ʼn Profetiese woord aan God se kinders vir 2021 en verder – Deel 2

2021 2021

ʼn Profetiese woord aan God se kinders vir 2021 en verder – Deel 2

1 Tess. 5:19-24

Onthou altyd 1 Tess. 5:19 tot 24 as jy met profesie te make kry (en ek haal aan uit die Afrikaanse Direkte Vertaling uit die Grieks:

“Moenie die Gees blus nie.

Moenie profesieë verag nie, maar toets alles; behoud die goeie; onthou julle van elke vorm van boosheid.

En mag die God van vrede self julle heeltemal heilig, en mag julle in gees en siel en liggaam in alle opsigte onberispelik bewaar word me die koms van ons Here Jesus Christus.

Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen!”

1 Kor. 14:3

En onthou ook die bedoeling van profesie (waarom God op die manier met ons praat as Sy kinders), soos wat Hy dit daar in 1 Kor. 14:3 vir ons uitspel:

“Maar die een wat profeteer, praat met mense woorde van opbou, bemoediging en troos.”

Jes. 40:28-31

Teen hierdie agtergrond, hier is wat ek gehoor het die Here sê:

“Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.

Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

In die lig van die traumatiese gebeure van 2020, sien ek hoe baie van ons verwese en uitgeput na hierdie jaar êrens “onder ons besembos” (ala 1 Kon. 19) lê.

Ja, ek weet jy dink dit is nie jy nie. Jy is oortuig jy is “te gelowig” daarvoor.

Hier tussen ons, in die teenwoordigheid van ʼn lewende God wat alles immers weet en wat presies weet wat in jou hart en gedagtes die afgelope maande aangegaan het, hier, kan jy ontspan en hier kan jy maar eerlik wees!

Hier in God se teenwoordigheid, is daar geen veroordeling nie! Hier is ʼn sagte, veilige plek waar jy sommer net kan kom ontspan. Hier hoef jy nie sterk te probeer wees nie. Kom, sit hier, as’t ware in God se “nes” vir jou en laat toe dat Hy deur Sy Gees jou bedien en versorg.

Rom. 12:2

“En moenie gelykvormig word aan hierdie wêreld nie (C.A Nel: Met ander woorde, moenie soos hulle dink, praat en doen nie!), maar word omvorm deur die vernuwing van julle denke met die oog daarop dat julle kan onderskein wat die wil van God is – sy goeie en welgevallige en volmaakte wil.”

Kom ek vertel jou wat die Here my die afgelope twee jaar uit die neurologie geleer het oor die inhoud van hierdie vers.

Ek het ontdek dat die woord in die Grieks wat ons in Afrikaans met “gedagtes” vertaal het, eintlik verwys na ons “hele brein”.

Ek wil jou nie verveel met onnodige detail nie, maar vir die profetiese woord waarmee God jou wil bemoedig, is dit lewensbelangrik om te weet hoe God ons brein aanmekaargesit het.

Ons brein bestaan mos uit hierdie drie dele:

1. Die neo-korteks of frontale lob, heelbo, wat taal verstaan en kan analiseer en kreatief kan wees. Die meeste van ons het al die jare gedink dit is al waaruit ons brein bestaan, maar dit is bloot twintig persent van ons brein. Dit is met hierdie deel van ons brein waarmee ons in Afrikaans of Engels of Zulu kan praat, en waarvoor ons Bybeltekse kan aanhaal, want hierdie deel van die brein verstaan “hierdie taal”.

1. Die neo-korteks of frontale lob, heelbo, wat taal verstaan en kan analiseer en kreatief kan wees. Die meeste van ons het al die jare gedink dit is al waaruit ons brein bestaan, maar dit is bloot twintig persent van ons brein. Dit is met hierdie deel van ons brein waarmee ons in Afrikaans of Engels of Zulu kan praat, en waarvoor ons Bybeltekse kan aanhaal, want hierdie deel van die brein verstaan “hierdie taal”.

Die twee ander dele van ons brein verstaan egter glad nie daardie taal nie!

2 en 3. God het twee dele van ons brein fantasties aanmekaargesit wat heeltemal ʼn ander taal praat. Dit is ook daardie twee dele van die brein wat die taal van liefde verstaan; wat God se teenwoordigheid kan ervaar en Sy stem “kan hoor” as jou gewone ore dit nie kan hoor nie. Maar dit is ook daardie twee dele van jou brein waar “emosies”, soos vrede en vrees, ervaar word. En waar jou waardes en wat jy werklik glo, gebêre word. Dit is ook daar waar trauma en seer gebeure van die verlede, wat jy nog nie mooi verwerk het nie, in stukke rondlê.

Ek het die afgelope jaar beleef hoe die Here sê: Kyk rondom jou rond en sien hoe stukkend en seer My kinders is, want julle verstaan nie mooi dat My woord en uitnodiging in Romeine 12:2 ook is dat julle My moet toelaat om ook hierdie twee dele van die brein te bedien sodat julle werklik diepliggend kan verander en kan heel word nie.

2 Tim. 1:7

“Want God het nie aan ons ʼn gees van lafhartigheid (of vrees) gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (C A Nel - “Selfbeheersing”, soos in “self-dissipline onder die beheer van die Gees”).

Daardie seer en traumatiese gebeure wat in stukke lê êrens in ons brein, wat ons nog nie regtig verwerk en mee klaar gemaak het nie, is juis die “openinge” waar die vyand inkom en waaraan hy ons kom herinner as sekere dinge gebeur met of rondom ons, of as ons sekere dinge hoor of ervaar.

Dit is asof dit snellers of skakelaars word, wat aangeskakel word wat maak dat ons, wat gewoonlik rustig en kalm is en baie vrede het, skielik angstig raak en onverwags vrees en ongeloof belewe.

Hoor dus hoe God se Gees met jou hieroor praat!

Hoor hoe Hy jou herinner aan al daardie tye in die verlede wat jy so bewus was van God se teenwoordigheid, liefde, goedheid, getrouheid, veranderende krag en werking in jou lewe!

Wees oop en laat toe dat God se Gees jou kan herinner aan soveel beloftes en woord wat jy self uit God se mond gehoor het!

Laat toe dat dit jou vul met krag en net weer jou anker word en hawe word waar jy veilig kan vasmeer terwyl die golwe van die lewe, van gister en eergister, verwoed daarbuite aangaan en alles wil vernietig en breek.

Sit terug, lê as’t ware terug, in God se arms en laat toe dat Hy jou toevou met Sy liefde.

Luister fyn, kyk met die oë van jou gees, of jy nie dalk Sy sagte stem kan hoor fluister en Sy liefdesblik kan gewaar nie!

Laat toe dat Hy jou bewus kan maak van leuens van die vyand wat jy begin glo het.

Laat toe dat Hy deur Sy Gees vir jou kan wys waar die vyand met jou kop begin smokkel het!

In die verband, sê die Here: Ja, soms kos dit selfdissipline, vroeg opstaan elke oggend, voor enigiemand anders op is, om tyd te maak om stil te kom sit met My Woord, die Bybel, in jou hande, wat jy saggies vir jouself hardop moet lees, terwyl jy tyd het om mooi te luister of jy nie dalk My stem hoor nie!

Ja, dit kos self-dissipline om vroeër in die aand te gaan slaap, sodat jy vars vroeg in die oggend kan opstaan!

Ja, dit kos selfdissipline om daardie dinge wat jy eet en drink, wat jou angstig kan maak en kan opwerk, wat nie goed is vir die res van jou liggaam en vir jou gesondheid nie, uit te los en vir altyd te vermy!

Soms kos dit selfdissipline om tyd te maak om sommer net drie tot vyf keer ʼn week te gaan stap vir 30 minute. Want, sê die Here, Ek het jou brein so wonderlik aanmekaar gesit dat wanneer jy stap, kan daardie brein dinge prosesseer wat nog nie mooi verwerk is nie.

Ja, dit kos selfdissipline om tyd te maak om gereeld tyd saam deur te bring met ander van My kinders, met My Ekklesia!

Sorg dat jou deure en vensters oop is vir wanneer Ek een van hulle wil gebruik om jou te bedien!

Jy het tyd met hulle nodig, want Ek gebruik hulle en My bediening deur die gawes van die Gees deur hulle, om jou te bedien en om jou te verander en te genees!

Verstaan jy dan nog nie dat jy nie werklik kan verander op jou eie nie! Ja, dat Ek jou nie werklik kan verander nie as jy nie tyd maak om saam met een of twee of drie ander van My kinders gereeld tyd spandeer nie! Ek het dit mos vir jou gesê daar in Heb. 10:24 en 25.