Dag 2 en 3 – Leer om die Here se stem te hoor

LUISTER

As deel van #LUISTER, wil ek graag jou help om daar waar jy alleen met die Here met die Woord op jou skoot sit, maar veral ook daar waar jy saam met ander daar in jou huis – of as jy stoksielalleen woon, saam met ʼn paar mense via SKYPE of FACETIME of WHATSUP-video vir ʼn halfuur “bymekaar kom”.

Natuurlik kan die Here met ons praat waar dit net ons en Hy is.

Maar ek glo dat deel van die nuwe prentjie van Ekklesia of Kerk-wees is om te ontdek dat die Here nie net met jou kan praat deur ʼn pastoor of ʼn dominee of een of ander “gesalfde” of “geleerde” leier daar in ʼn groot byeenkoms of erediens nie.

Nee, daar waar ek en jy, saam met twee of drie ander “gewone” mense byeen is (op die een of ander manier), waar ons net met die Bybel oop voor ons werklik luister of ons nie God hoor praat met ons nie, gebeur ʼn wonderwerk!

Ja, daar waar “twee of drie saam is” ONTDEK ONS HOE DIE HERE MET ONS PRAAT DEUR DIE BYBEL!

Môre gesels ek met jou oor die praktiese hoe hiervan.

Joh. 10

Vandag wil ek hê jy moet luister na dit wat Jesus self daar in Johannes 10, vers 2 tot 5,10,11,27,28 vir ons sê.

Tel jou Bybel of, of kliek op die YOUVERSION-app/toep op jou slimfoon, en lees hierdie verse in jou gunsteling vertaling.

Vir môre

Besluit of jy die volgende gedeelte ook vandag gaan doen, en of jy eerder môre saam met iemand daarna wil luister.

Indien jy dit eers môre gaan doen, wil jy nie sommer nadat julle geluister het daarna, ʼn bietjie gesels oor ervaringe wat julle al gehad het waar julle werklik “gehoor” of beleef het dat die Here met jou gepraat het nie.

Hier is die skakel na ʼn YOUTUBE-video wat ek vir jou gemaak het oor hoe hoor ek die Here se stem. (Dit is maar net sowat 15 minute lank – en julle het mos tyd!)

Spesiale video - Hoe hoor ek die Here se stem

Mag die Here jou seën.

Ons gesels DV weer Maandag met mekaar.

Liefde in Jesus