Dag 15 – Die gebeure op daardie Vrydag, die 11de April 32 n.C.

Die BLoed van Jesus Die BLoed van Jesus

Die betekenis van die Bloed van Jesus

Ja, ek weet ʼn groot deel van die Christen-wêreld praat vandag van as “Goeie Vrydag” en herdenk die kruisiging van Jesus asof dit op die Vrydag van daardie week plaasgevind het.

Ek en jy weet egter dat Jesus reeds die Woensdag van daardie week gekruisig is.

Ja, ja, ek weet, daar word gepraat in die Bybel van ʼn Sabbat net na Sy kruisiging, en dat die tipies normale Sabbat van die Jode gewoonlik van Vrydagaand, 18h00, tot Saterdagaand, 18h00, is.

En dit is normaalweg waar.

Behalwe wanneer ...

Die week waarin die Pasga gevier word, en dit êrens in die normale week val, reël die Tora-wetgewing dat daardie dag ook as ʼn Spesiale Sabbat, of heilige dag, aan God gewy, geag word.

En dit is presies wat in hierdie bepaalde week waaroor ons nadink, van die 6de tot die 12 April 32 n.C., die geval was.

Daarom was daar in daardie betrokke week 2 Sabbatte.

Daarom is daardie dag wat Woensdagaand 18h00, begin het, (9 April 32 n.C. op ons kalender), of 14 Nissan op die Joodse Kalender, waarop die Pasga-maal gevier is, as ʼn Sabbat geag.

Dit sou dan ook normaalweg gevolg word deur die normale Sabbat wat Vrydagaand 18h00 tot die Saterdag 18h00 gevier word.

Die week waarin Jesus gekruisig is, was so 'n week waar die Pasga-viering in die week geval het en was daar dus twee Sabbatte die betrokke week gewees het.

Met dit uit die pad, kom ons dink vandag verder na oor die Bloed van Jesus wat vir ons gevloei het en wat Hy vir ons gedoen het deur vir ons te sterf en drie dae in die graf te wees.

Kom ons lees vandag hardop wat daar in Ef. 1:7, maar ook in die lied wat Johannes die Doper se pa, oor Jesus gesing het daar in Luk. 1:68 tot 75 oor wat Jesus (deur Sy Bloed) vir ons sou kom doen het, en dan ook wat in vers 69 tot 79 staan oor Johannes die Doper. Ja, dat hy die getuie en vinger sou wees wat na Jesus die Christus moes wys en moes sê: Daar is die Lam van God, wat in julle plek, deur Sy Bloed, julle sou kom verlos het uit die hand van Satan!

Dink ʼn bietjie daaroor na. Wat hoor jy sê Koning Jesus deur Sy Woord hier vir jou?

Watter beloftes gee Hy vandag in hierdie gedeeltes vir jou?

Antwoord Hom dan in gebed.