Hoe lyk dit wanneer die kultuur van die Koninkryk die Babiloniese kultuur van ons dag vervang?

Mammon Mammon

 

As ons mooi kyk wat Jesus tydens Sy bediening op aarde gedoen het, sien ons hoe om die Babiloniese kultuur waarin Mammon aanbid en gedien word te verwyder en hoe om dit te vervang met ʼn iets van die kultuur en waardes van die Koninkryk van die hemel weerspieël.

Hoor wat sê ons Koning self oor Mammon.

Mat. 6:24 "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."

Luk. 16:9 "En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

Luk. 16:11 As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?

Luk. 16:13 "Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."

Mammon word dus ʼn god in mense se lewens wat alles begin beheer. Alles wat hulle doen, alles wat hulle dink en sê, gaan net oor geld. Ja, natuurlik is daar nooit ʼn punt wat hulle genoeg daarvan kan hê nie. Maar so ook kan die armste van arm mense ook gedryf en gemanipuleer word deur hierdie demoniese gees, Mammon.

Hoe herken ʼn mens dit in iemand se lewens?

Daar waar mense heeltyd bekommerd is en praat en dink oor geld, is van die duidelike simptome van hierdie “siekte”.

Hierteenoor wys Jesus ons hoe om duisende mense te voed as deel van ʼn nuwe Koninkryks-kultuur, maar om dit te doen sonder om een of ander leë en goedkoop voorspoed-preek vir hulle te preek!

Inteendeel, Jesus leer ons wat gebeur as ons die bietjie wat ons het, vrygewig en vrywillig saai as die Koning daarvoor vra. Want dan sien ons hoe God nie net die gewer ook seën nie maar hoe Hy voor ons oë vermenigvuldiging laat plaasvind sodat ons selfs daarna nog meer verniet weg kan gee!

Dit is immers hoe dit in God se Koninkryk werk.

Dit is wanneer ons besef dat ʼn boodskap dat die Koninkryk van die hemel besig is om hier rondom ons op aarde deur te breek en te realiseer, moet beklemtoon dat dit nie sommer alles eensklaps nou dadelik gebeur nie, maar eerder stukkie vir stukkie deurbreek, om eers aan die einde, met Jesus se wederkoms, finaal en volkome in vervulling te kom!

Daarom moet ons beklemtoon dat die Koms van die Koninkryk ʼn beweging is op grondvlak waar dit gaan wees soos duisende klein, selfs onbeduidende, vuurtjies wat begin saamkom en spontaan groei tot hierdie magtige openbaring van die heerlikheid van God daar in ons dorp of stad.

Oraloor in die wêreld het ons al honderde sulke bewegings of “herlewings” gesien. Maar tot nou toe het ons nog nie die voorreg gehad om te sien dat dit net aanhou en aanhou nie. Miskien is dit omdat iemand elke keer probeer het om dit op een of ander manier in een of ander struktuur of metode of ʼn kerk of denominasie of herlewingsdienste van een of ander aard vas te vang.

Ek glo dat in hierdie “laaste dae” waarin die Here besig is om vir ons ʼn nuwe prentjie van die “kerk” of Ekklesia te wys, gaan ons ʼn beweging van die heerlikheid van God sien vloei uit die hart en lewens van gelowiges, deur huisgesinne, deur families en familie-besighede.

Hierdie beweging gaan herken word aan mense wie se lewens en lewenswandel gekenmerk word deur eenvoud, voorsiening, eenheid, liefde, lewe, waarheid, nederigheid, gebed, herstelde verhoudinge, dissipelskap en baie wonderwerke!

Gelowiges se “opleiding” om deel van hierdie beweging van die eindtyd te wees, gaan nie teologiese studie in ʼn kweekskool of bybelskool van die een of ander aard wees nie. Nee, jy gaan leer wat jy moet leer in die “skool van die lewe” wanneer jy gaan toelaat dat God se Gees totaal die beheer oorneem en Hy self jou leer wat gewone dinge soos eenvoud, voorsiening, eenheid, liefde, lewe, waarheid, nederigheid, gebed, herstelde verhoudinge, dissipelskap en wonderwerke regtig beteken!

Niemand in hierdie beweging sal wil baas speel oor ander nie. Alle gelowiges gaan net een dinge natuurlikgewys najaag, naamlik om ander te dien soos wat Jesus in Sy Woord ons geleer het om te dien.

Dit gaan glad nie gaan om nog “nuwe kerke”, of nog nuwe “lidmate”, of nog groter en langer eredienste of byeenkomste te hou en nog ʼn klomp nuwe programme te organiseer nie.

Nee, hierdie beweging van die Koninkryk gaan letterlik ʼn self-onderhoudende vloei van lewe wees wat van die een hart na die ander vloei.

In die proses gaan ons leer dat waar die koms van die Koninkryk nie elke gelowige insluit en vir elkeen geleentheid gee om daarvan deel te wees nie, gaan die Goeie Nuus van die Evangelie nooit ʼn hele wêreld kan bereik nie!
Volgende keer gesels ek verder hieroor.