Print this page

Dag 36 – Om ʼn “getuie” te wees

Getuie van Jesus Getuie van Jesus

 

Ek wil graag ʼn bietjie dat ons vandag by die Here se voete moet gaan sit met die Bybel in ons hande en dan vra ons die Here om met ons verder te gesels oor presies wat dit beteken om “getuie van Jesus en die dinge van die Koninkryk” te wees.

Kom ons maak die Bybel oop en lees hardop dit wat daar in Luk. 24:36 tot 49 staan. Probeer om dit wat hier gebeur en gesê word so goed jy kan in jou eie woorde te sê.

Dink jouself in ʼn situasie waar hierdie dissipels, na hierdie gebeure verby was, vir ander mense moet gaan oorvertel presies wat hier gebeur het en wat Jesus alles vir hulle gesê het by hierdie gebeure.

Maak nou asof jy een van hierdie dissipels is, en dan vertel jy die storie van wat hier presies gebeur het.

Besef jy dat dit presies is wat Jesus bedoel het toe Hy daar in vers 48 gesê het: “Julle is getuies van hierdie dinge!”

Elke keer as jy dus vir mense “jou storie vertel” oor Jesus, hoe jy Hom leer ken het, hoe jy Hom “ontmoet het”, wat Hy in jou lewe alles gedoen het, wat Hy vir jou langs die pad al gesê of belowe het, hoe jou prentjie oor Hom en oor God in die algemeen oor die jare verander het soos wat jy Jesus beter leer ken en leer volg het elke dag, ja, as jy dit vir ander vertel, is jy presies wat Jesus hier van praat as Hy sê “jy moet Sy getuie” wees.

Praat hieroor met die Here in gebed.