Print this page

Dag 18 – Die Bloed van Jesus het jou vrygemaak

Vergewe! Vergewe!

 

Jesus het opgestaan uit die dood op 12 April 32 n.C.

Jesus Christus het opgestaan! Ons Here en Koning lewe!

Die afgelope tyd het ons stilgestaan by die kruis en die oop graf van Jesus. Ons het toegelaat dat God self met ons uit Sy Woord, die Bybel, praat oor hierdie gebeure en hoe dit die Joodse fees, die Pesach of Pasga-maal, in totaliteit vervul het en voor ons oë in die geskiedenis laat uitspeel het.

Ja, die uittog uit ʼn lewe van slawerny onder die dwingelandy van ʼn demoniese heerser, Farao, was werklik historiese gebeure in die lewe van die Joodse volk en jy kan dit gaan navors uit die geskiedenis.

Boonop word dit vir meer as ʼn 1000 jaar jaarliks herdenk deur Jode oral oor die wêreld met die Pasga-maal.

Hierdie jaar, 2020 volgens ons kalender, was dit op Woensdag, 8 April, gevier, gevolg deur die fees van die eerstelinge en die sewe dae daarna wat net ongesuurde brood (brood wat sonder gis gebak word) geëet word. Dit het die Joodse volk tyd te gee om hulle lewens te ondersoek in die lig van die boodskap dat hulle deur die bloed van die lam vrygekoop is.

As Nuwe Testamentiese gelowiges, glo ons die goeie nuus van die Evangelie oor Jesus!

Ja, dat Hy, as die Lam van God, deur Sy lyding, Sy dood, die drie dae in die graf en die opstanding uit die dood, op ʼn volkome wyse elke profetiese simbool in elke Joodse fees, en dus ook in die Pasga-maal en die feeste daarna, vervul het deur die gebeure wat veral in daardie week in die geskiedenis, van die 6de tot die 12de April 32 n.C., plaasgevind het.

Ja, dit wat ons met mekaar saam gelees het uit die Bybel oor daardie week, was dus ook nie net ʼn storie, in die sin van ʼn soort feë-verhaal, nie! Dit het ook werklik gebeur!

Daarom kan jy oor hierdie gebeure gaan lees in meer as 10 000 ander historiese boeke en bronne behalwe dit wat in die Bybel hieroor staan!

Die afgelope paar dae kon ek en jy aan die voete van Jesus, uit dit wat ons in Sy Woord, die Bybel, hardop gelees het, dit as’t ware uit God se eie mond weer gehoor het.

Kom, tel Sy Woord, die Bybel, op en lees hardop vandag vir jouself en vir dié wat op die een of ander wyse by jou is, die volgende gedeeltes en dan hoor jy uit die Here se mond wat hierdie gebeure vir jou vandag, in 2020, sê en belowe.

Eksodus 13:3-11

Lees eers Eksodus 13:3-11.

Onthou, die Joodse volk, is vry en is op pad deur die woestyn, weg van die lewe van slawerny van 430 jaar, op pad na die land, Kanaän, ʼn land van melk en heuning, waar hulle eens en vir altyd vry gaan wees.

Hoor wat sê God self hierin vir jou oor Homself, oor die mens en spesifiek vir jou vir jou eie lewe.

2 Kor. 5:17- 6:2

Blaai nou na 2 Kor. 5:17 tot 6:2 en lees wat sê God hier.

Hoor wat sê Hy hierin vir jou oor Homself, en spesifiek oor jou as gelowige wat glo dat Jesus ook vir jou die volle prys betaal het deur Sy Bloed.

Dank die Here daarvoor as jy met Hom praat in gebed.

Related items