As God in die “kerke” begin werk om die Ekklesia te herstel

water water

Ek het al baie keer vir jou gesê dat ek oortuig is dat die Heilige Gees besig is om ons hele prentjie van die ware Bybelse Kerk of Ekklesia te verander en te herstel.

In die verband het ek hierdie prentjie gesien.

Orals oor die aarde het hierdie klein of bietjie groter poeletjies water gestaan.

Eens, lang terug, daar in die begin van die vroeë gemeentes van Handelinge, was dit ʼn rivier lewende water wat deur die hele wêreld gestroom het. Maar toe, oor die jare, het “kerkmense” vir allerlei redes, begin om versperrings op te rig en die water oral te blokkeer en op te dam.

Nou staan hierdie poele water oral en omdat God gedurig reën gee, is daar oral steeds lewe, alhoewel, as ons eerlik ʼn in diepte-ondersoek sou doen, sou ons baie tekens van stagnasie en selfs ernstige vergiftiging in baie van hierdie damme vind.

Oral vind ons ook van God se mense wat probeer om mense wat nog nie in ʼn poeletjie êrens is nie, in so ʼn poeletjie te kry sodat hulle daar bedien kan word.

Met ander woorde, hulle neem “ongelowiges” en “kerklos mense” “kerk toe” om teenoor hulle “te getuig” en hulle “deel te kry van die kerk van Jesus”.

Kyk ek en jy na die groter prentjie, sien jy dat alhoewel so ʼn derde van die mense op aarde êrens in een van die dammetjies lê, is selfs ʼn derde tot twee derdes van hierdie “kerkmense” in werklikheid geestelik dood en dryf hulle maar net daar op die oppervlakte.

Die tragiese is egter bykans 70% van die res van die mensdom so ver as moontlik wil wegkom van hierdie dammetjies en hierdie “kerk-mense” af!

Dan sien ek egter God se hart raak en ek sien Sy prentjie raak wat Hy vir die profeet Esegiël gewys het daar in Eseg. 47.

Esegiël 47

Onthou jy nog wat Hy vir Esegiël gewys het?

Dit is so aangrypend dat ek vir jou die hele gedeelte hier gaan aanhaal.

Mediteer en bid daaroor en hoor wat die Gees van God vir jou in die verband sê:

“Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.

Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit.

Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep.

Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom.

Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water ‘n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat ‘n mens sou moes swem; dit was ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kon loop nie.

Die man sê toe vir my: ‘Sien jy dit, mens?’ Hy laat my toe al langs die stroom terugstap.

Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.

Die man het vir my gesê: ‘Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word.

Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe.

Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal ‘n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.

Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly.

Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Volgende keer vertel ek vir jou van ʼn ander prentjie van hierdie rivier in die Bybel.