Print this page

Ps 91 is deel van God se seën

Ps 91 Ps 91

 

Vandag wil ek graag met jou iets deel wat in my eie geloofslewe geweldig baie vir my beteken.

En dit is om hardop die Here te begin agterna-sê wat Hy vir my sê en belowe.

Soos ek al soveel keer vir jou gesê het, glo ek dat die Lewende God self met my praat as ek die Bybel lees. Met ander woorde, as die Here in hierdie Bybel vir my beloftes gee, sê ek: Die Lewende God self het dit vir my gesê. Ek glo dit. En dit staan vas en seker!

Met dit in gedagte, kom ons neem ʼn Psalm wat vir my geweldig baie beteken en kom ons maak dit vandag baie prakties deel van die Here se seën in jou (en jou geliefdes) se lewens.

Die psalm is Ps. 91.

Kom ons maak ons Bybels oop daar.

In plaas van net hardop te lees vandag, gaan ons nog iets meer doen.

Kom ons lees dit net eers hardop en probeer dan in ons eie woorde oorsê wat presies staan hier.

Nou gaan ons iets anders doen om dit prakties toe te pas in ons lewe.

Ons gaan dit weer hardop lees, maar hierdie keer gaan ons die Psalm so lees asof God direk met elkeen van ons persoonlik praat en elke sin vir ons persoonlik belowe en sê.

Kom ek wys vir jou prakties met die woorde van hierdie Psalm wat ek bedoel.

Kom, lees hardop hierdie Psalm op die manier met my saam.

Ps. 91 (in die woorde van die NAV)

Omdat ek by die Allerhoogste skuiling vind, geniet ek die beskerming van die Almagtige.

Ek sê vir die Here: "Here, U is my toevlug en my veilige vesting, U is my God op wie ek vertrou."

Daarom weet ek en glo ek dat dit Hy is wat my uit die voëlvanger se wip hou en my bewaar van dodelike siekte.

Daarom weet ek en glo ek dat dit Hy is wat my beskut onder sy vleuels en is Hy vir my 'n veilige skuilplek. Sy trou beskerm my aan alle kante.

Daarom hoef ek nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag,
Of vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.

Ja, daarom weet ek en glo ek, dat al val daar duisende langs my, tienduisende by my, vir my sal niks tref nie.

Met my eie oë sal ek sien hoe die goddelose gestraf word.

Omdat ek die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as my beskermer,

sal geen onheil my tref en geen plaag naby my woonplek kom nie.

Ek weet en glo dat Hy sal sy engele opdrag gee om my te beskerm waar ek ook al gaan.

Op hulle hande sal hulle my dra, sodat ek nie my voet teen 'n klip sal stamp nie.

Ja, ek sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal ek doodtrap.

Daarom weet ek en glo ek dat die Here vir my belowe: "Omdat jy My liefhet, sal Ek jou red. Omdat jy My ken, sal Ek jou beskerm.

Wanneer jy My aanroep, sal Ek jou gebed verhoor; in jou nood sal Ek by jou wees. Ek sal jou red en jou in jou eer herstel.

'n Baie lang lewe sal Ek jou gee en oor My hulp sal jy jou verbly."

Sjoe, was dit vir jou ook so ʼn belewenis om die Here God agterna te sê!

Gebruik vandag jou gebedstyd om hierdie selfde Psalm se woorde in gebed uit te spreek oor jou geliefdes of enigiemand wat die Here op jou hart lê.