Print this page

Dag 8 – Daarom kan ons met vrymoedigheid bid: Ons Vader wat in die hemel is ...

 

Hy is jou Pappa-Vader

Ek wil hê ons moet vandag begin waar ons gister geëindig het, naamlik daar op die Here as ons Hemelse Pappa, se skoot met Sy arms om ons.

Ja, ek weet dat dit dalk vir party van ons makliker is om ons dit voor te stel en om dit “te kan sien” terwyl dit dalk vir ander van ons moeilik is om dit “te sien” of selfs om dit te ervaar.

(En ek gaan nie vandag gesels oor waarom dit vir party van ons maklik en vir ander moeiliker is nie. Kom ek sê net dit: daar is redes waarom dit so is. En miskien moet jy ʼn slaggie met iemand wat jy vertrou hieroor gaan gesels.)

Maar vandag wil ek vir jou vra om te kies om dit te glo wat hierdie God vir ons in Sy Woord sê. Jy het immers reeds agt dae tot hier saam met my gestap met die Bybel as geïnspireerde Woord van God as ons toets vir waarheid.

In my eie lewe het ek geleer dat om te glo wat God in Sy Woord sê, is altyd ʼn keuse wat ons moet maak. Al voel ons nie so nie. Al kan ons nie dit “voel” en “ervaar” wat ons gekies het om te glo nie.

Daar kom tye in ons lewe wat ons kies om dit wat God in die Bybel vir ons sê te glo, omdat dit juis die God van die Bybel is wat dit vir ons sê, en Hy kan nie lieg nie! Ek kies om te glo dat wat Hy sê, is die waarheid. Of ek dit nou voel of ervaar of nie!

Daarom wil ek vandag weer hê jy moet dit wat die Here vir jou in Johannes 1:12 en 13 gister gesê het, weer kliphard lees.

Ek sê dit altyd so: Ek moet dit wat God vir my in die Bybel sê kliphard vir myself lees sodat my gees en my siel (wat immers my brein, my emosies en my wil is) en my liggaam dit baie duidelik kan hoor!

Ja, daarom moet ek soms sekere verse ʼn hele paar keer vir my gees, siel en liggaam hardop lees!

En weet jy wat die wonder daarvan is: Ek het ontdek dat as ek dit lank genoeg, aanmekaar, vir myself so herhaal, dan gebeur daar mettertyd iets in my: Ek begin mettertyd ook iets beleef van die wonderlike Bybelse waarheid wat ek pas hardop gelees het!

Ja, ek begin om te voel en te beleef dat ek werklik God se kind is! En ja, dat ek as’t ware op Sy skoot kan sit en selfs Sy arms om my kan voel!

Daarom kan ek met vrymoedigheid ook begin bid soos Jesus ons geleer het... “Ons Vader wat in die hemel is ...” (Mat. 6:9 tot 13)