Die Heilige Gees is die Een wat God se ambassadeurs in die volle waarheid lei

Gees lei ons Gees lei ons

 

As jy werklik die Koninkryk en wil van God in elke deel van jou lewe soek, vra dit ʼn totale openheid en sensitiwiteit vir die stem van die Koning om deur Sy Gees jou te lei en te leer presies wat Sy hart vir jou lewe is.

Daarom wil ek hê jy moet vandag aan die voete van die Koning nadink oor ʼn paar stellings wat Hy in die verband teenoor Sy volgelinge gemaak het.

Neem jou spesifieke Bybelvertaling of twee wat jy gebruik om na die Here se stem elke dag te luister en gebruik dan die metode wat ons die afgelope tyd gebruik het om sensitief te luister na wat die Koning self sê in Sy Woord:

1. Lees dit eers hardop een of twee keer in die Bybelvertaling wat jy gebruik
2. Probeer dan om in jou eie woorde presies oor te sê wat hier staan
3. Sê dan in jou eie woorde wat hoor jy sê Koning Jesus vir jou in hierdie gedeeltes oor hoe jy dit prakties in jou lewe kan toepas en oorgaan tot aksie.
4. Praat dan in gebed met Hom daaroor terwyl jy ook in die gesprek luister of Hy nie nog iets vir jou wil sê nie.

Die Skrifgedeeltes is die volgende:

Johannes 16:7-15
1 Johannes 2:18-29

Kom ek help jou om ʼn bietjie meer gefokus na te dink oor wat Jesus hier vir ons sê.

Dink veral na oor wat Jesus bedoel het toe Hy vir Sy dissipels, nog voor Sy kruisiging, dood, en opstanding, en voor die uitstorting van die Heilige Gees, die volgende gesê het:

“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie.

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”

Dink ook na oor hoe dit prakties van toepassing in jou lewe kan wees. Dalk beteken dit selfs dat soos wat jy meer oorgee dat die Heilige Gees self jou in die volle waarheid kan lei, het Hy ruimte en vryheid om jou te wys dat sommige dinge wat jy glo, omdat dit al die jare vir jou geleer is “in die kerk” en deur mense wat baie outoriteit in jou lewe gehad het, dalk nie die volle waarheid is nie, omdat dit nie klop met wat God self in Sy Woord vir jou sê nie.

Om jou verder hiermee te help, gaan ek God se Gees die ruimte gee om my in die volgende weke, sonder om te skroom, te gebruik om ʼn paar van hierdie halwe waarhede oop te vlek en om vir jou te wys wat God self daaroor in Sy Woord sê.