Mens-gemaakte torings van Babel moet val voor die Koning van alle konings

Kairos tyd Kairos tyd

Lees Hand. 2

Ek moet jou waarsku: Hierdie slukkie nuwe wyn gaan heelwaarskynlik ʼn hele klompie van julle laat stik!

Maar ek kan nie anders nie, as deel van die volledige boodskap oor die koms van die Koninkryk, moet ek ook hieroor praat!

Vriende, ek wil die stelling wat ek in die vorige gedeelte gemaak het, op elkeen van julle se tafel kom neersit om saam met my te toets in die lig van die Skrif en spesifiek in die lig van God se Koninkryk wat kom.

Hier is daardie stelling weer ʼn keer:

“Dit is geweldig belangrik om te verstaan dat wanneer die Koninkryk inbreek in hierdie wêreld van ons, een van die eerste en gevaarlikste magte wat opstaan, juis godsdienstige sisteme sal wees! Of dit nou die sisteme in Judaïsme is, soos die Sanhedrin, of fanatiese Moslems is wat Christene wat doodmaak, of selfs – hou vas jou stoel – kerksisteme soos sinodes en kerkleiers is, maak nie eintlik saak nie! Dit was so in die tyd van Jesus en dit was so in die tyd van die vroeë gemeentes!”

Besef jy dat dit juis die Joodse godsdienstige leiers was, wat die Skrifte van die Ou Testament geken het, wat Jesus teëgestaan het, en Hom uiteindelik doodgemaak het!

Na Jesus se Hemelvaart, het die vyand hierdie selfde groep en ander faksies uit die godsdienstige Joodse gemeenskap gebruik om die koms van die Koninkryk te probeer stuit, te vervolg en selfs dood te maak.

Totdat God self hulle vervolging gebruik het as ʼn duidelike aanduiding uit die hemel dat Sy mense, die Ekklesia, “uit haar uit moes kom”.

Ons sien dus letterlik twee scenario’s voor ons afspeel:

Aan die eenkant sien ons die profesie van Openbaring 12 afspeel, van die draak wat besig is om die vrou en “haar ander nakomelinge wat God gehoorsaam en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het,” vervolg het.

“Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

Aan die anderkant was God self besig om Sy Koninkryk te laat kom.

Kom ons gaan luister net weer wat God se Gees openbaar oor die tydperk tussen Jesus Christus se opstanding en Hemelvaart, en dan Sy wederkoms reg aan die einde.

1 Kor. 15:24 tot 28 sê gedurende hierdie tydperk gaan Jesus Christus, as die Koning…

• Elke mag, elke gesag en krag vernietig wat Hom nie ten volle erken as die Koning en Here nie

• En moet Hy as koning heers gedurende hierdie tyd totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

Ek wil jou nou nie vermoei met ʼn stuk “kerkgeskiedenis” nie, maar as ons gaan kyk wat met en rondom die ware Ekklesia van Jesus gebeur het, veral sedert die tyd van Keiser Konstantyn, sien ons hoe die vyand reg gekry het om deur allerhande wette en kerklike besluite die Ekklesia te dwing om net in spesiaal-geboude geboue byeen te kom, en dan net alleenlik as “hulle gelei word” deur “spesiaal opgeleide geestelike leiers”.

Ek wil nie eers praat oor hoe mense deur die staat en “kerk” gedwing is om hulle baba-kinders te “besprinkel met water” (wat die “doop” genoem is) om so “deel te word van die kerk” nie.

Die “pous”-verskynsel is gebore, “ongehoorsame groepies gelowiges” wat nie presies in die spoor van “kerklike” besluite en “kerklike geloofbelydenisse” geloop het nie, is vervolg.

Uiteindelik het die vyand dit reggekry om mense in die “kerk” te gebruik om die Ekklesia stelselmatig te begin “stukkend sny” en te verdeel in allerlei kerksisteme en denominasies. Alles onder baie mooi voorwendsels en reg-klinkende kerklike besluite, “in diens van die waarheid”, of so is gesê.

Tussen dit alles deur, het die tragiese geskiedenis van die vervolging van die ware Ekklesia plaasgevind, weereens, alles “in diens van die waarheid”, of so is gesê.

Dink maar net aan die verskriklike vervolging van “die protesterende gelowiges” in tye van die Reformasie, maar miskien nog erger, die geweldige vervolging van gelowiges wat oortuig was dat die praktyk om babas te besprinkel met water, nie die Bybelse doop was of kan wees nie.

Dit bring ons tot vandag waar ons sit met, sê die mense wat sulke dinge tel, meer as 40000 (ja, veertig duisend!) sogenaamde “verskillende kerke en denominasies” oor die wêreld, waarin die een Liggaam van Jesus, tussen allerhande soorte “kerkmure en kerklike belydenisse” vasgevang sit, en van waar hulle ander gelowiges, wat ook deel is van die ware Ekklesia, beskou as “opposisie”, wat oorgehaal moet word om “by hulle spesifieke kerk” te kom aansluit, voordat hulle as lede van die “ware en regte kerk” gereken kan word!
Verstaan jy nou waarom ek oortuig is dat hierdie mensgemaakte kerksisteme se mure afgebreek moet word of selfs moet val waar die Koninkryk van God werklik kom!

Wat sê die Gees van God vir jou in die verband?