Oor die krag-dimensie van die Koninkryk

Geseënd Geseënd

Oor die krag-dimensie van die Koninkryk

Lees asseblief Lukas 9:1-2 en hoofstuk 10:1-20

Hoe meer ek kyk na hoe Jesus Sy dissipels geleer het om dit te doen, en hoe dit daarom gedoen is in die vroeg-Christelike gemeentes, soos Handelinge ons vertel, hoe meer besef ek hoe noodsaaklik die Heilige Gees en die bediening deur Sy gawes is daar waar ons begin getuig oor die Goeie Nuus van die koms van die Koninkryk.

Kyk maar net hoe Jesus dit gedoen het. Soos bv., daar in Lukas 9 en 10, toe Hy Sy dissipels uitgestuur het.

In Lukas 9:1 en 2 lees ons:

“Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees.

Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak.”

Wanneer laas het julle in julle gemeente of geloofsgroep, mekaar opnuut hande opgelê, vir mekaar gebid dat Jesus, as die Doper met die Gees, aan julle vir die eerste keer of opnuut, die mag en gesag sal gee om alle bose geeste uit te dryf en om siekes te genees”, en toe mekaar uitgestuur “om die Koninkryk van God te gaan verkondig en om siekes gesond te maak”?

Is jy elke dag gereed en toegerus om in jou handel en wandel, waar ook al die Heilige Gees jou bewus maak van nood van die een of ander aard, dit te bedien met die gawes en die krag van die Heilige Gees?

Kom ek vertel vir jou ietsie verder oor hierdie uitdrukking wat ons in hierdie verse van lees, naamlik dat Jesus Sy dissipels uitgestuur het met die mag en gesag om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees.

Ek weet nie of jy weet nie, maar in die vroeg-Christelike gemeentes, in die eerste drie eeue, was dit glad nie ʼn vreemde verskynsel dat daar, by die doop van nuwe bekeerlinge, ook terselfdertyd, gewoonlik daar in die water van die doopbad, wanneer hulle gedoop word met water, of hande opgelê word terwyl daar gebid word vir die doping met die Heilige Gees, bevryding van demoniese magte wat steeds ʼn houvas in daardie mens se lewe gehad het, ook plaasgevind het!

Luister net na Paulus, daar in Hand. 26, van vers 16 af, as hy vertel van hoe Jesus aan hom verskyn het daar op die Damaskus-pad en daarna:

“Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heiden nasies na wie toe Ek jou stuur.

Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer.

Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.”

Vriende, vir Jesus om Koning te word in ʼn mens se lewe, moet hulle geestelike oë oopgaan sodat hulle Hom kan herken as die Verlosser en nuwe Koning!

Maar hulle moet ook bevry word uit die houvas van die demoniese magte wat hulle tot nou toe gevange gehou het in ʼn baie donker tronk!

Ja, hulle moet bevry word uit die mag en hande van Satan as deel van hulle aanvanklike bekering daar in die begin!

O, hoeveel ellende, pyn, seer en hartseer, sou goeie gelowige kinders van Jesus nie gespaar gewees het as die gelowiges om hulle, daar in die begin, hulle Bybels bedien het met die gawes en krag van die Heilige Gees nie!

Dan praat ek nie eers oor die voorreg om onder die leiding van die Heilige Gees, maar net ʼn tuinslang te wees waardeur Hy, as God, self deur die gawes van genesing, mense wat siek is na gees, siel en liggaam, bedien nie!