God soek mense wat gewillig is om die prys te betaal om Sy nuwe generasie te wees

Geseënd Geseënd

 

Besef jy dat daar ʼn spesiale uitnodiging is met jou naam op?

Die lewende God self soek mense wat bereid is om in hierdie seisoen op te staan en te sê: Hier is ek, Here, gebruik my! Stuur my!

Die Here soek mense wat Sy stem gehoor het en wat bereid is om die prys te betaal om anders te lewe, anders te dink, anders te praat, as almal rondom hulle.

Hy soek mense wat bereid is om tyd te maak om self by hulle nuwe Here en Koning te hoor wat is Sy hart en wil vir hulle lewens.

Hulle wil nie net hoor hoe iemand anders, soos ʼn pastoor of dominee, of hierdie profeet, vir hulle sê wat God se plan en wil vir hulle lewe is nie. Hulle is bereid om tyd te maak om self by Sy voete te kom sit om self uit Sy eie mond te hoor wat Hy wil hê hulle moet doen.

En omdat hulle ʼn woord van die lewende God self het, is hulle bereid om op te staan en te doen wat gedoen moet word.

Omdat hulle self met die Koning gepraat het, is hulle bereid om vir ʼn vyandige wêreld rondom hulle te sê: So sê die Here, Here! Of: Genoeg is genoeg!

Ja, omdat hulle Hom as ʼn lewende God leer ken en self ontmoet het in hulle lewe, is hulle bereid om vir enigiemand van Hom te vertel, al gaan dit hulle lewens dalk kos!

Is jy een van hulle?

Is jy iemand wat nie anders kan as om die God van die Bybel te eer en lief te hê nie?

Is jy een van diegene wat gekies het om in heiligheid te lewe en om sonder kompromie te staan op die waarheid van die Woord?

Indien dit jy is, deel ek graag met jou ʼn belofte uit die mond van die Koning wat spesifiek vir jou bedoel is:

_“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. _

_Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. _

_Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. _

_Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. _

_Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. _

_Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. _

_Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. _

_Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. _

_Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. _

Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” (Mat. 5:3-12)

Iets merkwaardig gebeur in ʼn mens se lewe wat gekies het om nie meer net vir hulleself te lewe nie, maar om vir Jesus en vir Sy Koninkryk jou lewe te gee!

Hoe kan dit anders! Hy het immers Sy lewe vir ons gegee!

Merkwaardige dinge gebeur wanneer ons tyd maak om aan Sy voete te sit!

Behalwe dat ons daar tyd kry om Hom persoonlik te leer ken en met Hom te praat, ontdek ons dat om Hom te dien en lief te hê soveel meer is as wat ons vir soveel jare in godsdienstige plekke en by godsdienstige mense gehoor het!

Dit is soveel dieper… Soveel meer intiem… Soveel meer werklik…

Dit is soos Jesus daar in Joh. 10:10b geê het. Hy het werklik gekom sodat ons lewe kan hê en dit in oorvloed!

Daar aan Sy voete ontdek ons dat as ʼn mens dit eenkeer geproe het, verander alles.

Dan kan jy nie anders as dit wat daar in Mat. 6:33 staan nie!

Dan kan jy nie anders nie as om Sy koninkryk en Sy geregtigheid (Sy wil) bo alles te soek, want jy weet, dan sal Hy sorg vir die res!