Print this page

Die derde deel van ons aksie-plan is: Om regerings reg te kry met die Here God

Koning van konings Koning van konings

As God se mense in elke nasie of nasionale groep mense, opgeleide en bekwame ware ambassadeurs vir die Koninkryk op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak kies om die uitdagings van die dag aan te spreek, gaan ons op regeringsvlak ʼn ongekende transformasie en omkeer sien.

Daar in Hosea hoor ons die profeet namens God, vir die mense daar in Hos. 6, vanaf vers 1 sê: “Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind.

Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.

Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.”

Ja, oral oor die wêreld is daar regerings op alle vlakke, wat naarstiglik probeer om aan alles wat nodig is, aandag te gee, maar elke regering bestaan uit brose, stukkende mense, wat elkeen worstel met hulle eie twyfel, vrese, egos en doodgewoon, sondes.

Tog wag die lewende God vir al die konings, of regerings in gesagsposisies, om erkenning te gee aan die feit dat Jesus Christus werklik die Koning is op aarde en begin erns maak met Sy aanbod van die Koninkryk aan die nasies.

Ja, ek weet dat die meeste regerings hierdie skeefgetrekte prentjie voor hulle het van die Kerk, want dit is versplinter in duisende stukkies wat elkeen aanspraak maak om die ware mondstuk te wees van die Koning.

Dit is egter tyd dat regerings begin erns maak met die woorde van Koning Jesus self wat gepraat het van ʼn tyd wat die Koninkryk aan ʼn hele volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal dra. (Mat. 21:43).

In Mat. 25 sê Jesus dat daar eintlik net twee soorte volke in God se oë is: Diegene wat Sy aanbod aanvaar het, en diegene wat Sy aanbod verwerp het. Jesus noem hulle die “skaap-volke” en die “bok-volke”.

Om dus regerings of owerhede te help om in lyn te kom met God se Koninkryks beginsels en riglyne, is dus nie net suiwer Bybelse teologie nie, maar dit is die vinnigste en mees realisitiese en regte manier om die krisis waarin ons wêreldwyd is, reg te maak.

Daarom wil ek jou as volgeling van Jesus uitdaag om daar waar jy woon en werk, op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak, die opgeleide en bekwame ware ambassadeurs vir die Koninkryk uit te daag om hulleself verkiesbaar te stel en hulle plekke in te neem in diens van die Koning, om die Koninkryk van die hemel ook daar in julle omgewing, provinsie en land ʼn werklikheid te laat word.

Gaan vat hande met ander kinders van God wat al lankal hiermee besig is, en doen wat gedoen moet word daar in julle omgewing.

Related items