Dag 6 – Hoe word ek deel van die “Kerk van Jesus”

Wat beteken dit om jou te "bekeer"

Vandag gaan ons kyk na drie gedeeltes in die Bybel waar die Here aan ons sê hoe enigiemand deel kan word van die ware “Kerk van Jesus”.

Maar laat ek net jou eers herinner aan iets baie belangrik wat ons gister uit God se eie mond gehoor het oor die "Kerk van Jesus".

Miskien het jy dit self gister ontdek, naamlik dat dit wat die Here in Sy Woord "kerk", of "Ekklesia" in die Grieks, noem, is iets totaal anders as wat ons in gewone Afrikaans gewoonlik "kerk" noem. As Jan Alleman van "kerk" praat, dan bedoel hy een of ander gebou of geboue of groep gemeentes met 'n spesifieke naam, waaraan gelowiges gekies het om te behoort of deel van te word om die een of ander rede.

Ons woord "kerk" dui dus gewoonlik op iets wat mensehande gebou of gemaak of aanmekaar gesit het. Wat dus myle weg is van dit wat die Here in Sy Woord "Kerk" of "Ekklesia" noem!

Sy Kerk, die Kerk van die Here Jesus, is gelowige mense wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Here, wat Hom volg en Hom gehoorsaam. En bymekaar kom, mekaar liefhet en Sy getuies en instrumente van Sy liefde in hierdie wêreld is.

Dit bring ons by vandag se vraag.

Maak die Bybel oop en lees die volgende verse hardop deur (en probeer om elke keer in julle eie woorde oor te sê wat daar staan):

Johannes 3:16 tot 18

Johannes 3:3-6, 8,9,14 (vers 14 se beeld kom uit Numeri 21:4 tot 9)

Romeine 10:9-13

Dink oor die volgende belangrike vrae:

• Is jy werklik deel van die Kerk van die Here Jesus? Hoekom sê jy so?

• Wil jy nie in ʼn paar sinne iets oor daardie dag/tyd vertel wat jy deel geword het van die Kerk van Jesus in jou lewe nie?

• Hoe sou jy vir iemand hiervan kan vertel wat dit nog nie in hulle lewe beleef het nie?

Kom ons bid saam hieroor.