Dag 19 – Die Bloed van Jesus het my vergifnis van al my sondes geskenk

Ek is vergewe Ek is vergewe

Die Bloed het my sonde weggewas.

Jesus het tydens Sy openbare bediening in daardie laaste drie jaar van Sy lewe op aarde allerlei wonders gedoen – wat tussen die jare 29 tot 32 na Christus volgens die nuutste navorsing was.

Hy het honderde siekes genees, verlamdes en gestremdes volkome herstel en mense wat demonies besete en vasgevang was, verlos. Hy het selfs dooies weer lewendig gemaak. Hy het ook getoon dat Hy die natuur kon beheer.

Maar seker van Sy grootste wonderwerke was dit waarvan ons in vandag se Skrifgedeelte gaan hoor.

Lukas 5:17-26, en fokus op vers 21 tot 26

Blaai na Lukas 5 en lees hardop wat God self hier vir jou sê, van verse 17 tot 26, maar spesifiek dan dit wat daar in verse 21 tot 26 staan.

Probeer om in jou eie woorde vir jouself te sê wat beteken dit dat God jou sonde vergewe het omdat die Bloed van Jesus daarvoor gevloei het.

Om jou ʼn idee te gee wat ek bedoel daarmee, kom ek probeer in my eie woorde sê wat vergifnis van sonde vir my beteken...

• ʼn Nuwe begin, soos ʼn silwerskoon dagboek met skoon bladsye

• God het al my sondes en verkeerde morele keuses wat ek doelbewus en selfs onbewustelik gedoen het, vergewe, vir ewig weggeneem en so deeglik uitgewis dat selfs Hy dit nooit weer gaan ophaal of selfs onthou nie

• Al daardie skuldgevoelens en skaamte daaroor kan ek net hier neersit en hoef nie meer een tree verder saam gedra word nie

• My verhouding met Hom as Heilige God is volkome herstel en ons is volkome met mekaar versoen

• Ek kan nuut begin, oor begin. Ek het ʼn nuwe, beter toekoms wat nou voorlê.

Praat hieroor met die Here in gebed.