Waar die Koninkryk hier op aarde kom, volg skermutselings met die vyand

Oorlog Oorlog

 

Lees Hand. 2

Ek wil jou vertel wat op Pinksterdag, 31 Mei 32n.C., in Jerusalem gebeur het.

Kom ek herinner jou net eers daaraan dat presies 50 dae gelede (dit is nie eers ʼn volle twee maande nie), het die Koning van alle konings, Jesus die Christus, opgestaan uit die dood en in hierdie selfde stad en omgewing Homself lewendig vertoon aan meer as 500 mense!

Dit was ook die tyd waarin duisende Joodse gelowiges uit alle oorde na Jerusalem gestroom het om daar te wees vir die viering van die groot Joodse feeste, die Paasfees, en dan ook die Pinksterfees.

31 Mei 32n.C. was juis daardie jaar die dag waarop die Pinksterfees gevier is in Jerusalem.

Jy ken die verhaal wat Hand. 2 vertel, van die geweldige geluid, soos van ʼn geweldige wind, wat feitelik almal in Jerusalem kon hoor. Maar dit was duidelik van een plek, een gebou, in die stad afkomstig.

Duisende nuuskieriges het daarheen begin stroom. Toe kry hulle daar die eienaardige gesig van 120 manne en vroue, met wie duidelik iets buitengewoon gebeur het.

Kan jy glo, die 120 mense op daardie plek, het in allerhande tale gepraat wat hulle nog nooit voorheen kon praat of aangeleer het nie!

En almal het oor Jesus, die gekruisigde, wat opgestaan het uit die dood, gepraat!

Dan vra-sê iemand sinies-sarkasties: Wat hier aan die gebeur is, is nie iets merkwaardig of wonderlik nie. Dit is bloot ʼn klomp mense (120 van hulle) wat sommer vroeg-oggend reeds dronk is!

Dan staan Petrus op, met die outoriteit as ambassadeur en getuie van die Koninkryk van God wat hier besig is om sigbaar te word, en sê: Nee, dit is nie waar nie! Wat hier aan die gebeur is, is dit wat God reeds lankal voorheen profeteer het deur die profeet Joël!

Jy weet wat die uiteinde van hierdie skermutseling was: Meer as 3000 mans (en heelwaarskynlik net soveel vroue en kinders ook) het daar tot bekering gekom en is gedoop op daardie selfde dag!

As jy al ooit gewonder het oor hoe dit lyk as die Koninkryk kom, dan het jy hier ʼn uitstekende prentjie daarvan!

Maar waar die Koninkryk besig is om deur te breek, moet ons nog skermutselings verwag, en dit is presies wat hierna in Jerusalem gebeur het.

Die volgende een gebeur sommer kort daarna, wanneer die Sanhedrin die Ekklesia, of nuwe familie van Jesus, daar in Jerusalem aanvat.

Dit is geweldig belangrik om te verstaan dat wanneer die Koninkryk inbreek in hierdie wêreld van ons, een van die eerste en gevaarlikste magte wat opstaan, juis godsdienstige sisteme sal wees!

Of dit nou die sisteme in Judaïsme is, soos die Sanhedrin, of fanatiese Moslems is wat Christene wil doodmaak, of selfs – hou vas jou stoel – kerksisteme soos sinodes en kerkleiers is, maak nie eintlik saak nie! Dit was so in die tyd van Jesus en dit was so in die tyd van die vroeë gemeentes!

Hand. 4

Gaan en lees nou self oor Hand. 4 se skermutseling sommer daar in jou eie Bybel.

Dan gaan jy verstaan waarom daar kort daarna ʼn punt sou kom waar die paaie tussen die Ekklesia en hierdie godsdienstige sisteme moes skei.

Sien, of hulle gaan jou, en die familie van Jesus, daar uitjaag, of jy gaan hoor hoe die Gees vir jou sê: Kom uit haar uit!