God se prentjie van Sy Ekklesia in hierdie wêreld

Rivier van God Rivier van God

 

Verlede keer het ek vir jou die profetiese prentjie van die rivier van Eseg. 47 gewys wat al die derduisende poeletjies water wat oral gestaan het (in my prentjie) wonderbaarlik begin opvul en met mekaar verbind het toe ʼn stroom lewende water uit die hemel (God se Gees se werking) deur hierdie wêreld van ons gevloei het.

Openbaring 21:22-22:5

Daar in Op. 21:22 tot 22:5 sien ons ʼn soortgelyke profetiese prentjie. Ek wil dit weer vir jou in geheel aanhaal, want ek wil hê dat jy self fyn luister na die Here se stem wat hierdeur met ons praat oor Sy Ekklesia en ons rol in die wêreld.

Dit is ook belangrik om te onthou – om hierdie profetiese prentjie reg te verstaan – dat bykans 80% van die wêreld se bevolking tans in stede woon!
“’n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan.

Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie.

Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.

Niks onreins en niemand wat iets losbandig en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.

Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.

Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien.

Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.

Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.”

Is al hierdie metafore wat gebruik word om God se Ekklesia en hulle rol in hierdie wêreld te teken, nie ook vir jou aangrypend nie!

Dat ons soos een rivier lewende water deur die stad sal vloei en lewe oral aan almal sal bedien.

En dan hierdie prentjie van hoe God se teenwoordigheid onder ons en in ons lig sal wees, maar ook soos ultra-violet lig sal wees, wat alles wat sieklik en dodelik giftig is, sal vernietig en gesond sal maak.

Deur ons teenwoordigheid “in die stad” staan die Boom van die lewe letterlik in die stad, waar die “nasies” genesing kan vind.

Omdat God self, Jesus, op die troon sit in hulle lewe, dien (in die sin van “aanbid”, soos in die woord “worship”) Sy Ekklesia Hom 24/7, of hulle eet of drink, of wat hulle ook al doen (soos 1 Kor. 10:31 of soos Kol 3:23 dit sê: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”)
Volgende keer gesels ek met jou oor hierdie prentjie in praktyk.