Om in diens van die Koning in ʼn stukkende wêreld en markplein te staan, is nie vir sissies nie

Dit is oorlog Dit is oorlog

 

God se Gees inspireer nie vir spek en boontjies Paulus om die volgende in Rom. 12:1,2 neer te skryf nie:

“En nou doen ek ʼn beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ek wil dit so sê in my eie Afrikaans: Onthou heeltyd terwyl jy as ambassadeur van die Koninkryk elke dag leef en doen wat jy moet doen: As dit nie vir die genade van God was nie, het jy gelyk en gedoen soos daardie mens of sakepersoon wat jy nou so maklik kritiseer of diskwalifiseer!

Daarom, tree genadig op, wees mense genadig, bedien God se genade aan mense, soos wat God jou genadig was en genade aan jou bedien het en steeds bedien.

Daarom kan jy nie besigheid doen, of boer, of onderwys gee, of ouer wees, of jou geld hanteer, of mense behandel, of politiek bedryf, soos wat die res van die wêreld dit rondom jou doen of dit vir jou sê nie!

Vra God om deur Sy Gees vir jou ʼn bril op te sit, en om elke deeltjie van jou brein te week en te bedien met die sappe en realiteite van die koninkryk van die hemel.

Laat toe dat dit nou daar waar jy is, werk en ontspan, stadig maar seker, jou sag maak, binnedring en begin transformeer tot in die kern van wie jy werklik is.

Sodat die mense, byvoorbeeld daar op die markplein, prakties sal beleef hoe hulle deur die genade van God, Sy liefde, Sy goedheid, Sy genesing, Sy seën, aangeraak word sodat hulle hierna kan getuig dat hulle sal nooit weer dieselfde kan wees en na dinge kan kyk nie.

Laat elke persoon met wie jy besigheid doen of onderhandel, voel hulle wen en baat in die proses.

Ja, en laat alles betrokke, of dit nou ʼn bepaalde proses is, of ʼn diens, of die grond, water, ekosisteem of planeet aarde is, soos Rom. 8 dit beskryf, beleef dat die “seuns van God” hier ingestap het en dinge in die Naam van die nuwe Koning Jesus kom aanraak en bedien het.

Laat ek jou net ook waarsku: onthou, alles gebeur letterlik op die voorstoep van die hel, in die teenwoordigheid van baie stukkende, wrede en sondige mense. Daar staan letterlik ʼn leermag demone oral rond wat alles in hulle vermoë gaan doen om hierdie nuwe Koninkryks-realiteit op elke moontlike manier te kelder, te keer, of te laat misluk.

Dan is daar nog daardie stukke stukkendheid in jou eie lewe en in jou eie diepste wese, wat soos ʼn Trojaanse perd deur die vyand gebruik gaan word.

Daarom sê God se Gees daar in Efesiërs vir jou: Jy is in oorlog! Want hoe kan dit anders op die voorstoep van die hel wees, waar ʼn vyand besig is om te veg om sy eie behoud! Die vyand weet immers dat dit letterlik sy laaste stuiptrekkinge dié is, want die eindtelling is reeds op die telbord!