Print this page

Die vyfvoudige bediening is die normale bloedsomloopstelsel in die Ekklesia

bloedsomloopstelsel bloedsomloopstelsel

 

Ja, ek weet ons is gewoond in die verflenterde, stukkende prentjie wat ons rondom ons van die Ekklesia het, dat gemeentes (en “kerke”) elkeen “sy eie” herder of leraar, of selfs meer as een herders of leraars het.

Hierdie leiers word dan name soos “dominee” of “pastoor” genoem. Hulle word dan ook voltyds in diens geneem deur hierdie gemeentes en maandeliks selfs met ʼn salaris betaal. Die meeste van die tyd moet hierdie persone, om te “kan kwalifiseer om op hierdie wyse in gemeentes te kan dien”, ʼn sekere hoeveelheid teologiese en of Bybelse opleiding hê. En, baie belangrik, hulle moet ʼn amptelike “lidmaat” van daardie betrokke gemeente of kerk of denominasie of deel van die Ekklesia wees!

Afhangende van, of in watter deel van die Liggaam so ʼn gemeente of kerk dan val, word daar sekere vereistes of vaardighede van so ʼn persoon vereis om te kan kwalifiseer om op hierdie wyse voltyds in hierdie gemeentes of kerke te kan dien. In die Gereformeerde gedeelte van die Ekklesia, byvoorbeeld, klink dit amper asof so ʼn “dominee” (want dit is wat hulle daar genoem word), letterlik die Bybelse vyfvoudige bediening “in een persoon” moet wees om te kan kwalifiseer om beroep te word na hierdie NG-gemeentes!

Wat natuurlik, tussen ons gesê, ʼn totaal onbybelse verwagting is, en heelwaarskynlik die rede is waarom tot 60% van alle dominees en hulle gades in die NG Kerk, byvoorbeeld, een of ander vorm van antidepressant gebruik.

Hoe kan dit anders? ʼn Normale persoon sal totaal uitbrand in die midde van sulke onmenslike verwagtings van ʼn gemeente!

Kyk ʼn mens egter na ook van die ander gedeeltes van die Liggaam, sien jy hoe die leiers en pastore van gemeentes, baie beskermend is oor wie hulle “toelaat” op die verhoog of kansel! Dit is amper asof hulle bedreig voel teenoor enigiemand van buite wat dalk lyk of hy of sy die betaalde leier van daardie gemeente of kerk se posisie in die gemeente in gedrang kan bring!

Al hierdie bogenoemde “ekstra” vereistes, plus die versnippering van die Liggaam van Jesus in tot 30 000 verskillende kerke en denominasies net in Suid-Afrika, veroorsaak dat Jesus se bedoeling met die Vyfvoudige bediening as “die normale geestelike bloedsomloopstelsel van die Liggaam”, glad nie sy normale rol kan speel nie.

Daar is eenvoudig te veel hoë mure en te min “vensters” en “deure” in normale gemeentes of kerke oop wat alles verhoed dat die lede van die vyfvoudige bediening vrylik in en uit gemeentes kan beweeg om te kan doen wat Jesus bedoel het hulle moet doen.

Daarom kom daar ook nie die nodige bonatuurlike voeding en hemelse suurstof by elke gedeelte in die Ekklesia uit nie.

Daar is egter ook ander dinge wat verder hierdie normale bediening van die vyfvoudige bediening verhoed en belemmer.

Dit bring ons terug na wat ek aan jou in die vorige twee stukkies Skrifoordenkinge bedien het.

Omdat die vyfvoudige bediening nie finansieel bedien word deur die Ekklesia soos Jesus dit bedoel en geleer het in Sy Woord nie, naamlik met die grootste gedeelte van “God se deel” nie, kan bediening deur lede van die vyfvoudige bediening nie normaal plaasvind nie.

Onthou, die meeste lede van die vyfvoudige bediening woon in die meeste gevalle buite die grense van gemeentes en kerke, en moet dus genooi word na daardie gemeentes en kerke. Dit kan dan gesien word as ʼn groot finansiële las vir so ʼn gemeente of kerk, want nou moet hulle geld wegvat om vir daardie persoon uit die vyfvoudige bediening te kan gee, wat hulle eerder vir “hulle eie pastoor of dominee” sou wou gee!

Maar, sê nou die vyfvoudige bediening was reeds volledig versorg finansieel soos God dit bedoel het, dan kon daardie persoon in die vyfvoudige bediening eenvoudig aan so ʼn gemeente net sê: Dankie, maar nee dankie! Versorg julle geestelike leiers met daardie geld wat julle nou aan my wou gee! Die Here het immers reeds my volledig finansieel versorg soos wat Hy dit aan ons in Sy Woord geleer het!