Print this page

Besef jy dat Bybelse evangelisasie is om dooies op te wek!

Voor sy bekering is die mens “dood”.

Ek is so bang dat ons nie mooi luister na wat die Bybel sê oor iemand wat nog nie tot bekering gekom het en nog nie Jesus Christus as Verlosser en Here in geloof aanvaar het nie.

Sien, ons het almal op die een of ander wyse die leuens van die humanisme en sosialisme van ons tyd aanvaar en begin glo. Ons het begin glo dat die mens inherent goed is! En ons het begin glo dat die God van die Bybel mense so lief het soos wat hulle is dat Hy hulle aanvaar soos wat hulle is.

Ons sien God as hierdie God van liefde, wat Hy natuurlik is, maar ons vergeet dat Hy ook ʼn heilige God is, wat sonde soos gif haat!

Ja, Hy haat sonde soveel dat Hy Sy Seun verneder het om ʼn mens te word en om as die Sondaar van sondaars vir die sonde van hierdie mensdom te sterf en gestraf te word omdat Sy heiligheid dit vereis!

Sodat Hy hierdie mensdom genadig kon wees.

Maar elkeen wat nie Jesus Christus se soendood aan die kruis vir hulle sonde aanvaar nie, sal self die volle gloed van God se toorn oor sonde gaan ervaar vir ewig!

Weet jy hoe beskryf hierdie God ons voor ons Bybelse bekering of wedergeboorte?

Efesiërs 2

Luister maar net na Efesiërs 2:

“Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.

Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Daarom, en dit is my gevolgtrekking hieruit, moet ons besef dat elke keer as ons teenoor ʼn ongelowige getuig oor Jesus en God vertrou vir ʼn bekering en wedergeboorte, vertrou ons God vir iemand wat dood is, om lewendig te word!

Elke keer wat God ons stuur om die evangelie te gaan verkondig aan onbekeerdes, stuur Hy ons ʼn begraafplaas in en vra Hy ons om Hom te vertrou om ten minste een dooie op te wek!