Oplossings uit die hemel vir probleme wat direk uit die hel kom

Pandemie Pandemie

 

Kom ons gesels ʼn slaggie reguit oor wat in die Bybel staan.

Terwyl ons gesels, vra jouself af: Het ek die afgelope paar maande gepraat, geleef en gedink soos iemand wat regtig hierdie dinge wat hier staan, glo?

Die een ding wat vir my uitstaan as ek die Bybel lees, is dat die God van die Bybel op ʼn besondere merkwaardige manier betrokke is in die detail wat in my eie lewe en alles wat rondom my gebeur.

Die God van die Bybel, my Hemelse Pappa, sien as daar ʼn mossie êrens dood lê, sê Jesus. Hoeveel te meer is Hy nie in detail bewus van wat die afgelope maande oor die wêreld gebeur het nie. Hy weet presies wie regtig COVID-19 gehad het, en wie se liggaam teenliggaampies gehad het teen een of ander gewone griep-virus. Ja, Hy weet selfs dit wat ons nie van seker is nie, soos, of hier agter alles wat die afgelope paar maande oor die wêreld gebeur het, iets sinisters en slu lê!

Hy weet selfs of dit regtig ʼn “plaag” of “pandemie” dié was!

Hy weet ook of dit een van die plae was waarvan ons in Openbaring lees.

Gaan blaai ʼn bietjie na Openbaring 9, 11, 16, 18 en 22 en lees dat daar wel op ʼn dag plae gaan kom wat deel gaan wees van die laaste, dramatiese pogings van God om ʼn sondige mensdom tot besinning en tot bekering te ruk!

Kom ek vra dus weer vir jou: Sit God dalk op die een of ander manier “agter” die “Wuhan virus”?

Alhoewel dit nie ʼn “vreemde gedagte” in die lig van die inhoud van die Bybel is nie, twyfel ek persoonlik hieroor.

En nie oor die redes wat die neo-liberale sal gebruik om hulle eie prentjie van wie die God van die Bybel nou eintlik is, te verdedig nie.

Nee, ek glo nie dat die God van die Bybel, soos sommige mense sê en glo, hierdie oulike, altyd-liefdevolle God is wat nie ʼn vlieg kan of wil seer maak nie.

Nee, ek glo dat die God van die Bybel werklik God is, in elke sin van die woord.

Hy is Verlosser, Geneesheer, maar ook Koning van alle konings en Regverdige Regter wat sonde en alles wat verkeerd is, haat!

En ja, Hy het beslis Sy eie agenda waarmee Hy besig is vir hierdie wêreld en al sy mense.

Bo-aan Sy agenda staan daar: Sy Koninkryk gaan op hierdie aarde kom, kom wat wil, en elke knie gaan voor Jesus as die Koning buig!

Daarom gaan sommige magte en wêreldspelers plat gevee word as hulle weier om te buig, of as hulle Sy Koninkryk wil keer of in die wiele wil ry!

Een ding is verder seker: die God wat ons dien en leer ken het in Christus Jesus, is, soos Hy belowe het, ook in die detail van hierdie pandemie, in Sy kinders se lewens besig.

Ja, alles wat in hierdie tyd in ons lewe en rondom ons gebeur, is deel van ʼn groter plan waarmee Hy met elkeen van ons besig is TOT ONS BESWIL. (Rom. 8:28)

Dit is waarom elkeen van ons baie stories kan vertel oor hoe hierdie uitsonderlike, uiters ongemaklike en onaangename tyd, tog ook baie besondere positiewe dinge in ons lewens tot gevolg het.

En daarom kan iemand soos ek, wat self positief gediagnoseer is in die tyd, merkwaardige stories vertel oor God se goedheid, Sy bonatuurlike genesing en wonderwerke in hierdie tyd.

Gaan sit ʼn bietjie by iemand en dan gesels julle oor wat jy in hierdie afgelope paar maande geleer het en oor dankbaar is.
Sê dan vir die Here in ʼn gebed dankie daarvoor.