Dag 21 – Die Bloed van Jesus het my verlos uit die houvas van Satan. Ek is nie meer ʼn slaaf van sonde nie

Van sondaar tot verlos en nuut Van sondaar tot verlos en nuut

Handelinge 26:14-23

Ons is besig om die Here self toe te laat om deur Sy Woord, die Bybel, vir ons te wys wat presies gebeur het toe ons in geloof vasgegryp het dat Jesus Christus werklik die Lam van God was wat Sy Bloed vir ons gegee het.

Daardie oomblik wat ons dit in geloof vasgegryp het, het merkwaardige dinge in ons begin gebeur.

Kom blaai saam met my na dit wat daar in Handelinge 26 staan waar Paulus besig is om teenoor Koning Agrippa te getuig oor sy eie bekering en wat daar gebeur het.

Kom ons lees hardop van vers 14 tot vers 23.

Probeer om dit in jou eie woorde oor te sê wat die Here hier vir jou vertel. Kyk of jy in die verse kan raaksien wat in jou eie lewe gebeur het toe jy die eerste keer die goeie nuus in geloof vasgegryp het oor wat Jesus aan die kruis en deur Sy Bloed vir jou gedoen het.

Hier is wat ek raakgesien het in my eie woorde:

• Die een oomblik was dit nog pikdonker in jou lewe en was jy totaal blind vir God en dit wat Hy doen. Die volgende oomblik kon jy sien en was dit lig!

• Die een oomblik was jy totaal vasgevang en ʼn slaaf van Satan en kon jy niks anders doen as om te sondig nie. Jy was deur en deur sondaar en niks goed kon uit jou uit kom nie. Selfs jou beste dade en beste bedoelings was deurspek van sondigheid en kon nie God behaag nie.

• Maar die volgende oomblik het dit wat Jesus vir jou gedoen het deur Sy lyding, sterwe en opstanding, omdat jy in geloof gekies het om te glo dat Hy dit ook vir jou gedoen het, ʼn sleutel geword wat hierdie boeie en hierdie tronk oopgesluit het.

• Jy was in een oomblik ʼn nuwe mens, wat letterlik uit die dood opgestaan het.

• Van ʼn totaal verlore sondaar, tot niks goeds in staat nie, het jy verander in ʼn nuwe skepsel, ʼn nuwe Adam, nie meer sondaar nie, maar nou mens van God, geskape na God se beeld, in staat om te doen wat God oorspronklik bedoel het as jou opdrag as mens.

• Daarom sal mense om jou duidelik die verandering in jou lewe en optrede sien uit “dade wat by die bekering pas”.

Gebruik jou gesprek met die Here in gebed om Hom dankie te sê hieroor en om Hom te antwoord op wat jy gehoor het.