor. 11:23 tot 34 en luister fyn om te hoor wat hoor jy die Lewende, Opgestane Here vir jou sê.

Herhaal wat hier staan in jou eie woorde so volledig as wat jy kan.

As hier gepraat word oor Sy Liggaam wat vir jou gebreek is en Sy Bloed wat vir jou gevloei het, gaan alles dus oor die lyding en dood van Jesus in my en jou plek.

Alles gaan dus oor die Bloed van Jesus, as die Finale Lam van God, wat soos met die eerste Pesach daar in Egipte, aan die deurposte gesmeer is, en die dood, en die Finale Dood en Straf as gevolg van ons sonde, ons verby sal gaan en geen houvas of gevolge vir ons meer inhou nie.

Omdat Jesus in jou plek gely en gesterf en die helse smarte en straf as Middelaar en Verlosser volledig ervaar en gedra het, kan die Heilige God, aan elkeen wat dit vasgryp in geloof, sê: Jy is vergewe, verlos, vrygespreek, genees, nuut, geregverdig en geheilig. Die dood en die Dood (in die sin van die hel aan die einde) het geen houvas of hou geen vrees vir jou in nie.

Die afgelope tyd bid ek daarom weer die Bloed van Jesus elke dag oor my en my geliefdes, en elkeen van julle wat deel is van ons Familie in Jesus af.

En omdat ek weet hoe dit my troos en versterk, wil ek graag in die volgende dae, tot ten minste Sondag, verder saam met jou nadink oor die betekenis van die Bloed van Jesus wat vir ons gevloei het, en spesifiek wat dit vir my en jou vandag beteken.

Kom ons praat met die Here in gebed oor wat Hy spesifiek vandag vir ons gesê het.