Die Goeie Nuus van die Evangelie sluit die hemel oop vir elkeen wat dit glo

Brood en beker Brood en beker

Sjoe, terwyl ek weer luister na die bekende woorde van Johannes 3, vers 16 tot 18, het ek hierdie klik-geluid gehoor van die hemel wat oopgesluit word vir diegene wat hierdie woord geglo het, maar ek het ook die klik-geluid gehoor hoe die hemel toegesluit word wanneer mense self kies om hierdie woord nie te glo nie.

Luister of jy ook die klik-geluid hoor!

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Kan ek jou uitnooi om saam met jou geliefdes rondom ʼn tafel te kom sit met die tekens van die liefdesmaal daarop, brood en die beker (met wyn of druiwesap, soos jy verkies)!

Vandag, as ons saam die tekens gaan gebruik, kom ons onthou hierdie tekens herinner ons aan God se liefde vir verlore mense, alle mense, oor al die eeue.

Wat teen Hom gerebelleer het van die begin af.

Wat Sy bestaan ontken het.

Wat Sy wil vir lewe en dit in oorvloed, geïgnoreer het en eerder hulle eie kop gevolg het.

Niks wat hulle kon doen, of gedoen het; niks wat hulle gesê het, of kon sê; of gedink het, of kon dink; kon op enige manier hierdie God oortuig om vir hulle goed of genadig te wees nie!

Tog het Hy gekies, voor die grondlegging van die wêreld, terwyl Hy besig was om die geskiedenis te beplan en te skrywe, om hulle nogtans genadig te wees, omdat Hy hulle ondanks en ten spyte van alles, steeds liefgehad het.

Hoe kon dit anders?

Daarom staan Johannes 3, vers 16 tot 18, reeds van voor die grondlegging van die wêreld in die Boek van die Lewe.

Kom, neem die brood wat ek jou en jou geliefdes aanbied en eet dit. Gedenk en glo dat Sy liggaam vir julle gebreek is.

Kom, neem die beker en drink daaruit. Gedenk en glo dat Sy bloed vir julle gevloei het.

Ek wil jou herinner daaraan dat God wie my en jou so liefhet, ook nou hier by ons is. Hy belowe immers: “Waar twee of drie in My Naam saam is, is Ekself by hulle!”

Gaan sit daar by Sy voete saam met jou geliefdes, met die Bybel in julle hande, en kyk of julle mekaar kan herinner aan alles wat nou julle sʼn is, omdat die hemel vir julle oopgesluit is!

Volgende keer gaan ons verder hieroor gesels.