Dag 34 – Om die nuwe Koning hier op aarde te wees, het die Bloed van Jesus gekos

Jesus is die nuwe Koning Jesus is die nuwe Koning

As ʼn mens die verhaal van Genesis 1 tot 3 mooi lees, hoor jy hoe God ʼn wêreld skep vir Sy mens-familie. Dit is amper asof Hy vir hulle hierdie manjifieke wêreld-grootte plaas skep.

Hulle opdrag is om daar as Sy ambassadeurs, Sy verteenwoordigers, as Sy beelddraers, met Sy Gees in hulle, te regeer en alles te bestuur soos Hy hulle beveel het.

Maar dan kies die mens om eerder die vyand se woord as God se woord te aanvaar en te vertrou as die waarheid.

So kies die mens letterlik om Satan die finale gesag (kroon) in hulle lewe (en ook dus hier op aarde en in die skepping as geheel) te gee.

So word Satan dan die “owerste van hierdie wêreld ” of in gewone Afrikaans, die nuwe koning hier op aarde en die mens word slaaf in sy diens.

Kom ons gaan lees ʼn gedeelte in die Nuwe Testament waar Jesus aandui dat Hy gekom het om hierdie gesag/kroon terug te vat uit Satan se hand.

Maar kom ons lees die gedeelte hardop daar in Lukas 11:14 tot 23. Probeer om wat hier staan in jou eie woorde oor te sê.

Ja, uiteindelik sou dit beteken dat Jesus Sy Bloed moes gee as die finale handtekening op dokument wat sê: Nou is Hy die nuwe Koning.

Gaan lees nou weer Kol. 2:15 en sien hoe hierdie vers vir ons presies beskryf wat daar agter die skerms gebeur het toe Jesus, gely, gekruisig, gesterf, drie dae in die graf deurgebring het en toe opgestaan het uit die dood.

Wil jy probeer om dit dan ook in jou eie woorde oor te sê?

Praat met die Here oor wat Hy vandag vir jou gesê het.