Dag 16 en 17 – Die gebeure van daardie Saterdag tot Sondag, 12 April 32 n.C.

Die graf is leeg Die graf is leeg

 

Ons Verlosser het opgestaan uit die graf daardie Sondag, 12 April 32 n.C.

Kom ons kry net weer gou ons somme reg.

Jesus self het geprofeteer dat Hy vir “drie dae en drie nagte” in die graf sou wees.

Gaan lees dit self daar in Mat 12:40 waar Jesus dit gesê het. Dit is dan ook waarom daar aan die soldate gesê is wat Sy graf moet bewaak, dat hulle dit vir drie dae moet bewaak. Lees dit self daar in Mat. 27:63,64.

As ons die som van “drie dae en drie nagte in Joodse dae bereken, beteken dit...

Woensdagaand van 18h00 tot Donderdagaand 18h00 – Die eerste dag en nag in die graf vir jou en my.

Donderdagaand 18h00 tot Vrydagaand 18h00 – Die tweede dag en nag in die graf vir jou en my.

Vrydagaand 18h00 tot Saterdagaand 18h00 – Die derde dag en nag in die graf vir jou en my.

En dus êrens na Saterdagaand 18h00 en voor Sondagoggend vroeg, het Jesus opgestaan uit die dood as teken dat die Vader dit wat Hy vir en namens my en jou gedoen het deur Sy lyding, Sy dood aan die kruis, die helse smarte en straf wat Hy namens ons gedra het, Sy Bloed wat vir ons gevloei het, die tyd in die graf, ALLES... ALLES... ALLES toegedek, betaal en gedra het in my en jou plek as sondaars - wat niks anders as die hel verdien het nie en wat deur ʼn Heilige God, soos ons was, nie voor Sy oë verdra kon word nie.

Maar nou, toegedek deur die Bloed, kan hierdie Heilige God, elkeen wat dit wat Jesus gedoen het, in geloof aanvaar, totaal vryspreek en hulle sonde vergewe. Want hulle straf is gedra en daar is met bloed vir hulle sonde betaal.

Luister saam met my na ʼn YouTube-video wat ek hieroor gemaak het.

Hier is die skakel daarheen: Video - "Lockdown"- Tot ons seën!

Jy kan dit vandag gebruik of môre vir jou (en diegene saam met jou) se saamwees saam met Jesus by die huis.

Mag dit werklik julle seën.

Stuur dit gerus ook aan na ander as dit jou geseën het.