Tuesday, 14 July 2020 11:28

Jesus is 'n Middelaar van ʼn beter verbond, sê die Hebreërskrywer

Written by
Rate this item
(0 votes)
Nuwe Verbond Nuwe Verbond

 

In my boek en kommentaar oor die hele Nuwe Testament, getiteld, DIE STORIE AGTER DIE STORIE, het ek ʼn hele gedeelte oor die inhoud van die boek, Hebreërs, geskryf.

So skryf ek:

ʼn “Ou verbond” en ʼn “nuwe verbond” is vir die meeste van ons baie eenvoudige begrippe om te verstaan. Die een is verby en die ander een geld nou in sy plek.

Vir sommige gelowiges is en was dit nodig om net weer te hoor.

Die Nuwe Testamentiese brief, Hebreërs, handel oor hoe die “nuwe verbond” en alles wat dit impliseer, net soveel beter en meer merkwaardig is as die “ou verbond". Dit is in 64 n.C. aan veral Joodse Christengelowiges in Rome geskryf wat geweldig vervolg is juis omrede hulle volgelinge van Jesus was.

Hulle is juis vervolg omdat hulle oortuig geraak het dat die ou verbond tussen God en Sy Joodse volk, vervang is met ʼn wonderlike “nuwe verbond”.

Met die dood en opstanding van Jesus Christus, het alles verander.

Skielik het al die wette, bepalings, reëlings, feeste, heilige dae, simbole, profesieë en beloftes wat God ten tye van die ou verbond met Sy volk gedeel het, nuwe betekenis gekry in die lig van die inhoud van die nuwe verbond wat nou gegeld het.

Heb. 8

Luister hoe skryf die Hebreërskrywer hieroor: “Maar nou het Jesus ʼn voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ʼn beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou ʼn tweede nie nodig gewees het nie. Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: ‘Kyk, daar kom ʼn tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ʼn nuwe verbond sal sluit. Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Heb. 8:6 tot 13)

Hy gaan voort: “Deur van ʼn nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.”

Dan vertel hy hoe die voorhangsel (of gordyn) tussen die Heilige en die Allerheiligste in die tabernakel, heeltyd die mens bewus gemaak het van die onoorbrugbare skeiding as gevolg van sonde wat daar tussen ʼn sondige mensdom en ʼn heilige God was.

Mat. 27:50 e.v. vertel vir ons hoe God die Vader self, met die dood van Christus Jesus, self hierdie voorhangsel van bo na onder stukkend geskeur het en so self die skeiding tussen God en Sy mense verwyder het.

ʼn Nuwe verhouding was nou moontlik. Die mens, wat die soendood van Christus Jesus in geloof aanvaar het, kon nou met vrymoedigheid ingaan en gemeenskap hê met ʼn lewende, heilige God.

Heb. 9

“Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ʼn ewige verlossing tot stand gebring. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ʼn vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van ʼn nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang” (Heb. 9:11-15).

Heb. 10

“Die wet van Moses is slegs ʼn skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ‘n werklike beeld daarvan nie” (Heb. 10:1).

“Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak” (Heb. 10:12-14).

“Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ʼn weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ʼn opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ʼn skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb. 10:19-23).

Ek wil afsluit.

As dit alles “Woord van die Lewende God” is wat hier in Hebreërs staan, hoe kan gelowiges in hierdie nuwe seisoen nog aandring dat ons al die Joodse feeste wat onder die Ou Verbond voorgeskryf is, nog moet vier as “God se feeste” ook vir hierdie seisoen?

Read 135 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.